Bladsye / Pages

Sunday, August 23, 2015

Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal, 6de uitgawe - Jana Luther, Fred Pheiffer & Rufus H. Gouws (redakteurs)


Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal, 6de uitgawe. Jana Luther, Fred Pheiffer & Rufus H. Gouws (redakteurs). Pearson, 2015. ISBN 9781770257009

Resensent: Joan Hambidge

Die nuwe HAT is omvattend herbewerk en uitgebrei.

Wat ’n vreugde is dit nie! Ek kan my nie ’n lewe as non-leksikograaf sonder woordeboeke voorstel nie. Ek lees woordeboeke vir my plesier, net soos wat grammatika-boeke my interesseer. Wanneer ek skryf, is daar oop woordeboeke langs my uitgestal.

In die voorwoord word die geskiedenis van die woordeboek gegee: groot taalkundiges soos Schoonees, Swanepoel, Du Toit en Booysen, met Francois Odendal wat later redakteur was. Langs my bed staan Louis Eksteen se Afrikaanse Sinoniem-woordeboek, ’n boek waarsonder geen digter kan werk nie. Nes Leon de Stadler se Groot Tesourus van Afrikaans waarna ek telkens terugkeer om ’n woord te tjekkereer.

Ná 2005 is Rufus Gouws die hoofindoena met die hulp van kundiges soos Jana Luther en Fred Pheiffer. 2015 val dan saam met die herdenking van die HAT se 50-jarige bestaan. Daar word tereg verwys na die Sisifusarbeid van die makers wat met onverdrote ywer woorde saamstel.

Hierdie woordeboek beslaan meer as 1 632 bladsye, met ander woorde, meer as 200 bladsye as die vorige edisie. In 2008 het die elektroniese woordeboek sy (haar?) verskyning gemaak. Die HAT probeer om eietydse taal te karteer: Afrikaans in geskrewe tekste, maar ook hoe dit oor die radio, op televisie en sosiale media gebruik word.

Die omskrywings is nuttig. Soms word die Latyn gegee en ander kere word ’n woord omskryf deur te verwys na ’n liedjie van byvoorbeeld Lucas Maree: “Gedagtes vat my soos ’n kolk wat draai / Deur die newels na Victoriabaai” (bl. 840).
My lees van hierdie kluif (kluifhout is opgeneem, bl. 640) maak van my ’n kloutervis!

Of ’n intellektuele kloupoot.

Hierdie boek is soos ’n akkordeon (genoem na die Duitse uitvinder, bl. 43) wat jy lekker kan oop- en toetrek. ’n Trekklavier. En bekvegters (bl. 93), soos daardie rubriekskrywers wat raas en tekere gaan, is soos ’n windbuks sonder ’n koeël. En oor belese is daar ’n inskrywing oor ’n bekende dog skroomvallige literator wat berese is (bl. 95); op my dag het die skoolvosse gepraat van bereisde, maar taal pas aan en transformeer mos. Ek verkies limerick (genoem na die plek) en saxofoon (genoem na die man); nie saksofoon!

Hoe mooi dat belladonnalelie neffens bellettrie staan (bl. 95), want die gewoeker rondom die digkuns is dikwels ’n giftige en morsige bedryf. Blou Bul (bl. 129) word met ’n hoofletter gespel (en heyneke meyer waarskynlik met ’n kleinletter . . .). Maar ek wil nie nou kanariebyter speel nie (bl. 578); eerder nadink oor kannelure (bl. 579) van die Frans (cannelure) . 

Lekker om te lees dat opslip (bl. 933) hier is; dis immers hoe mense praat. Man, het ou Crito nie opgeslip toe hy gedink het Jean Meiring is ’n vrou nie? Nou ja, hierdie anonieme kritikus gaan hom seker weer opruk vir my opslagskoot!

Daar is ’n nuttige plakker agterin met ’n kode wat jou vir ses maande gratis toegang gee tot die aanlyn-woordeboek wat maandeliks bygewerk word. Daar is ook erkenning gegee aan bekendes vir sitate. Akklamasie (Latyn: acclamatio, bl. 43).
My kollega Daan Hugo, die digter, het hierdie woordeboek as pedanties, maar tog as die heel beste beskryf. Is woordeboeke tog nie maar per definisie beterweterig nie? Om die taalreëls vas te lê, moet tog voorskriftelik wees, nie waar nie?

’n Woordeboek, volgens hierdie ywerige leser, is meer as ’n taaldokument. Dit is ook ’n historiese opname, ’n stuk kultuurgeskiedenis.

Kyk maar net waar het Afrikaans gaan “leen”. Johan Combrink, daardie groot taalkenner, het vir my as student geleer dat taal verander en aanpas; en dat jy jou net oor anglisismes of wat ook al kan uitlaat indien jy Afrikaans tot in die sewentiende eeu terug ken!

Op my dag het Anette Snyman, ook ’n digter, vir ons gewys hoe Boerneef se gedigte ’n kontreitaal “opteken”. Sy het lyste en lyste woorde vir ons gegee wat ons al spelenderwys moes saamstel. En daardie soort taalkundiges het hul ore en oë oopgehou vir veranderinge. Die HAT se sibbes is natuurlik die WAT en Piet du Toit en Wanda Smith se Stylboek: Riglyne vir paslik skryf. Soos Wannie Carstens se Norme vir Afrikaans.

Want woordeboeke is norme vir ’n bepaalde tydvak. Soos ­modeboeke sekere haarstyle en gewoontes opvang.

En woorde transformeer omdat mense verander.

En van byderwetsheid het die samestellers deeglik kennis geneem, want woorde wat in puur woordeboeke met ’n hooghartige snuif uitgegooi sou word, is hier. Soos rave en wheelie . . .

So laat ek nou ’n bietjie wheelie: In hierdie dae wat monumente afgebreek word, wil ek voorstel: Hoe lyk dit met ’n monument vir ons woordeboek-makers? Hier is meer as 2 miljoen woorde “bewaar”. So, gaan hierdie taal uitsterf? Aikona. (Nguni, haikôna, bl. 42).

Hiermee my isibongo (bl. 544). ’n Taal wat so bewaar en opgeskryf word, kan nét uitsterf as almal kollektief besluit dat dit moet sterf. En dit gaan nie gebeur nie. Te veel mense praat, dig én sing in Afrikaans.

Ons beleef tans ’n verdere Bybelvertaling, uitstekende boeke in Afrikaans . 

Ek het by die Woordfees ’n Afrikaanse woord geborg vir die WAT . . . Hamboud. (Ek het die sertifikaat as bewys!)

’n Projek wat in 1926 begin is deur professor J.J. Smith.

Gooi sout op die pessimistiese sterte!

Komaan, Afrikaanssprekendes, hou op om op julle se katderms te speel.

Fakala straight! 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Beeld)

Joan Hambidge - Neruda in oënskou



Neruda in oënskou

agregamos viviendo la cifra que falta al dolor
(lewend verskaf ons die statistiek wat pyn steeds mis)

Pablo Neruda

   i  Ekshumasie

Regter Mario Carroza
beveel 'n ondersoek
na ene Michael Townly, CIA-agent.
Eduardo Contreras, 'n regsgeleerde,
bevind klinkklaar genoeg bewyse:
die digter vergiftig soos ‘n hond ...

8 November 2013 die uitspraak:
Geen chemiese middels gevind
in die Neruda-oorskot.

Augusto Pinochet
deur 15 wetenskaplikes
klinkend vrygespreek ...

'n Durende digterlike lykskouing
kan helaas nooit die gif
van verlatenheid of teleurstelling
op hierdie digterlike gees vind.


   ii Sisteem van die simmetrie

Ons word nie net verwond deur vyande
nie, maar veral deur vriende
tydelike lewensgenieters,
wyndrinkers, gifdraers, rugstekers.
Die struiksrowers dra hul afguns
op die rug, jou beeld vir die politici
wat jou vriend Federico fusilleer,
vir die bitter dolk wat bly priem.

Waar o waar, is die pyn van voorverlede jaar?

Podium en privaatheid, skryf jy in notaboek:
die digter ‘n eensame hond
in die huis van odes.

Met parlando of diggeweefde vers
kon jy elke verraaier na die loef steek.

Jou vriend verraai verloën vermink
vir hom skryf jy 'n ode,
'n lemoenboom vol lanfer.


   iii Neruda: Identikit

Borges meen jy
was 'n groot digter,
maar polities-naïef.
Jean-Paul Sartre kry voorkeur
bó jou in een Nobelprys-stryd.
Lorca se dood het jou diep gegrief.
Ander weer verwys na jou liefde
vir vroue en flirtasies.
En dat jy jou wettige vrou
en siek kind versaak het.
Party sê jy het gesterf
aan hartversaking;
dalk 'n gebroke hart
oor die politiek-van-die-dag?
'n Legende skinder
die Canto General glo
in 'n etmaal beplan en gedig
toe jy ondergronds moes gaan ...
Wanneer jy wél die Nobel verower,
vertel jy hoe jy as perderuiter
die oormag fnuik
in groter-as-lewensgroot fabrikasies.
Alles waaraan jy raak,
word poësie, sê Gabriel García Márquez
glo sonder naywer.
Maar dis jou odes
aan eenvoudige dinge
soos 'n tamatie,
'n ui of 'n liefdesvers
in teerheid geskryf
met 'n groen pen,
wat my bybly.
Hierom kon duisende mense
die strate bestorm na jou dood
bevele verontagsaam
jou nomineer vir president.
Dit is alles so:
in jou komplekse lewe
'n afgeskilde ui,
dat jy, Pablo Neruda,
gebore Neftali Ricardo Reyes,
die President is en bly
van hierdie bedryf
genaamd, die Poësie.


   iv José del Carmen Reyes Morales se seun

Die spoorwegwerker
se slim seun
lê dodekagoon
sporte vol warkruid
op papier. Derde plek behaal
hy, daardie jonge Neftali
met 'n gedig oor die nag
op dertien; sy naam verander
hy om sy vader nie te steur
met hierdie dinge oor die see
van bome en lig en voëls
en daarrna sou hy 'n vers skryf
oor sy oë en die lug sien oopgaan:
'n trein se skril fluit
sou hom vir altyd bybly
wanneer hy 'n gedig agterlaat
in 'n spoorweghalte digby Temuco
vertrekkend oor 'n spoorstaaf
op reis na spoorwagters
by soveel spooraansluitings verby.


   v Ode aan 'n baadjie

In die donkeroggend soekend
na jou baadjie, ja daardie een
wat om jou lyf pas soos 'n vel
om 'n hond, sien jy blare wat inwaai
onder die voordeur in, die koue lug
van Santiago de Chile kondig
'n rewolusie van die hart aan:
jy het jou baadjie vergeet by haar,
die geliefde, die een oor wie jy sou dig:
"die nagwind draai in die lug en sing".
Jou siel verknog aan haar soos ‘n baadjie,
soos die vel om ‘n wegloopbrak …
"Liefde se kortstondigheid, onthou se ewigheid".


   vi Ode met 'n lament

Die fynskrif van poësie dié ken jy.
"Daar is niks gevaarliks in hierdie huis
nie, behalwe gedigte," troef jy.
'n Troebel droom 'n brandende alfabet
vol onsyferbare, stukkende letters.
Die fynskrif van poësie dié ken jy.
"Die siel van die geliefde,
'n bottel vol dorsmakende sout", wis jy.
Die fynskrif van poësie dié ken jy.
Daardie lyk van 'n geliefde vriend
bly marsjeer deur jou hart
toe jy jou eie oë wou eet in verdriet.
Die fynskrif van poësie dié ken jy.


   vii El Condor Pasa

Dit was my bestemming en hierin lê die reis van my begeerte.

Pablo Neruda

In Macchu Picchu, die heilige Inka-stad,
hoor ek Pablo Neruda se stem fluister deur die rotse:
“die nagwind draai in die lug en sing”.
In iedere kliptafel lees ons sy boodskap van ‘n reis
ver weg van aardse vernietiging, eindigheid en verdriet.
Heilige Macchu Picchu bewaar sy gees
teen die onstuimige rivier en kil berglug
– sy sterk stem praat sag deur die mistige môrelug.
Al die aangebode raaisels hier aanwesig
in ongeskonde berg en rivier en ryk relieke.
Telkens lees ons dieselfde opdrag: in elke einde, dood
lê ‘n nuwe begin ópgesluit.
Met die aflegging van die self soos ons opbeur
na die hoogste punt van ‘n eens verlore beskawing,
pynlik bewus van ons argeloosheid
oor die krag van die lewegewende natuur.
Klim op, hoër na self-
loosheid – na stilte volledig.
Die kosmiese plan hier aanwesig,
argetipies in die roerlose rotse afgedruk – ontdaan
van nuttelose oordaad of menslike verdelging.
So ook die reis na die self: ‘n smagting
na antwoorde, stilte en kosmiese eenheid.
Dit alleen gebeur in die ongerepte natuur gewyd.


   viii Die see

Digters sal altyd terugkeer na die see, die see,
ja, digters sal altyd terugkeer na die see, die see.
Jou huis in Valparaíso word 'n boot waarin jy vaar
teen die primordiale woede van die see, die see.
In die "Barcarola" noem jy haar 'n treursang;
die see 'n anti-strofe in jou lamente
wanneer jy dig oor onreg of verlies,
die see, die see die noodlot, ook 'n orde
van eb en vloed, vloed en eb, eb en vloed.
Digters sal altyd terugkeer na die see, die see.


   ix Nadraai

Om twee wêrelde, twee kontinente soomloos
saam te snoer: Chile teenoor Suid-Afrika.
Om jou te laat sing en praat in my taal, naatloos.
Iets te verstaan van politieke onrus, dit te vertaal
in jou odes oor die vlugte van swaels draaiend.
Jy noem Federico jou Spaanse broer, hy deur die militia
vrek geskiet soos ‘n brandsiekhond in Granada.
Vir Franco was Lorca se dood bloot propaganda;
vir jou ‘n dralende huwelik van bloed en verdriet.
Nederig versoek jy dat jou kamerade
jou op die Isla Negra moet begrawe,
daar waar die aarde en die hemel sluit.
Om twee wêrelde, twee kontinente soomloos
saam te snoer: 'n Spaanse ode in Afrikaans.


   x Terugkyk

Op my vele reise vlugkaarte behou,
die Tarjeta Embarque opgevou,
ook poëties dagboek gehou
van elke inval of aanklop van 'n beeld.
Telkens teruggekeer na Machu Picchu,
Buenos Aires en minder bekende gehuggies
in die skadu van die Andes. 

Toe was poësie 'n bloeiwyse,
'n oorlewingstryd teen liefdesverraad,
ontnugtering, pyn en afsegging.


In die skadu van Machu Picchu
vind die temalied van Il Postino my:
die storie van ‘n eenvoudige posman,
wen haar hart met Pablo se verse,
verby die vloei van die Urubamba,
in knetterende klanke van verlange.
In die skadu van Machu Picchu.

In die skadu van Machu Picchu
glip ‘n skaars vlinder verby my hand.
Die ruïnes van ‘n verlore Inka-stad
herwin in ‘n argeologie van woorde:
die digter, ‘n latter day-Bingham.
In die skadu van Machu Picchu.

In die skadu van Machu Picchu
volg ek getrou Pablo Neruda se reis
na die herwonne Inka-stad,
‘n wêreldwonder van graniet en klip.
In die skadu van Machu Picchu.

In die skadu van Machu Picchu
daal stilte soos stof oor die ruïnes.
‘n Fluit eggo, draal van berg tot berg
waar die Grootste Digter ‘n vers skryf:
soekend, speurend ‘n stil boodskap ontsyfer.
In die skadu van Machu Picchu.

In die skadu van Machu Picchu
soggens maagde tot ‘n songod geoffer.
Wat is ons offergawe hier, in ‘n ruimte
waar God en natuur volledig één word?
Hoe lank voordat ons U boodskap reg begryp?
In die skadu van Machu Picchu,
ja, in die skadu van Machu Picchu.


Nou tel die dae my af soos 'n boom ongesnoeid
dragtig met vrugte en kleurvolle voëls singend:

in die skadu, in die skadu van José del Carmen
Reyes Morales se seun, ja hy, ja hy
wat die sterre uit die hemel bly pluk.

"Daar is geen digters nie, net 'n digkuns,"
die trooswoorde van Pablo Neruda ...

Vir Lorca gee jy 'n beeld gesnoeid:
'n lemoenboom vol lanfer ...


   xi Die digter as diplomaat

Die strate word jou godsdiens.
In Burma besoek jy die Sjinese kwartier,
drink tee in 'n Persiese kafee,
ry in 'n gharrie teen die sin
van neusoptrekkende Britse diplomate.
Jy verloor jou hart op Josie Bliss,
wat snags haar lyf en ware Burmese naam
net aan jou en die donker maan verraai.
Vir haar skryf jy "Tango del viudo",
hierdie jaloerse vrou in wie woede stu:
'n vulkaan wat nooit tot uitbarsting kom.
Die Bengaalse golf skep die ritme
en metrum van die afskeid aan haar.
Die antieke wysheid van die Orient
vertaal jy in verse: die digter as diplomaat.


   xii El viajero inmóvil

Beweginglose reisiger noem 'n kritikus jou:
jy wat in jou huis op 'n skip verbeeld
kon vertrek, reg óm die blou aarde
meen die digkuns is die grootste rebellie.

Dit is egter jou gedigte wat om die aarde reis,
ónafhanklik van jou politieke ambisie.
Van digter oor die eensaamheid promoveer
jy tot podiumdier waar tot 'n duisend

en meer stoele 'n saal in Santiago voldreun.
Wyl jy jou gedigte driftig voordra vir sosialiste,
is dit jou verse oor die liefde en eensaamheid
en die wete dat die digkuns soos 'n oseaan

deur jou styg en stonk, wat my inspireer.
Jou epopee oor 'n kontinent met plante,
beskrywing van die Spondylus roseo
as stalagmiete in 'n diep grot of molluske

uit 'n verre Sjinese see of 'n beeld in jou tuin
wat lyk soos Gabriela Mistral, 'n woordgenoot,
bevestig hoe jy in die kleinste voorwerp, 'n blom
selfs, 'n lewensbevestigende gedig kon vind.

Die digkuns is liturgie; die digter 'n priester.


Endnote

X Neruda in oënskou

Die gedig "El Condor Pasa" het oorspronklik verskyn in Verdraaide raaisels. Human & Rousseau, Kaapstad. 1990.
"In die skadu van Machu Picchu" is opgeneem in Vuurwiel. Human & Rousseau, Kaapstad. 2009.
Uys Krige se Spaanse dans (onder redaksie van MM Walters) was 'n voedingsbron. Dit in 1991 by Perskor verskyn.
Jack Schmitt se vertalings van die Canto General (University of California Press, Berkeley, 1991) is betrek.
Die fiksionalisering van die digter se lewe in Il postino (1994) is gesien. Michael Radford is die regisseur.
Harold Bloom se The Western Canon (Harcourt Brace & Company, 1994) was eweneens van hulp.
Pablo Neruda se bekendste gedigte word in hierdie teks ingeweef. Nathaniel Tarn se Selected poems (Penguin, 1970) is gebruik as rigtingwyser.

Neruda se Memoirs (Penguin, 1977) is ook bestudeer.