Bladsye / Pages

Wednesday, September 24, 2014

Huldiging: DJO 100



Opperman die kanoniseerder, Opperman die digter, Opperman die eerste postmodernis met Kuns-mis, Opperman die kreatiewe begeleier in sy letterkundige laboratorium waar ek indertyd bygesit het, nie as digter nie, maar as jong kritikus.

Opperman het my lewe gered. Hy het my 'n assistentskap aangebied, anders sou ek in 'n sielkundige rigting studeer het.

Ek word sy sy assistente. Dit is 1978. Ek neem vir hom boeke uit in die Carnegie en neem dit laatmiddag na sy huis. Hy is in sy pajamas en knorrig, omdat ek laat is.

“Waarheen gaan ons? Kombuis toe?”, vra ek senuagtig, want hy is omgekrap.
“Wat? Dink jy dit is die teater van die absurde? Ons gaan studeerkamer toe.”
Hy trap my uit oor ek vir hom – volgens hom – ‘n verkeerde datum deurgegee het van die sekretaresse.
Hy gaan sit. Ek gee vir hom Invisible cities. Hy raak rustig. Eendag gaan ek nog die tekste opteken wat ek moes uitneem vir hom.
Hy tel Penseel op. Daar is 'n kortverhaal in van my (“Van vier tot ses”) met gay-ondertone.
“Dit moet jy ontgin,” seg hy.”Skryf dit oop.” Hy vertel van Hemingway se ontsteltenis toe hy eenkeer 'n rusie – per ongeluk – aanhoor tussen die lesbiese Gertrude Stein en Alice B. Toklas in Parys. Hy wis nie hulle was minnaresse nie.
“Hy was natuurlik 'n bietjie verlief op haar,” lag hy. Hy gesels oor Erica Jong. “Ja, Lina en Antjie hou baie haar ... vir my is die gedigte te 'chatty'.”

Daarna het hy weer my lewe verander.

Ek begin gedigte skryf. Ek is op besoek in Stellenbosch en bel mevrou Opperman.

“Ja kom gerus.” Ek is geskok om hom te sien. Dit is kort voor sy dood.
“Dirk, onthou jy haar?”
“Ja, dis my assistent.” Hy lag met die bekende skewe mondhoek. “Doen jou pliggie ou niggie.”

Ek wens ek kon met hom nou gesels oor Komas uit 'n bamboesstok en hoe hy lank voor die postmodernisme ‘n modewoord was, postmodernisties gedig het.
En hom bedank dat hy my bekend gestel het aan Wallace Stevens in sy huis, in my Honneursjaar, toe hy J.C. Steyn se Die grammatika van liefhê met ons behandel het.

My bydrae die dag toe hy ons vir tee genooi het,  was oor hoekom die naam van die busdrywer waarin die kinders noodlottig gesterf het, meneer Koekemoer, nie in die gedig oor Henley-on-klip staan nie.
“Skryf dit neer”, roep hy uit. ”‘n Gedig mag nie die banale oorvertel nie.” 

'n Groot digter, dit is hy. En sal hy altyd bly. Opperman se grootste teoretiese werk vir my is Digters van dertig.

Opperman het my liefde vir die Ooskus-Amerikaanse digters aangewakker en my kritiese denke opgeskerp.

Hiermee 'n digterlike huldeblyk:

Ballade van die grysland
                                        
Die vroegre boere-paradijs
is nou één molshoop, groot en grijs.
Totius (Trekkerswee)

I

Uit tonnels van die nag tuur ek
oor die landskap van ysterspore,
die vele bundels wat ná u vertrek

hul opwagting maak, die nuwe Edms. OnBpk.
met vele digters en diskoerse,
in die Afrikaanse taal se vele bottelnekke.

Deesdae kap ons slote op die internet,
FaceBook en 'n kollektiewe Versindaba;
die digkuns 'n blote visum by verstek.

Hier is dikwels 'n gezoem om 'n heuningkoek
oor wié mag parlando of katalekteer;
soms word stilte opgeskort; ander kere opgedoek.

Daar is draaisae en gille van polemiek
- sonder om die bundel te lees -
ook herbesoeke met 'n enkele kliek.

Daar word steeds valse syfers neergekrap,
oneerlike resensies uitgekletter,
selfs van 'n eggenoot oor 'n bedmaarskalk.


II

Na tuine van die nag, waar neonligte blom,
moes ek dikwels vlug oor 'n gedig
van 'n herkenbare minnares, 'n liefdesbom.

Maar die vrees as u, die rekenmeester,
nou moes lees of skerp takseer?
Hoeveel van ons sou by u, o leermeester

'n heilige bees, 'n strak negester
 of 'n Joernaal van Jorik kon prakseer?
“Wees veral versigtig met eendagsterre!”

Die nag breek grou: ‘op tafelblad’
links in my smalle kamer
‘staan leë bottels in hul nat’.

Ek sukkel steeds om hierdie gedig
in balans met u en Totius tuis te bring.
O my vrees wat die kritiek mag aanrig.

III

Die laptop is wit-gevlak en koel
soos die dubbelskots deur my vloei …
tot ek die vrees weer lyflik voel.

O as u, die rekenmeester kom,
wat sal u maak van hierdie pastiche?
Ek erken my reëls uit u bron

in die onthouboek, digterlike dinamika:
die ware digter, so leer u ons,
weet geen snars van metafisika.

“En metafiksie?”, wou ek vra?
Die tralies wat hierdie vers omsluit
– huldeblyk gewis en waar, ja –

laat my krukkig gryp na 'n psigoanalise:
Lacan en Žižek, daardie ou spoegbek,
óm en óm … die dun spil van die siel.


D.J. Opperman & "Niggie", sy assistent Joan Hambidge