Bladsye / Pages

Sunday, August 23, 2015

Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal, 6de uitgawe - Jana Luther, Fred Pheiffer & Rufus H. Gouws (redakteurs)


Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal, 6de uitgawe. Jana Luther, Fred Pheiffer & Rufus H. Gouws (redakteurs). Pearson, 2015. ISBN 9781770257009

Resensent: Joan Hambidge

Die nuwe HAT is omvattend herbewerk en uitgebrei.

Wat ’n vreugde is dit nie! Ek kan my nie ’n lewe as non-leksikograaf sonder woordeboeke voorstel nie. Ek lees woordeboeke vir my plesier, net soos wat grammatika-boeke my interesseer. Wanneer ek skryf, is daar oop woordeboeke langs my uitgestal.

In die voorwoord word die geskiedenis van die woordeboek gegee: groot taalkundiges soos Schoonees, Swanepoel, Du Toit en Booysen, met Francois Odendal wat later redakteur was. Langs my bed staan Louis Eksteen se Afrikaanse Sinoniem-woordeboek, ’n boek waarsonder geen digter kan werk nie. Nes Leon de Stadler se Groot Tesourus van Afrikaans waarna ek telkens terugkeer om ’n woord te tjekkereer.

Ná 2005 is Rufus Gouws die hoofindoena met die hulp van kundiges soos Jana Luther en Fred Pheiffer. 2015 val dan saam met die herdenking van die HAT se 50-jarige bestaan. Daar word tereg verwys na die Sisifusarbeid van die makers wat met onverdrote ywer woorde saamstel.

Hierdie woordeboek beslaan meer as 1 632 bladsye, met ander woorde, meer as 200 bladsye as die vorige edisie. In 2008 het die elektroniese woordeboek sy (haar?) verskyning gemaak. Die HAT probeer om eietydse taal te karteer: Afrikaans in geskrewe tekste, maar ook hoe dit oor die radio, op televisie en sosiale media gebruik word.

Die omskrywings is nuttig. Soms word die Latyn gegee en ander kere word ’n woord omskryf deur te verwys na ’n liedjie van byvoorbeeld Lucas Maree: “Gedagtes vat my soos ’n kolk wat draai / Deur die newels na Victoriabaai” (bl. 840).
My lees van hierdie kluif (kluifhout is opgeneem, bl. 640) maak van my ’n kloutervis!

Of ’n intellektuele kloupoot.

Hierdie boek is soos ’n akkordeon (genoem na die Duitse uitvinder, bl. 43) wat jy lekker kan oop- en toetrek. ’n Trekklavier. En bekvegters (bl. 93), soos daardie rubriekskrywers wat raas en tekere gaan, is soos ’n windbuks sonder ’n koeël. En oor belese is daar ’n inskrywing oor ’n bekende dog skroomvallige literator wat berese is (bl. 95); op my dag het die skoolvosse gepraat van bereisde, maar taal pas aan en transformeer mos. Ek verkies limerick (genoem na die plek) en saxofoon (genoem na die man); nie saksofoon!

Hoe mooi dat belladonnalelie neffens bellettrie staan (bl. 95), want die gewoeker rondom die digkuns is dikwels ’n giftige en morsige bedryf. Blou Bul (bl. 129) word met ’n hoofletter gespel (en heyneke meyer waarskynlik met ’n kleinletter . . .). Maar ek wil nie nou kanariebyter speel nie (bl. 578); eerder nadink oor kannelure (bl. 579) van die Frans (cannelure) . 

Lekker om te lees dat opslip (bl. 933) hier is; dis immers hoe mense praat. Man, het ou Crito nie opgeslip toe hy gedink het Jean Meiring is ’n vrou nie? Nou ja, hierdie anonieme kritikus gaan hom seker weer opruk vir my opslagskoot!

Daar is ’n nuttige plakker agterin met ’n kode wat jou vir ses maande gratis toegang gee tot die aanlyn-woordeboek wat maandeliks bygewerk word. Daar is ook erkenning gegee aan bekendes vir sitate. Akklamasie (Latyn: acclamatio, bl. 43).
My kollega Daan Hugo, die digter, het hierdie woordeboek as pedanties, maar tog as die heel beste beskryf. Is woordeboeke tog nie maar per definisie beterweterig nie? Om die taalreëls vas te lê, moet tog voorskriftelik wees, nie waar nie?

’n Woordeboek, volgens hierdie ywerige leser, is meer as ’n taaldokument. Dit is ook ’n historiese opname, ’n stuk kultuurgeskiedenis.

Kyk maar net waar het Afrikaans gaan “leen”. Johan Combrink, daardie groot taalkenner, het vir my as student geleer dat taal verander en aanpas; en dat jy jou net oor anglisismes of wat ook al kan uitlaat indien jy Afrikaans tot in die sewentiende eeu terug ken!

Op my dag het Anette Snyman, ook ’n digter, vir ons gewys hoe Boerneef se gedigte ’n kontreitaal “opteken”. Sy het lyste en lyste woorde vir ons gegee wat ons al spelenderwys moes saamstel. En daardie soort taalkundiges het hul ore en oë oopgehou vir veranderinge. Die HAT se sibbes is natuurlik die WAT en Piet du Toit en Wanda Smith se Stylboek: Riglyne vir paslik skryf. Soos Wannie Carstens se Norme vir Afrikaans.

Want woordeboeke is norme vir ’n bepaalde tydvak. Soos ­modeboeke sekere haarstyle en gewoontes opvang.

En woorde transformeer omdat mense verander.

En van byderwetsheid het die samestellers deeglik kennis geneem, want woorde wat in puur woordeboeke met ’n hooghartige snuif uitgegooi sou word, is hier. Soos rave en wheelie . . .

So laat ek nou ’n bietjie wheelie: In hierdie dae wat monumente afgebreek word, wil ek voorstel: Hoe lyk dit met ’n monument vir ons woordeboek-makers? Hier is meer as 2 miljoen woorde “bewaar”. So, gaan hierdie taal uitsterf? Aikona. (Nguni, haikôna, bl. 42).

Hiermee my isibongo (bl. 544). ’n Taal wat so bewaar en opgeskryf word, kan nét uitsterf as almal kollektief besluit dat dit moet sterf. En dit gaan nie gebeur nie. Te veel mense praat, dig én sing in Afrikaans.

Ons beleef tans ’n verdere Bybelvertaling, uitstekende boeke in Afrikaans . 

Ek het by die Woordfees ’n Afrikaanse woord geborg vir die WAT . . . Hamboud. (Ek het die sertifikaat as bewys!)

’n Projek wat in 1926 begin is deur professor J.J. Smith.

Gooi sout op die pessimistiese sterte!

Komaan, Afrikaanssprekendes, hou op om op julle se katderms te speel.

Fakala straight! 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Beeld)