Bladsye / Pages

Friday, January 27, 2017

La la land

Damien Chazelle regisseur, met Ryan Gosling en Emma Stone

I
Aan die begin van The Pervert's Guide to the Cinema praat Slavoj Žižek, die psigoanalis, oor hoe films ons leer om liefde / begeerte te skep. Die rolprent La la land is enige psigoanalis se droom. Ofskoon dit handel oor Hollywood en al die kodes van die musical as genre gebruik (dancing in to song), behels die film veel meer. Dit is 'n rolprent wat die konstruksie van die self (die een hoofkarakter wil akteur word, die ander een musikant) ontleed.

Ook die konstruksie van die liefde, en in die besonderheid, ónvervulde liefde. Hierom dan die plakkaat van Ingrid Bergman (Casablanca) teen die einde van die film om te waarsku dat die droom dalk nie vervul gaan word nie?

Die titel aktiveer sowel Los Angeles as droomland of om nie met die realiteit in kontak te wees nie.

Die film werk met die kodes van die liefdesverhaal (boy meets girl) en daar is ‘n speelse verwysing na Parys, die stad van drome en die liefde waarheen die aktrise tydelik ontvlug. Sy keer terug, trou met ‘n ander man, raak ‘n moeder – en een aand loop sy weer (toevallig?) in die ou liefde se jazz-plek in waar sy hom sien optree. In sy fantasie beleef hy versoening.

Gaan hulle weer bymekaar uitkom, ja of nee?

Beide Gosling en Stone is bedrewe dansers. Hulle sing goed. Hy speel puik klavier. In die werklike lewe is hy ook musikant. Die sub-genre van die musical word eweneens geaktiveer. Die begin herinner aan West Side Story – en hier is die stemme gebruik van nie minder as Kiri Te Kanawa en José Carreras.

En Mamma Mia! met Meryl Streep kom eweneens ter sprake as ons dink aan goeie musicals.

II

La la land oes tans die een bekroning na die ander in. Wat hierdie kyker eerder interesseer (en boei) is die aktivering van die droomwerklikheid of fantasie. Die belangrike dokumentêr oor die Russiese filmmaker Tarkofski (regie deur Tarkofsky met Erland Josephson as die verteller) lewer belangrike kommentaar op hierdie aspek.

Filmmakers, volgens Tarkofski, wat eerder konsentreer op die droomaspek en ‘n unieke wêreld skep, is minder suksesvol as filmmakers wat ‘n storie vertel. Hy bly altyd deel van sy film, bely hy. Elke skoot, elke objek, elke aspek (selfs ‘n boom), oorweeg hy self. Anders gaan jou film verlore, soos dikwels in Hollywood-films gebeur waar die oorspronklike idee verlore gaan.

Daar word ryklik verwys na Sacrifice – waarin Josephson speel.

Hierdie film handel oor ‘n middeljarige intellektueel wat ‘n nuklêere ramp probeer verhoed deur met God te onderhandel. (Tarkofski, terloops was uiters spiritueel en dit was sy laaste film wat hy gemaak het voor sy ontydige dood en sy derde as Sowjet-ekspatriaat.)

Sy seun in die film is stom na ‘n operasie. (Hierteenoor is daar baie woorde en sang in La la land.)

Josephson was ook te sien in Nostalghia en het veral bekendheid verwerf as ‘n Bergman-akteur. Nou onlangs het ek weer na Scenes from a marriage, 1973 gekyk – met Liv Ullmann, Bergman se vrou – daardie verstommende analise van ‘n huwelik wat desintegreer oor ‘n periode van tien jaar, maar ook nie eindig nie. Tarkofski vermeld in die dokumentêr dat Josephson geen direksie nodig het nie; hy is ‘n uiters natuurlike, instinktiewe akteur. (En hoe meer ek na Tarkofski kyk, hoe meer is ek onder die indruk van sy werk. In hierdie stadium vind ek hom ‘n groter regisseur as Bergman weens die komplekse simboliek van sy films).

III

Bergman het in sy outobiografie na die filmkuns as ‘n magiese lantern verwys (Writings - Productions – Drupal. Besoek 26 Januarie 2017).

Wanneer ‘n film soos La la land ‘n mens inspireer om soveel ander tekste te betrek, dan gebeur daar meer as wat ‘n belewenis mag impliseer.


© Joan Hambidge

Wednesday, January 25, 2017

Woord wek woord en wederwoord

So elke sewe jaar tref daar ‘n plaag onse letterkunde soos ‘n pes. In die jongste een handel dit oor Tom Gouws se resensie van Indeks en H.P. van Coller se reaksie hierop. Hy meen dat Gouws dit nie mog resenseer het nie, aangesien daar ‘n satiriese gedig oor hom opgeneem is. Die gedig is geskryf nadat hy Matriks op die Versindaba “bespreek” het (Versindaba» Blog Archive » Resensie/ Matriks (Joan Hambidge). Besoek 24 Januarie 2017)

Sopas het Marius Crous gereageer op Media24 met ‘n meewarige repliek op hierdie debakel ('nSkalpel vir die vernislaag | Netwerk24. Besoek 24 Januarie 2017).

‘n Skalpel vir die vernislaag heet dit. Dis nou dieselfde Crous wat gemeen het Ena Jansen se boek moes die UJ-prys vir Kreatiewe Skryfwerk gekry het en dat Kaar die bundel is waaraan alle bundels voortaan gemeet sal word.

Nou is die rol van die resensent (wat ook skrywer is) ‘n ingewikkelde een. Mag vyande mekaar resenseer of nie? Mag vriende resenseer of nie?

Johann de Lange reageer op die man af op Crous onderaan sy skrywe soos volg:
Oor een ding stem ons saam: dat die Afrikaanse letterkunde 'n klein, bedompige ou wêreldjie is, & literêre geheime oksimorons. Maar juis dáárom moet ek die bona fides van 'n boekeredakteur wat nié weet op watter vasteland ons boer nie bevraagteken. Hoe kan hulle nie van alles weet nie, hulle is dikwels die spilpunte van waar skindernuus versprei word. Hulle is, after all, joernaliste in die eerste plek. En dis ook nie asof dit net by ons die toedrag van sake is nie, dit is wêreldwyd dieselfde. Trouens, hoe groter die letterkundes, hoe venyniger is die skaduwêreld ágter die blad: alliansies, vetes etc. En 'n boekeredakteur wat sy of haar sout werd is, behoort daarvan kennis te neem, & binne daardie beperkings te probeer toesien dat 'n boek 'n regverdige kans kry. Hoe kleiner 'n letterkunde, helaas, hoe moeiliker raak dit om soiets te vermag, want die poel van resensente krimp by die dag in een van die grootste literêre droogtes wat ons in 'n lang tyd beleef het. Ek is seker as Marius Crous se boek by een van sy aartsvyande sou beland het & baie onregverdig resenseer is, of afgeskeep is & sommer vir 'n in-house joernalis gegee is om te resenseer, sy begrip nie so wyd soos die Heer se genade sou gewees het nie.
As aktiewe resensent vir dagblaaie en die bekende Sondagkoerant Rapport met werk vir FineMusicradio, is dit onvermydelik om nié iewers op ‘n toon te trap nie. Ek probeer om my werk met integriteit te doen, al moes ek al uiterse beledigings verduur van ‘n digter (en resensent) wat by Die Volksblad ‘n ander resensie eis; my slegsê dat ek niks weet nie en boonop kreatiewe skryfwerk doseer; my onherhaalbaar beledig en vergelyk met ‘n onvermeldbare iemand …

Johann de Lange is korrek. Ons bedryf beleef ‘n erge droogte en die meeste kundiges weier om deel te neem.

Ons bedryf is klein. En as jy elke keer wanneer jy ‘n resensie skryf, jouself moet sensureer oor die of daai se reaksie en Facebook-groeperinge, kan jy maar eerder laat staan om te skryf. Jy gaan op iemand se toon trap. Die skrywer of uitgewer of koerantleser of wieookal.

Die volgende is vir my belangrik:


  Ek resenseer nie studente wat in my program is nie en versoek studente ook om mekaar eerder nié te resenseer nie, omdat dit kan lyk na rugkrappery.


  Ek probeer om elke skrywer in sy genre in te skat. Ek lees nie Deon Meyer asof hy Kafka is nie.


  Ek lewer altyd my kopie betyds met die woordbeperking vereis.


  Wanneer ek dink ‘n skrywer se bundel is nie goed nie, probeer ek dit motiveer soos met Multivers van Hennie Smith wat ek via Archibald Macleish probeer lees.


  Ek skei die skrywer van die boek. Ek is nie persoonlik gaande oor Deon Maas nie, maar sy satires in Melk die heilige koeie werk as satires.

Daar mag nooit geëis word dat vyande mekaar nie mag resenseer nie. ‘n persoonlike aanval is in elk geval ‘n boemerang en gee vir die digter aan die ontvangkant ‘n idee vir ‘n counter-blast soos Marjorie Boulton dit noem.

‘n Resensent met ‘n resep (mooi broodjies word gebak en dan die venynige aanval of ideologiese lading wat op die bundel afgedruk word van buite af, soos die digter se religieuse houding of liefde vir katte) verswak net die resensie.

Dit is beter om op die temas van ‘n bundel te let en die struktuur van die roman as ‘n blote romanopsomming.

As daar geen kritiese en eerlike reaksie was nie, hoe sou ons dan ‘n literatuurgeskiedenis of ‘n Perspektief en Profiel kon skryf?

Tyd wys altyd dwalinge uit. 

Ek plaas altyd onder my resensies dat ek kreatiewe skryfwerk doseer. Ek is self digter en romanskrywer. My smaak en voorkeure is in die resensie gemotiveer.

As ek verskil van ‘n resensent of kollega soos byvoorbeeld met ‘n oorskatting van ‘n debuut (Boekresensie/ Multivers deurHennie Smith | LitNet. Besoek 24 Januarie 2017) lees ek weer die bundel. As my oordeel verkeerd was, sal ek dit toegee.

Ek resenseer al sedert 1980. Dit hou my op my tone en dwing my om te weet wat in my letterkunde gepubliseer word en hoe ons vergelyk met die buitelandse bedryf.

Ek probeer ook om ‘n boek te plaas teen internasionale strominge.

Fokus op boeke, tendense – te veel mense in ons bedryf lees net resensies. 

Hopelik wil meer akademici resenseer?

‘n Skrywer reageer nie op ‘n resensie nie. Maar hoe nou gemaak as jy midde-in ‘n gesprek is?

© Joan Hambidge