Bladsye / Pages

Thursday, September 22, 2016

Studenteopstande en Lacan


Met verlede jaar se studenteopstande het ek verwys na Jacques Lacan. 'n Paar grimmige respondente op Facebook het gevra: wat het Lacan te make met studenteopstande?

Verder is dit ook skokkend dat een van die respondente 'n dosent in Sielkunde is.

Lacan se siening van die Paryse opstande in 1968 is op verskillende maniere tersaaklik vir wat ons nou beleef in Suid-Afrika. Dit was toe én nou 'n tyd "wat die klippe geloop het" en volgens Lacan was die afbreek van hiërargiese strukture beduidend vir die hele poststrukturalistiese beweging in die sosiale wetenskappe en literatuurteorie.

Literatuurteorie verklap altyd 'n tydsgees. Kyk onder andere na die aantal distopiese romans wat tans in Afrikaans gepubliseer word, soos Lien Botha se Wonderboom.

John Searle se seminale studie The Campus War - A sympathetic Look at the University in Agony (Penguin, 1972) verraai dieselfde simptome as wat ons tans beleef. En het Lacan nie iewers opgemerk dat 'n mens 'n simptoom net in die toekoms kan beleef nie?

Beduidend is dit om te vermeld dat Lacan tydens die 1968-opstande, wat sowel studente as werkers opgesweep het, vier diskoerse geanaliseer het, te wete die diskoers van die meester; die diskoers van histerie; die Universiteit en die analis.

Lacan het ook ontmoetings gehad met Daniel Cohn-Bendit, net soos ons owerhede in gesprek tree met studente. Werklike rewolusies begin met idees, maar spoel altyd oor na die werklikheid. In Frankryk het die étudiants en travailleurs saamgesnoer. Net soos tans waar die werkers bondgenote van die studente word, en andersom.

Lacan se ondersteuning van die studenteopstande het gelei tot skerp reaksie. Sy beroemde seminare is gekanselleer en hy moes dit na ander ruimtes verskuif om sy studente en gespreksgenote (soos Julia Kristeva en Phillipe Sollers) te akkommodeer. Dit is verskuif van die Geesteswetenskappe na die Regsfakulteit by die Place de Panthéon.

Tans word klasse opgeskort. Sommige dosente sien studente in ander ruimtes en probeer met die werklading voortgaan. Die meeste dosente is egter despondent en onseker oor waarheen alles sal lei. #Fees must fall is meer as 'n universiteitsprobleem, ofskoon dit alles afspeel op kampusse waar lesings verlede week onderbreek is in die A.C. Jordan-gebou (Arts Block) met loeiende brandsirenes.

Ironies genoeg het my lesing die oggend gehandel oor Louw se "Klipwerk" en die soeke na 'n leesstrategie vir hierdie volksverse.

Die belofte dat daar geen verhoging van klasgelde sou wees nie, is ook deur die meeste studente gesien as 'n belofte daar geen klasgelde betaal gaan word nie.

Politici maak onverantwoordelike stellings soos sluit die universiteite vir ses maande, vergetend dat universiteite alleen subsidies ontvang op die getalle wat in 'n jaar voltooi is. Die minister van onderwys het die warm patat teruggegooi na universiteite wat alreeds sukkel om die boeke te laat klop met die sogenaamde "austerity measures" en die aanbod van pakkette aan diegene wat bereid is om vroeg af te tree.

Volgens die jongste ranglyste van universiteite staan die UK (UCT) op 148 (wat beteken ons het met 28 plekke gesak) en die US is in die groep 401-500 teenoor die 301-350. Wits het wel gestyg na 182. Ons weet hierdie ranglyste is nie in klip gebeitel nie, maar dit is wel só dat die persepsie van buite nie goed lyk vir ons universiteite nie.

Kollegas is ook genoop om 'n of/of-posisie in te neem en kollegiale verhoudings is tans stroef. Die owerhede sit vasgevang tussen duiwel en die diep blou see. As hulle enigsins verwys na die polisie of sekuriteitsbeamptes van buite die universiteit, voel sekere dosente dat dit die struggle-jare en traumas van daardie tyd "trigger".

Wat gemaak met 'n dreigement dat daar alleen geluister sal word as UCT brand? Of 'n biblioteek in vlamme opgaan?

Kunswerke is reeds verlede jaar "toegemaak", omdat sekere mense dit as aanstootlik en kolonisties ervaar het. Diane Victor en Breyten Breytenbach se kunswerke is hierby ingesleep, ofskoon dit meesterdiskoerse dekonstrueer en bevraagteken.

Be realistic, demand the impossible, was in 1968 met spuitverf op brûe aangebring. En tans is die eise van geen klasgelde eweneens 'n onrealistiese eis. De Gaulle is net met Zuma vervang.

Watter name vervang Rudi Dutschke, Alain Krivine, Jacques Sauvageot en Daniel Cohn-Bendit?

Wanneer word 'n studenteopstand onaanvaarbaar in die plundering van eiendom en die ontkenning van mede-studente se reg om wel klas te loop en biblioteke te besoek?

Miskien is dit gewens om terug te keer na 'n meesterdiskoers en om diegene wat hulself bevind in histerie daarop attent te maak dat ons soos die toekoms van hierdie land onberekenbare skade berokken met hierdie optrede.

Laat ons eerder buite blokkies van ras en bevoorregting (of gewaande bevoorregting) dink aan 'n manier om saam 'n oplossing te vind en opofferings te maak.

Slagspreuke gaan ons nêrens bring nie. Rhodes is verwyder. Die universiteit moet gedekoloniseer word.

Laat ons eerder nadink oor die vier diskoerse en hoe dit saamhang.

 © Joan Hambidge