Bladsye / Pages

Sunday, April 26, 2015

Kobus Lombard - Skadu oor die sonwyser (2015)


Kobus Lombard - Skadu oor die sonwyser. Protea Boekhuis, 2015. ISBN 978-1-4853-0302-2

Resensent: Joan Hambidge

'n Digkuns bestaan nie in wese uit digters nie, maar uit gedigte, wat in gesprek tree met verslike geesgenote.

J. Hillis Miller

Hierdie Namibiese digter se vorige bundels heet: Geknipte naelstring (2001), Tussen wysvinger en duim (2005) en Vlerke vir my houteend (2010). Die jongste bundel se titel is Skadu oor die sonwyser.

Die verhouding met die biologiese moeder en die aangenome moeder (en hiermee inbegrepe die verhouding tussen taal en die moederbuik), is al onder die loep geneem in sy vorige bundel. Lombard skryf aangrypende gedigte oor die dood soos hierdie klein vers opgeneem in Geknipte naelstring:

geen
boom
steek ’n gat
so grou
in die lug
soos ’n
sipres
oor
die
oop
graf
van
’n
kind (62)

’n Digkuns bestaan nie in wese uit digters nie, maar uit gedigte, wat in gesprek tree met verslike geesgenote, het J. Hillis Miller by geleentheid opgemerk. Gedigte het as’t ware ’n lewe van hul eie. Ook Neruda en Cussons beaam dit digterlik.

By Lombard is dit bepaald ook die geval. Bo­staande vers oor die dood van ’n kind neem ’n mens terug na Totius se lykdigte oor sý kinders. Die verhouding tussen moeder en kind – maar in hierdie bundel vanuit die perspektief van die kind – tree in gesprek met Rika Cilliers se kindergedigte. Totius praat eweneens saam in “Wag-’n-bietjie-bos” (27) en die hele tweede afdeling is ’n implisiete gesprek met die Totiaanse vergewe-en-vergeet-gedagte.

Die digter is ook landskapdigter, en die Namibiese landskap word in hierdie bundel beskryf. Daniel Hugo se bloemlesing Land van sonlig en van sterre (2004) is ’n belangrike skakel tot digters wat reeds oor hierdie besondere wêreld gedig het. Ook die skilders praat onbewustelik saam in die leeservaring. ’n Mens dink hier aan Adriaan van Zyl se besondere skilderye.

Die slotvers “Gobabis” (84) is ’n netjiese gedig:

die Swart-Nossob kronkel
soos ’n ou aar oor jou hand
die stof hang ’n kring
om die sweet van jou tiervelhoed
die vensters van jou oë is gebreek
jou mure skilfer soos oumensvel
die torings van jou kerke
steek gate in die reënlose lug
jou ongeskraapte strate
bedel soos loopneuskinders
tog ruik jy ná al die jare
steeds na vetkryt en na klei

Die datum (Januarie 2009) onderaan beklemtoon ’n herbesoek.

Veral oor hierdie landskap en sy mense lewer die digter tematies ’n bydrae. Die gesprek met die versaakte moeder word in hierdie bundel ’n betrokkenheid met die aarde aan wie ons ons beendere moet teruggee. En hieruit spruit die religieuse of metafisiese dimensie wat outentiek verwoord word.

Besonder aangrypend is die kinderblik (“Sondagskool”, 64) op die religieuse ervaring – en juis hierdeur kry die gedig ’n besondere wrang-ironiese bybetekenis. Dít wat die jong kind uit die Bybel leer, vertroos die ouer mens. “Kerkganger in Rundu” (63) se Bybel in sy hand lyk amper pienkrooi “soos die bloed van ’n geslagte lam” en die kleindorpse Koster – ’n vers wat weer Sheila Cussons oproep – kan vir ses dae lank rus. Die gebed is by Lombard ’n aanraking aan die soom van die kleed.

Die digkuns met sy spanninge en teleurstellings word ook verdig:

breek my kraal se drade
soos natgereënde wol (49)

Die pynlike spanninge rondom die afgetekende kind word in die derde afdeling beskryf met ál die onbeantwoorde vrae wat dit impliseer. Die alledaagse waarnemings en verliese word opgeteken en opgeskeur. Tog behou en stol die vers die ervaring. Herinneringe, nostalgie en musiekverwysings praat saam in hierdie aangrypende bundel waar die “ek” homself raam “tussen ander gesigte / iewers teen ’n off-white muur”.

Skadu oor ’n sonwyser is ’n delikate klein bundel; ’n optekening van ’n lewe en landskap, sober beskryf.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Rapport)