Bladsye / Pages

Saturday, September 27, 2014

Brief: Godsdiensonderrig in skole

Richard Dawkins

Geestelike waardes. Oor ons wêreld en waar ons vandaan kom
D. J. Smit

Die BurgerSaterdag 27 September 2014 

Hoe kan ’n mens Breyten Breytenbach of Antjie Krog verstaan as jy nie die Bybel ken nie, vra Joan Hambidge tereg. Dan praat ons nie eens van Van Wyk Louw of Opperman nie, sê sy – en sou ewe goed vele ander kon byvoeg. Trouens, hoe verstaan ons die wysheid opgesluit in ons alledaagse tale en idiome, die grondslae van ons kulture en tradisies, die verwysings van eeue se kuns, musiek en letterkunde, dít wat ons beskou as deugde en waardes – sonder die Bybel? Dan praat ons nie eens van waardigheid en regte, vryheid en demokrasie, ekonomie en wetenskap nie. Hoe verrassend dié herinnering ook mag wees, hoe omstrede sulke aansprake, hoe aanstootlik dié gedagtes vir vele, slegs kollektiewe geheueverlies kan dié blywende erfenis ontken.

Iets soos The King James Bible and the World it Made herinner hieraan – en dié opstelle praat nie eens van die Bybel self nie, dog net van één vertaling. Wat nog te sê van die Bybel sélf – in sy vele vertalinge? Hoe het dié nie die wêrelde help skep wat ons (dalk onbewus) vandag bewoon nie? Dink maar aan die vieringe in Amerika ’n eeu gelede met die King James drie eeue oud. Aan Theodore Roosevelt wat “die groot wetenskaplike Huxley” aanhaal dat dit “die Magna Carta van armes en onderdruktes is, die mees demokratiese boek in die wêreld”. Aan Woodrow Wilson wat dit beskryf as “ongetwyfeld die boek wat demokrasie gemáák het en die bron was van alle vooruitgang”. Sekerlik was albei óórentoesiasties – dalk met een oog op die komende verkiesing. En tog was daar iets waars in wat hulle sê?

Só beskryf Lamin Sanneh (’n gevierde historikus van Gambië, tans van Yale) die invloed van inheemse vertalings in Afrika. In vele moedertale sou die Bybel die “katalisator van ingrypende kulturele verandering” word, sê hy, “die onverwagse maar kragtige wapen téén onderdrukking van plaaslike inisiatief en teen koloniale heerskappy”. Bybelse temas, sê hy, “sou nuwe paradigmas verskaf vir politieke aspirasie, opvoeding, burgerskap en menswaardigheid”. Ons vergeet alte maklik, sê hy, die “uitsonderlike opwinding” en “rewolusionêre invloed” van sulke vertalings. En die téénstand wat hulle daarom so dikwels sou ondervind – van kerk én staat, oraloor. Dink maar aan John Wyclif, die Oxfordse geleerde, wat meer as drie eeue vóór die King James al sý vertaling sou maak, ondanks verset? Veertig jaar ná sy dood opgegrawe, verbrand en sy as in die rivier gestrooi om fináál te verseker sy ketterse Bybelse gedagtes beïnvloed niemand meer nie?

Natúúrlik is al dié verhale pynlik ambigu. Dié invloed was nóóit net heilsaam nie – die boodskap het immers altyd sy woordvoerders. Die geskiedenis van dié uitleg was een van seën én vloek – tót nou. Talle sou bitter ly onder ánder met die Bybel in die hand en ly stééds so – slawe, vroue, vreemdes, kinders. Maar ook dié misbruik word nie vermy deur te wil vergeet nie. Want hoe gaan ons Breyten Breytenbach en Antjie Krog dan verstaan? Of onsself, ons wêreld – met sy genade én sy gruwels?

-----


Terry Eagleton

Brief: Joan Hambidge

Die Burger 16 September 2014

Die debat oor die afskaffing van godsdiens aan skole ten gunste van ‘n meer sekulêre of godsdiensvrye onderrig, maak mense tereg ontevrede. Ateïste – soos agnostici – het inderdaad ook regte. 

Geloof is immers soos ‘n politieke oortuiging dikwels uiters persoonlik en vriendskappe is al beeïndig oor verskille. 

Maar om godsdiens te verban, klink vir my oordrewe en onsinnig. Ons kalender het ‘n Christelike basis. Ons vier Kersfees en selfs in lande waar daar geen erkenning gegee word aan die Christendom nie, word die dag aangeteken. Hoe wenslik is dit om die Christelike etos te verwyder uit skole as daar byvoorbeeld gedigte of boeke voorgeskryf word wat ook oor hierdie kwessie handel? Hoe kan jy Breyten Breytenbach of Antjie Krog verstaan as jy nie Die Bybel ken nie? Dan praat ons nie eens van NP van Wyk Louw of Opperman nie … Daar is verder vele digters en skrywers – ook in ander tale – wat onbegrypbaar sou wees.

Terry Eagleton, die groot Britse Marxistiese kritikus is, het al vir Richard Dawkins gewys op denkfoute oor die geskiedenis van die kerkIn Eagleton se gevleuelde woorde:

“God is not a celestial super-object or divine UFO, about whose existence we must remain agnostic until all the evidence is in. Theologians do not believe that he is either inside or outside the universe, as Dawkins thinks they do.” 

Gaan lees gerus hierdie uitstaande resensie van The God delusion en Eagleton se argumente oor die komplekse geskiedenis van die kerk en teologie.

Ek doseer die Afrikaanse digkuns aan ‘n diverse sosiale gemeenskap en dit bly ‘n uitdaging om verskillende kulture te akkommodeer, eerder as om ‘n sienswyse te verban ter wille van ‘n neutrale, non-teïstiese oortuiging.

Joan Hambidge, Kaapstad