Hester Kruger - Een nag en 'n bietjie. Human &
Rousseau, 2016. ISBN: 9780798174152
Resensent: Joan Hambidge
Die subtitel van hierdie teks is
“gebaseer op ‘n ware verhaal” en hierdie leser het bewus geraak van ‘n
televisie-onderhoud met die skrywer en een laat nag ‘n ontroerende onderhoud
gelees. Dit is ‘n teks wat handel oor die werklikheid wat almal al eerstehands
beleef het, of op hoorsê ervarings berus: die aanval of moord of ontvoering of
rooftog van ‘n vriend of familielid. Almal van ons ken iemand wat al
gewelddadig aangerand is. Of vermoor is.
Een nag en ‘n bietjie handel oor
Margaretha se vertelling van haar en haar man se belewing van ‘n ‘n rooftog en
ontvoering op ‘n plaaswoning tussen Middelburg en Groblersdal. Hulle oorleef
dit – en hierdie boek moet dan gelees word binne die kader van
trauma-letterkunde. Op die agterblad word dit aangeprys deur Antjie Krog wat
dit ‘n “buitengewoon meesleurende leeservaring” noem en Elmari Rautenbach wat
duidelik emosioneel op die boek gereageer het.
Mike Cruywagen se omslag van ‘n
plaaswoning is presies soos dit lyk in daardie wêreld: strak, sober, sonder
fieterjasies. Die natuur soos die mense is sterk.
Dis ‘n dun boekie, maar die
implikasies van hierdie teks het ‘n enorme reikwydte.
Die aanval word gesinkopeer met
jeugherinneringe en vriendskappe met swartmense. Die jeug was ras-loos en daar
was goeie verhoudings met swart mense. Die verteller aktiveer die vrees vir
verkragting deur ‘n terugspel met ‘n jeugdige seksuele ervarings met ‘n swart
seun. Telkens tydens die aanval, is daar die vrees vir verkragting – wat
simbolies beskryf word: “Sy en die bed is uitgespaar” (50).
Die terugflitse gebeur
assosiatief en die leser kan telkens die tydspronge hanteer, bykans soos met
die montage-tegniek in ‘n film waar terugflitse die hede verduidelik soos in
Nicolas Roeg se film Bad timing
(1980) waar die letterlike oopsny van Milena se keel na haar selfdoodpoging
saamspeel met die herinnering van haar minnaar, Alex se aandadigheid.
In hierdie roman is ons binne-in
die kop van die verteller en haar binnespraak is die fokus vir alles wat met
haar en haar man gebeur het. En altyd sal voortbroei in die herinnering en
gemoed.
Die vrou in die verhaal weier om
'n eensydig-rassistiese interpretasie te maak van die gegewe. Ten spyte van
uitkenningsparades en kontak met ander mense, wat deur dieselfde hel gegaan
het, bly sy positief. Waarskynlik haar jeugervarings met Lerato en Mpho? Die
redes vir haar manier van verwerking is gebou op 'n bepaalde lewenssiening.
Dit moet uiteraard saamgelees
word met Antjie Krog se Relaas van 'n
moord (1995), 'n teks wat eweneens aanspraak maak op die werklikheid, maar
die gegewe fiksionaliseer.
Veral twee klassieke tekste doem
voor die geestesoog op en is in hierdie vertelling ingebed: Disgrace (1999) van J.M. Coetzee en
Robert Pirsig se Zen and the Art of
Motorcycle Maintenance (1974).
Elke stukkende onderdeel in haar
gemoed is dus metodies uitgehaal en met 'n nuwe een vervang.
Ook Jostein Gaarder se The Ringmaster's Daughter (2001) wat as
motto en dus as vertrekpunt sig aanmeld.
Rekolleksie, herinnering, onthou
- dit word 'n relaas van oorlewing. Die boek word opgedra aan Mpho Mokwena
(1942 - 1961) en Lerato Maponyane (1946 - 2014).
"Is daar dan iets soos
dooier as dood?" (57).
Dit is 'n boek van oorlewing. Daar
is dan ook iets lewendiger as die lewe, self: 'n boek wat aan ander mense se
pyn woorde en vertroosting bied.
Pirsig se verhaal is 'n
"quest"-roman. Hierdie teks is 'n psigiese een.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)