Bladsye / Pages

Saturday, September 12, 2015

Perspektief & Profiel – H. P. van Coller, Red. (2015) - Deel 1



Perspektief & Profiel – H. P. van Coller, Red. Van Schaik: Pretoria, 2015. ISBN 978 0 627 03104 5

Resensent: Joan Hambidge

Die subtitel van Perspektief & Profiel heet ‘n Afrikaanse literatuurgeskiedenis, en nie die Afrikaanse literatuurgeskiedenis nie. Literatuurgeskiedenisse is lankal nie meer monumente nie, maar word eerder beskou as resepsie-geskiedenis. Die hewige polemiek in die tagtigerjare tussen Cloete en Kannemeyer het onder meer gehandel oor die onmoontlikheid van ‘n eenman-literatuurgeskiedenis. In ‘n sekere sin is Perspektief & Profiel dan regstellende aksie en ‘n poging om verskillende stemme te hoor.

Onder die redakteurskap van H. P. van Coller is Deel I in die Tweede uitgawe nou met ons. 

Bekende en minder bekende literatore het deelgeneem aan hierdie belangrike teks waarsonder geen dosent kan klaarkom nie. Ons bekyk nou A – G (Aucamp tot Henriette Grové).

Die inleiding van die redakteur nooi ook gesprek en kommentaar uit. Bekende skrywers wat sopas naam gemaak het, soos Willem Anker, sal dus moet wag vir ‘n volgende uitgawe om hier gekanoniseer te word. Ondertussen is daar pryse en resensies wat deelneem aan die kartering van belangrike boeke.

Vir die doeleindes van hierdie bespreking sal my fokus wees veral op die digters wat opgeneem is: Aucamp, Pirow Bekker, Peter Blum, Boerneef, Breytenbach, Eveleen Castelyn, Jan F. E. Celliers, T. T. Cloete, Sheila Cussons, Johann de Lange, I. L. de Villiers, I. D. du Plessis, Louis Esterhuizen, Elisabeth Eybers, Jeanne Goosen en Tom Gouws.

Kom ons begin met die mindere bydraes: die stuk gewy aan I. L. de Villiers deur Jacomien van Niekerk is ideologies gelaai en bly in gebreke om die digter se lewe (en wat sy meen sy ideologie was) te skei van sy gedigte. Waarom moet die digter die “godgegewe orde” van die Gereformeerde teologie uitdaag? ‘n Gedig kan goed wees sonder om polities korrek te wees.

Marthinus Beukes en Jan Buscop se inskrywing oor Tom Gouws se aansluiting by ander geestelike digters word uitgewys met die oënskynlike dieper dimensie wat aangeneem word (816). ‘n Hoogs omstrede stelling, gedagtig aan die ryk mistieke verse van Sheila Cussons. Hier word ElijahAfrica, die bedieningsnetwerk waarvan Gouws die hoof is, waarskynlik ingelees. Gouws is ‘n geestelike digter ja, maar hy het bepaald nog nie die hoogtes van T. T. Cloete bereik nie. En dan is daar gewis sterker bydraes.

Daniel Hugo was die regte leser vir Aucamp se gedigte. Albei hierdie digters werk met sterk, vormvaste beginsels. Hoekom is Aucamp so onderskat as digter? Is dit omdat ons nie wil aanvaar dat skrywers verskillende genres ewe goed kan beoefen nie? Hugo smokkel ook vir Ronnie Belcher hier in, daardie onderskatte speelse digter in Afrikaans.

En hoe moeilik dit is om ‘n oorsig te skryf oor ‘n veelkantige skrywer, word bewys deur Phil van Schalkwyk se bydrae oor Pirow Bekker. Van Schalkwyk wys dan ook daarop hoe moeilik dit is om ‘n greep te kry op so ‘n skrywer en dat die relatief min kritiese reaksies op sy werk hom genoop het tot ‘n nuwe inskatting. Moontlik, meen Van Schalkwyk, is die gevarieerdheid en ingewikkeldheid van sy werk iets wat ‘n rol speel iets wat navorsers ontmoedig? Of dalk ook sy rol as iemand wat buite modes of klieks staan? In sy besinning gee Van Schalkwyk ‘n komplekse en geïntegreerde lesing van die oeuvre en tree hy so in gesprek met ander kanoniseringspraktyke wat eerder chronologies of genre-gebaseer is.

‘n Uitstekende stuk is Heinrich Ohlhoff se lesing van Eveleen Castelyn. Dit is egter so deeglik en lank dat dit ‘n skeefgetrekte beeld gee van haar posisie binne die kanon, my waardering vir haar werk ten spyt.

Hierteenoor is Bernard Odendaal uiters insigryk oor die omstrede figuur Peter Blum. Die energie in die gedigte met die dinamiese ewewig waarin ‘n veelvoud van spannings en oënskynlike teenstrydighede in sy poësie verduidelik dan die durende fassinasie met sy werk (374). Sy invloed op ons digkuns is eweneens van belang.

Lina Spies skryf oor Eybers se “ritme en struktuur”, ‘n sobere inskatting van hierdie merkwaardige digter. Sy sonder tereg die sublieme skoonheid van Die helder halfjaar op en wys op die ek-spreker wat in ‘n hoë mate identifiseerbaar is met die digter. Sy lees Eybers op haar eie voorwaardes soos uiteengesit in haar poëtika. Inderdaad ‘n simbiose van teenstrydighede.

Nico Snyman skat Jan F. E. Celliers reg in as volksdigters en geliefde persoon vir sy lesers, terwyl Réna Pretorius gesaghebbend skryf oor T. T. Cloete se eiesoortige ideolek en erudisie. Adèle Nel voltooi die inskrywing uitstekend wanneer sy wys op die allotropie van sy digkuns waarin dieselfde toestand telkens anders verwoord word. Marthinus Beukes wys op Johann de Lange se vakmanskap en sy gesprek met ander digters. Hy skroom ook nie om verkeerde waarnemings uit te wys nie soos Ampie Coetzee se geringskatting van Die algebra van nood.

F. I. J. van Rensburg se bydrae oor Boerneef bly uitstekend, nes Wium van Zyl se helder, beleë bydrae oor Sheila Cussons, ‘n uitstaande mistieke digter en fyn beheerder van die ekfrastiese vers neem ‘n mens opnuut terug na haar verse.
Hein Viljoen vang die komplekse karmiljoen Breytenbach goed op.

Marius Crous skryf oor Louis Esterhuizen en wys daarop dat hy een van die min digters is wat oor die politieke hede en verlede dig. Hy wys op intertekstuele skakels met ander digters.

I. D. du Plessis word behartig deur Aucamp en B. J. Odendaal. ‘n Skrywer kan net hoop op so ‘n deeglike en oorwoë besinning.

Die register is onvolledig en daar word byvoorbeeld op bladsy 603 na kritici verwys wat in die bibliografie ontbreek.

Dit is ‘n tydige kompendium wat verskillende poëtikas en leesmodelle omskryf. Vir die dosent onontbeerlik; vir die student ‘n hulpbron.

Uiteindelik laat die werk die indruk van ‘n groot gebou met verskillende style: outyds en modern saamgevoeg soos ‘n mens in Chicago antwoorde en palinodes sien op Mies van der Rohe.

Volks of plegstatig, lyflik of godsdienstig, intertekstueel of eenvoudig, sangerig of ingewikkeld, heidens of bybels, polities of vredig: alles vind die leser hier in die digkuns wat ‘n “windharp teen die tyd” bly.

Besliste dank aan H. P. van Coller wat al die bouers, verwers en ontwerpers byeen moes bring.

(Lees Deel 2 vir 'n oorsig oor die prosa).


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)