Bladsye / Pages

Sunday, April 26, 2015

Schalk Schoombie - Boomkastele (2015)


Schalk Schoombie - Boomkastele. Uitgewer: Human & Rousseau, 2015. ISBN 9780798167673

Resensent: Joan Hambidge

Hierdie roman gebruik bome as die skaduteks. Onmiddellik is ’n mens verlei om alles wat jy al gelees het oor bome op te roep. “Te klip om te boom” en op opwindende wyse word raaisels, vertellinge, brokke, koerantuitknipsels en urban legends saamgesnoer in een roman.

Dit vertel die verhaal – onder meer – van die afgetrede navorser se ontsteltenis wanneer sy buurman twee groot bome tussen hul erwe laat verwyder. Sonde met die bure. En die leser word algaande ál meer bewus van die ander verhaal. Wat nie so eenvoudig is nie. Boonop is daar in die stad ’n berugte Sirkelman aan die rondwoeker wat nes Banksy sy merk laat. Sy kunswerk is gegrond op Da Vinci se Vitruviaanse man . . . En daar is ’n misdaadverslaggewer op sy spoor. En ander mense wat ontspoor . . .

Dit is ’n roman vol intertekste: boomfluisteraars, kuberkrakers, die internet en scambaiters, slaapstoornisse, kettingbriewe, die superrekenaar (oftewel die “ewigheidsmasjien”), Boer soek ’n vrou, gesinsmoorde, parkour-skimme, road movies en die lewe in die stad. In hierdie opsig sluit die roman nogal aan by ’n ánder Johannesburgse roman: Harry Kalmer se ’n Duisend stories oor Johannesburg: ’n stadsroman. By Schoombie is dit “ ’n sprokie vir ’n stadsmens”.

Die sprokie in dié roman word ’n suspension of disbelief en alles wat die leser moet glo: van ’n man wat ’n boomhuis wil bou om te ontsnap tot ’n misdaadverslaggewer wat die ontglippende kunstenaar ontmoet en in sy alternatiewe wêreld (kyk die foto op bladsy 231) hom skuilhou en nes  internet-scammers ’n ondergrondse bestaan voer.

Daar is verwysings na Die fluitspeler van Hamelin, Alice in Wonderland, The Wizard of Oz, Robert Altman se rolprent The Player (1992) en natuurlik Jorge Luis Borges se Labirinte wat vir die leser kodes verskaf in dié roman wat moderne teoretici soos Patricia Waugh as “narcissistic fiction” beskryf. Daar is geweldig baie ironiese gapings, soos Linda Hutcheon dit noem en selfs ’n uitroepteken om die ironie te verduidelik.

Jy kan ’n sleutel neem en besluit hoe jy die grense gaan skuif en jou leeskoördinate gaan trek. Fokus ’n mens op Altman is die skryf- en bedrogproses daar en die moeilikheid wat jou inhaal  . . . Of kyk weer na die Bybelse verwysings (296) en die hel se vure . . . Dikwels is daar teenstrydige kodes of boodskappe soos dit is met ’n paranoïese teks (Elizabeth Wright se bruikbare term).

Die soeke na naam en identiteit (Hannes Moerdyk) teenoor anonimiteit in ’n moderne mediawêreld wat ons verbrysel onder aanslae is eweneens ’n deurlopende motief.

Dit is dan die wins van dié roman: die toespelings en sleutels, die boksie-binne-in-die-boksie, maar uiteindelik (vir my) is daar te veel kodes wat die teks oordadig maak.

Die werklike outeur is kennelik bewus hiervan, maar vir my gevoel sou die roman ook kon baat vind by ’n groter ironiese distansie en selfs sarkasme. Die prosa is dikwels te mooi in aanslag, en die besoeke aan hole of bose plekke mis die edge wat ’n skrywer soos Don DeLillo hieraan sou gee. Tietiekroeg is byvoorbeeld so ’n woord . . .

As jy hou van ’n boek vol stories-binne-in-stories, een wat jou iets wil vertel oor hóé die moderne wêreld nie meer kan aanspraak maak op Die Waarheid nie en daar vir elke gebeurtenis ’n ander weergawe bestaan, is dit bepaald jóú soort boek.

Ek het weer Altman gekyk. Hierdie roman mis die ratelslang in die boks van die fliek en die morele evaluasie wat Linda Hutcheon vereis in haar studie Irony’s Edge (1994) wanneer jy groot kwessies takel. Anders bly dit net ’n storie of ’n sprokie.

Hoogs leesbaar, ja en slim bepaald, but where’s the bloody horse? En moet ’n mens ’n GPS hê om al die roetes te volg? Of is die pad agtertoe ook die pad vorentoe?

Ouroboros.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Rapport)