Bladsye / Pages

Monday, September 28, 2015

Perspektief & Profiel – H. P. van Coller, Red. (2015) - Deel 2



Perspektief & Profiel – H. P. van Coller, Red. Van Schaik: Pretoria, 2015. ISBN 978 0 627 03104 5

Resensent: Joan Hambidge

Die uitstekende en uitgebreide inleiding van Henriette Roos gee ’n deeglike oorsig van tendense en sleuteltekste binne die Afrikaanse prosa.

Roos het haar deur die jare bewys as een van die gedugste lesers van die Afrikaanse prosa. En in hierdie bespreking is daar jonger literatore wat hul man staan teen die ouer, meer gevestigde literatore wat die hele proses van kanonisering en herkanonisering illustreer.

Rachelle Greeff word goed ingeskat deur Thys Human op ’n sobere, akademiese wyse. Hy wys op die kortkuns, rubrieke, romans en dramatekste en hoe verskillende genres op mekaar steun en mekaar amplifiseer. Greeff se beste bydrae, indien ’n mens tussen die lyne lees, is die kortverhale en uiteraard haar dramateks Die naaimasjien, wat Sandra Prinsloo haar eie gemaak het.

Human se profiel oor André P. Brink bied stof tot nadenke. Hy wys op die besondere strukturele beheer teen die kritiek wat dikwels net vassteek op die aanbod in hierdie skrywer se werk, naamlik geykte uitbeeldings van vroue en tematiese herhalings. Oor die polemiek rondom die gewraakte toekenning van die beurs aan Brink en die daaropvolgende satirisering van sy kritici in die roman is Human uitgesproke. Brink se geloofwaardigheid as kampvegter vir die enkeling se “nee” en “inteendeel” is hiermee ’n ernstige knou toegedien.

Wat eweneens relevant is in hierdie lang bydrae is hoe buitelandse kritici se mening verskil van binnelandse lesers, onder andere Mario Vargas Llosa wat Adamastor as ’n unieke boek ervaar het. (Nuwe navorsing behoort die verskille tussen die buitelandse en binnelandse resepsie te ondersoek.)

Die profiel word van nuttige noemers voorsien (”Die salwende mag van stories”, “Van stiltes en stemme”, “Anderkant swye”, “Mise en abyme”, ensomeer) wat die ontwikkeling in die oeuvre aantoon. (Daniel Hugo se naam word verkeerdelik met ’n deelteken geskryf, terloops.)

P.A. du Toit karteer die komplekse landskap van die veelkantige Hennie Aucamp: gerekende kortverhaalskrywer, digter, kabarettis, skryfmentor, meditatiewe skrywer (Pluk die dag), aforis, dagboekhouer, reisjoernaalhouer, skrywer van fabeltekste en egodokumente . 

Hy merk tereg op dat Aucamp se dagboeke benader kan word as ’n werksessie van die skrywer. Andries Visagie gee ’n ander perspektief op Aucamp. Hy begin met die egoliteratuur van die skrywer sedert 1998. Hy begin sy profiel met Beeltenis verbode: Bespiegelinge oor egodokumente en biografieë wat in 1998 verskyn het. En dit is die merkwaardige bydrae van Aucamp se werk. Benewens as gerekende skrywer, was hy ook wegbereider en teoretikus wat die aard van sy genre kon verduidelik en oopmaak vir die leser.

Wanneer ’n skrywer dus sy eie werk verduidelik of begelei, word hy uiteraard deel van die kanoniseringsproses. In hierdie opsig sluit Aucamp dan aan by die ryke tradisie in Nederland by onder andere Gerrit Komrij, eweneens kanoniseerder en essayis.

Daar is reeds in ’n vorige bespreking verwysing na Phil van Schalkwyk se profiel van Pirow Bekker. Hierin wyk hy af van die chronologiese benadering. Hy verkies die sirkelgang en die terugkeer na motiewe in sowel die digkuns as die prosatekste.

Heilna du Plooy skryf oor Henriette Grové wat in 2009 oorlede is. Vir my bly Jaarringe een van die belangrikste kortverhaalbundels nog: struktureel veral in die onderliggende samehang tussen verhale. Du Plooy begin haar stuk met ’n belangrike aankondiging: Soek tussen spieël en eggo.

Om ’n outeur te lees wie se werk meer as 40 jaar oorspan, vra geweldige insig en deursettingsvermoë en Du Plooy gee eweneens belangrike kodes vir die lees van hierdie prosateur en dramaturg se oeuvre. Sy beskou Die kêrel van die Pêrel as die hoogtepunt in haar oeuvre en verduidelik presies waarom sy so dink.

Grové se siening van die gewaande Vryheid van die skrywer, word ook onder die loep geneem. Omdat mense sekerhede verloor het, word skrywers dikwels vir hulle ’n soort Messias. Skrywers het egter nooit die antwoorde nie en ’n resensent het by geleentheid oor haar werk geskryf dat dit Bybelse resonansies sonder Bybelse troos bied (867).

Skrywers het nie antwoorde nie; net vrae. In hierdie deeglik besinnende profiel word ’n mens opnuut bewus van Heilna du Plooy se belangrike werk en hoe eerlik sy ’n skrywer inskat.

Sy verwys tereg na die oorstilering in die tekste (“oorversorg”), maar vir my gevoel is dit dikwels juis hierdie aspek wat die kortverhaaltekste wat tans verskyn so vergeetbaar maak.

Tyd is die gedugste kanoniseerder. Die werk van Eleanor Baker – wat veral deur die kritikus André P. Brink as belangrik geag is – word deur Dorothea van Zyl beskou. (Van Zyl noem dit tereg “lofsange”.) Aanvanklik misken, selfs skerp gekritiseer, totdat Brink gewys het op die sogenaamde postmodernistiese elemente, het gelei tot ’n bepaalde posisie binne die kanon. Sy word steeds gelees, meen Van Zyl.
Vir my is die een teks wat bly staan ongetwyfeld Morketiden.

Dorothea van Zyl betrek in haar stuk die relevansie van literatuuropvattings en die spanning tussen sogenaamde “middelmoot”-letterkunde en ernstige tekste.


Dat haar werk wel genietlik is, val nie te betwyfel nie. Maar hierdie leser is onseker of sy werklik vergelykbaar is met Dalene Matthee. En of sy die “digtheid en gewildheid” van die pomo-teks werklik deurvoer, val te betwyfel wanneer ’n mens terugkyk op haar werk vandag.

(Lees Deel 1 vir 'n oorsig oor die poësie).

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)