Bladsye / Pages

Friday, January 27, 2017

La la land

Damien Chazelle regisseur, met Ryan Gosling en Emma Stone

I
Aan die begin van The Pervert's Guide to the Cinema praat Slavoj Žižek, die psigoanalis, oor hoe films ons leer om liefde / begeerte te skep. Die rolprent La la land is enige psigoanalis se droom. Ofskoon dit handel oor Hollywood en al die kodes van die musical as genre gebruik (dancing in to song), behels die film veel meer. Dit is 'n rolprent wat die konstruksie van die self (die een hoofkarakter wil akteur word, die ander een musikant) ontleed.

Ook die konstruksie van die liefde, en in die besonderheid, ónvervulde liefde. Hierom dan die plakkaat van Ingrid Bergman (Casablanca) teen die einde van die film om te waarsku dat die droom dalk nie vervul gaan word nie?

Die titel aktiveer sowel Los Angeles as droomland of om nie met die realiteit in kontak te wees nie.

Die film werk met die kodes van die liefdesverhaal (boy meets girl) en daar is ‘n speelse verwysing na Parys, die stad van drome en die liefde waarheen die aktrise tydelik ontvlug. Sy keer terug, trou met ‘n ander man, raak ‘n moeder – en een aand loop sy weer (toevallig?) in die ou liefde se jazz-plek in waar sy hom sien optree. In sy fantasie beleef hy versoening.

Gaan hulle weer bymekaar uitkom, ja of nee?

Beide Gosling en Stone is bedrewe dansers. Hulle sing goed. Hy speel puik klavier. In die werklike lewe is hy ook musikant. Die sub-genre van die musical word eweneens geaktiveer. Die begin herinner aan West Side Story – en hier is die stemme gebruik van nie minder as Kiri Te Kanawa en José Carreras.

En Mamma Mia! met Meryl Streep kom eweneens ter sprake as ons dink aan goeie musicals.

II

La la land oes tans die een bekroning na die ander in. Wat hierdie kyker eerder interesseer (en boei) is die aktivering van die droomwerklikheid of fantasie. Die belangrike dokumentêr oor die Russiese filmmaker Tarkofski (regie deur Tarkofsky met Erland Josephson as die verteller) lewer belangrike kommentaar op hierdie aspek.

Filmmakers, volgens Tarkofski, wat eerder konsentreer op die droomaspek en ‘n unieke wêreld skep, is minder suksesvol as filmmakers wat ‘n storie vertel. Hy bly altyd deel van sy film, bely hy. Elke skoot, elke objek, elke aspek (selfs ‘n boom), oorweeg hy self. Anders gaan jou film verlore, soos dikwels in Hollywood-films gebeur waar die oorspronklike idee verlore gaan.

Daar word ryklik verwys na Sacrifice – waarin Josephson speel.

Hierdie film handel oor ‘n middeljarige intellektueel wat ‘n nuklêere ramp probeer verhoed deur met God te onderhandel. (Tarkofski, terloops was uiters spiritueel en dit was sy laaste film wat hy gemaak het voor sy ontydige dood en sy derde as Sowjet-ekspatriaat.)

Sy seun in die film is stom na ‘n operasie. (Hierteenoor is daar baie woorde en sang in La la land.)

Josephson was ook te sien in Nostalghia en het veral bekendheid verwerf as ‘n Bergman-akteur. Nou onlangs het ek weer na Scenes from a marriage, 1973 gekyk – met Liv Ullmann, Bergman se vrou – daardie verstommende analise van ‘n huwelik wat desintegreer oor ‘n periode van tien jaar, maar ook nie eindig nie. Tarkofski vermeld in die dokumentêr dat Josephson geen direksie nodig het nie; hy is ‘n uiters natuurlike, instinktiewe akteur. (En hoe meer ek na Tarkofski kyk, hoe meer is ek onder die indruk van sy werk. In hierdie stadium vind ek hom ‘n groter regisseur as Bergman weens die komplekse simboliek van sy films).

III

Bergman het in sy outobiografie na die filmkuns as ‘n magiese lantern verwys (Writings - Productions – Drupal. Besoek 26 Januarie 2017).

Wanneer ‘n film soos La la land ‘n mens inspireer om soveel ander tekste te betrek, dan gebeur daar meer as wat ‘n belewenis mag impliseer.


© Joan Hambidge