Bladsye / Pages

Saturday, September 27, 2014

Brief: Godsdiensonderrig in skole

Richard Dawkins

Geestelike waardes. Oor ons wêreld en waar ons vandaan kom
D. J. Smit

Die BurgerSaterdag 27 September 2014 

Hoe kan ’n mens Breyten Breytenbach of Antjie Krog verstaan as jy nie die Bybel ken nie, vra Joan Hambidge tereg. Dan praat ons nie eens van Van Wyk Louw of Opperman nie, sê sy – en sou ewe goed vele ander kon byvoeg. Trouens, hoe verstaan ons die wysheid opgesluit in ons alledaagse tale en idiome, die grondslae van ons kulture en tradisies, die verwysings van eeue se kuns, musiek en letterkunde, dít wat ons beskou as deugde en waardes – sonder die Bybel? Dan praat ons nie eens van waardigheid en regte, vryheid en demokrasie, ekonomie en wetenskap nie. Hoe verrassend dié herinnering ook mag wees, hoe omstrede sulke aansprake, hoe aanstootlik dié gedagtes vir vele, slegs kollektiewe geheueverlies kan dié blywende erfenis ontken.

Iets soos The King James Bible and the World it Made herinner hieraan – en dié opstelle praat nie eens van die Bybel self nie, dog net van één vertaling. Wat nog te sê van die Bybel sélf – in sy vele vertalinge? Hoe het dié nie die wêrelde help skep wat ons (dalk onbewus) vandag bewoon nie? Dink maar aan die vieringe in Amerika ’n eeu gelede met die King James drie eeue oud. Aan Theodore Roosevelt wat “die groot wetenskaplike Huxley” aanhaal dat dit “die Magna Carta van armes en onderdruktes is, die mees demokratiese boek in die wêreld”. Aan Woodrow Wilson wat dit beskryf as “ongetwyfeld die boek wat demokrasie gemáák het en die bron was van alle vooruitgang”. Sekerlik was albei óórentoesiasties – dalk met een oog op die komende verkiesing. En tog was daar iets waars in wat hulle sê?

Só beskryf Lamin Sanneh (’n gevierde historikus van Gambië, tans van Yale) die invloed van inheemse vertalings in Afrika. In vele moedertale sou die Bybel die “katalisator van ingrypende kulturele verandering” word, sê hy, “die onverwagse maar kragtige wapen téén onderdrukking van plaaslike inisiatief en teen koloniale heerskappy”. Bybelse temas, sê hy, “sou nuwe paradigmas verskaf vir politieke aspirasie, opvoeding, burgerskap en menswaardigheid”. Ons vergeet alte maklik, sê hy, die “uitsonderlike opwinding” en “rewolusionêre invloed” van sulke vertalings. En die téénstand wat hulle daarom so dikwels sou ondervind – van kerk én staat, oraloor. Dink maar aan John Wyclif, die Oxfordse geleerde, wat meer as drie eeue vóór die King James al sý vertaling sou maak, ondanks verset? Veertig jaar ná sy dood opgegrawe, verbrand en sy as in die rivier gestrooi om fináál te verseker sy ketterse Bybelse gedagtes beïnvloed niemand meer nie?

Natúúrlik is al dié verhale pynlik ambigu. Dié invloed was nóóit net heilsaam nie – die boodskap het immers altyd sy woordvoerders. Die geskiedenis van dié uitleg was een van seën én vloek – tót nou. Talle sou bitter ly onder ánder met die Bybel in die hand en ly stééds so – slawe, vroue, vreemdes, kinders. Maar ook dié misbruik word nie vermy deur te wil vergeet nie. Want hoe gaan ons Breyten Breytenbach en Antjie Krog dan verstaan? Of onsself, ons wêreld – met sy genade én sy gruwels?

-----


Terry Eagleton

Brief: Joan Hambidge

Die Burger 16 September 2014

Die debat oor die afskaffing van godsdiens aan skole ten gunste van ‘n meer sekulêre of godsdiensvrye onderrig, maak mense tereg ontevrede. Ateïste – soos agnostici – het inderdaad ook regte. 

Geloof is immers soos ‘n politieke oortuiging dikwels uiters persoonlik en vriendskappe is al beeïndig oor verskille. 

Maar om godsdiens te verban, klink vir my oordrewe en onsinnig. Ons kalender het ‘n Christelike basis. Ons vier Kersfees en selfs in lande waar daar geen erkenning gegee word aan die Christendom nie, word die dag aangeteken. Hoe wenslik is dit om die Christelike etos te verwyder uit skole as daar byvoorbeeld gedigte of boeke voorgeskryf word wat ook oor hierdie kwessie handel? Hoe kan jy Breyten Breytenbach of Antjie Krog verstaan as jy nie Die Bybel ken nie? Dan praat ons nie eens van NP van Wyk Louw of Opperman nie … Daar is verder vele digters en skrywers – ook in ander tale – wat onbegrypbaar sou wees.

Terry Eagleton, die groot Britse Marxistiese kritikus is, het al vir Richard Dawkins gewys op denkfoute oor die geskiedenis van die kerkIn Eagleton se gevleuelde woorde:

“God is not a celestial super-object or divine UFO, about whose existence we must remain agnostic until all the evidence is in. Theologians do not believe that he is either inside or outside the universe, as Dawkins thinks they do.” 

Gaan lees gerus hierdie uitstaande resensie van The God delusion en Eagleton se argumente oor die komplekse geskiedenis van die kerk en teologie.

Ek doseer die Afrikaanse digkuns aan ‘n diverse sosiale gemeenskap en dit bly ‘n uitdaging om verskillende kulture te akkommodeer, eerder as om ‘n sienswyse te verban ter wille van ‘n neutrale, non-teïstiese oortuiging.

Joan Hambidge, Kaapstad

Wednesday, September 24, 2014

Huldiging: DJO 100



Opperman die kanoniseerder, Opperman die digter, Opperman die eerste postmodernis met Kuns-mis, Opperman die kreatiewe begeleier in sy letterkundige laboratorium waar ek indertyd bygesit het, nie as digter nie, maar as jong kritikus.

Opperman het my lewe gered. Hy het my 'n assistentskap aangebied, anders sou ek in 'n sielkundige rigting studeer het.

Ek word sy sy assistente. Dit is 1978. Ek neem vir hom boeke uit in die Carnegie en neem dit laatmiddag na sy huis. Hy is in sy pajamas en knorrig, omdat ek laat is.

“Waarheen gaan ons? Kombuis toe?”, vra ek senuagtig, want hy is omgekrap.
“Wat? Dink jy dit is die teater van die absurde? Ons gaan studeerkamer toe.”
Hy trap my uit oor ek vir hom – volgens hom – ‘n verkeerde datum deurgegee het van die sekretaresse.
Hy gaan sit. Ek gee vir hom Invisible cities. Hy raak rustig. Eendag gaan ek nog die tekste opteken wat ek moes uitneem vir hom.
Hy tel Penseel op. Daar is 'n kortverhaal in van my (“Van vier tot ses”) met gay-ondertone.
“Dit moet jy ontgin,” seg hy.”Skryf dit oop.” Hy vertel van Hemingway se ontsteltenis toe hy eenkeer 'n rusie – per ongeluk – aanhoor tussen die lesbiese Gertrude Stein en Alice B. Toklas in Parys. Hy wis nie hulle was minnaresse nie.
“Hy was natuurlik 'n bietjie verlief op haar,” lag hy. Hy gesels oor Erica Jong. “Ja, Lina en Antjie hou baie haar ... vir my is die gedigte te 'chatty'.”

Daarna het hy weer my lewe verander.

Ek begin gedigte skryf. Ek is op besoek in Stellenbosch en bel mevrou Opperman.

“Ja kom gerus.” Ek is geskok om hom te sien. Dit is kort voor sy dood.
“Dirk, onthou jy haar?”
“Ja, dis my assistent.” Hy lag met die bekende skewe mondhoek. “Doen jou pliggie ou niggie.”

Ek wens ek kon met hom nou gesels oor Komas uit 'n bamboesstok en hoe hy lank voor die postmodernisme ‘n modewoord was, postmodernisties gedig het.
En hom bedank dat hy my bekend gestel het aan Wallace Stevens in sy huis, in my Honneursjaar, toe hy J.C. Steyn se Die grammatika van liefhê met ons behandel het.

My bydrae die dag toe hy ons vir tee genooi het,  was oor hoekom die naam van die busdrywer waarin die kinders noodlottig gesterf het, meneer Koekemoer, nie in die gedig oor Henley-on-klip staan nie.
“Skryf dit neer”, roep hy uit. ”‘n Gedig mag nie die banale oorvertel nie.” 

'n Groot digter, dit is hy. En sal hy altyd bly. Opperman se grootste teoretiese werk vir my is Digters van dertig.

Opperman het my liefde vir die Ooskus-Amerikaanse digters aangewakker en my kritiese denke opgeskerp.

Hiermee 'n digterlike huldeblyk:

Ballade van die grysland
                                        
Die vroegre boere-paradijs
is nou één molshoop, groot en grijs.
Totius (Trekkerswee)

I

Uit tonnels van die nag tuur ek
oor die landskap van ysterspore,
die vele bundels wat ná u vertrek

hul opwagting maak, die nuwe Edms. OnBpk.
met vele digters en diskoerse,
in die Afrikaanse taal se vele bottelnekke.

Deesdae kap ons slote op die internet,
FaceBook en 'n kollektiewe Versindaba;
die digkuns 'n blote visum by verstek.

Hier is dikwels 'n gezoem om 'n heuningkoek
oor wié mag parlando of katalekteer;
soms word stilte opgeskort; ander kere opgedoek.

Daar is draaisae en gille van polemiek
- sonder om die bundel te lees -
ook herbesoeke met 'n enkele kliek.

Daar word steeds valse syfers neergekrap,
oneerlike resensies uitgekletter,
selfs van 'n eggenoot oor 'n bedmaarskalk.


II

Na tuine van die nag, waar neonligte blom,
moes ek dikwels vlug oor 'n gedig
van 'n herkenbare minnares, 'n liefdesbom.

Maar die vrees as u, die rekenmeester,
nou moes lees of skerp takseer?
Hoeveel van ons sou by u, o leermeester

'n heilige bees, 'n strak negester
 of 'n Joernaal van Jorik kon prakseer?
“Wees veral versigtig met eendagsterre!”

Die nag breek grou: ‘op tafelblad’
links in my smalle kamer
‘staan leë bottels in hul nat’.

Ek sukkel steeds om hierdie gedig
in balans met u en Totius tuis te bring.
O my vrees wat die kritiek mag aanrig.

III

Die laptop is wit-gevlak en koel
soos die dubbelskots deur my vloei …
tot ek die vrees weer lyflik voel.

O as u, die rekenmeester kom,
wat sal u maak van hierdie pastiche?
Ek erken my reëls uit u bron

in die onthouboek, digterlike dinamika:
die ware digter, so leer u ons,
weet geen snars van metafisika.

“En metafiksie?”, wou ek vra?
Die tralies wat hierdie vers omsluit
– huldeblyk gewis en waar, ja –

laat my krukkig gryp na 'n psigoanalise:
Lacan en Žižek, daardie ou spoegbek,
óm en óm … die dun spil van die siel.


D.J. Opperman & "Niggie", sy assistent Joan Hambidge

Sunday, September 21, 2014

Reisjoernaal: ‘n Sloweense en Kroasiese pelgrimstog (2014)


Dubrovnik hawe


The very activity of taking pictures is soothing, and assuages general feelings of disorientation that are likely to be exacerbated by travel. Most tourists feel compelled to put the camera between themselves and whatever is remarkable that they encounter. Unsure of other responses, they take a picture. This gives shape to experience: stop, take a photograph, and move on. The method especially appeals to people handicapped by a ruthless work ethic — Germans, Japanese, and Americans. Using a camera appeases the anxiety which the work-driven feel about not working when they are on vacation and supposed to be having fun. They have something to do that is like a friendly imitation of work: they can take pictures.

Susan Sontag


My reis na Slowenië en Kroasië was ‘n blaaskans. Reis as werklike wegkomkans. ‘n Pouse voor die laaste kwartaal dawerend aanbreek. Ek bederf myself, na ‘n meevaller, op ‘n Lufthansa-besigheidsklas-kaartjie vanaf Johannesburg tot in Frankfurt en dan tot in Slowenië.

Ek verkies egter kleiner vliegtuie. Lufthansa se besigheidsklas is te groot en die diens is stadig. Gee my Turkish Airlines: adret, vinnig, min mense aan boord.

Reis het altyd sy curve balls. Of dit nou die muurprop is wat nie pas by jou rekenaar nie of die frustrasie van foto’s wat nie wil aflaai nie, omdat jou nuwe laptop nie met die ou kameraprogram wil praat nie. Of ‘n jong sekuriteitesbeampte wat jou Zippo wil skaai en eis dat jy dit buite toe moet neem en vernietig, so is die so.

“Benzien, nein. Benzien.” En jy pleit dat jy dit in New York gekoop het en hy oorhandig dit weer terug met ‘n ligte waarskuwing.

Dit is Frankfurt-lughawe waar jy sopas jou Internasionale vlug verlaat het en seweuur in die oggend etlike kilometers moet stap om jou vlug te kry na Ljubljana. Presies 24 uur later is jy in jou eerste stad. Ek word afgehaal by die lughawe en tjekkereer in by die Antiq Palace hotel. Dit is langs die musiekskool geleë en daagliks word jy vergas met die mooiste stemme wat oefen aan bekende en minder bekende arias. So is dit dan met reis – die ewige spanning tussen die bekende en die onbekende.

Die binnetuin van die Antiq Palace hotel

Dag een:

Reis is harde werk. Die eerste dag in Ljubljana moet ek die toergroep om 10 vm ontmoet voor die stadsaal. Van die Antiq Palace is dit ‘n hondegaloppie tot daar. Helaas. Geen groep nie. Ek gaan sit op die trappies en wag. Vra vir ‘n gids of ek tot sy groep behoort, maar hy seg ferm nee. Ek wag. Dis twintig oor tien. Dan besluit ek: die toeristeburo moet my help. Net om daar uit te vind dat dit wel my groep is wat deur die stadsaal stap. Die gawe vrou bel hom op sy sel en ek sluit dan by hulle aan. En so besigtig ons die stad met al sy besienswaardighede. Ek neem foto’s en laatmiddag is daar ‘n bootvaart.

Ljubljana

Die draakbrug – wat mag simboliseer – is een van ons belangrike besoekpunte. In die Griekse mitologie het Jason glo die draak verslaan. Ons sien ook die monument van die digter France Prešeren met die muse wat oor hom die wag hou. Hy het die  Sloweense nasionale epos geskryf. Sy lewe was gekenmerk deur die onvervulde liefde vir sy muse Julija Primic. Hy het volgens die inwoners van die stad ook ‘n liefde vir drank gehad en het tweekeer probeer om sy eie lewe te neem.

Die ou kasteel – waar vele burgerlikes op Saterdae hul troues hou – is ‘n volgende baken. Die kabeltrem tot bo is flink en slegs diegene wat besonder fiks is, sou die trappe tot bo kan waag. Ons groep bestaan uit Amerikaners wat vir die Duitse weermag in Bavarië werk. Op die een man se kuit is daar aanskoulike tatoeërmerk van Afganistan. Orals bulder koerante en TV dat Christine Lagarde in diep moeilikheid is oor die beweerde bedrog rondom ‘n transaksie vir Sarkozy tydens dié se bedenklike regime. Op televisie lyk sy uitgeput en afwerend.

Ek neem foto’s en is amper laat vir die bootvaart. Gelukkig sien die kaptein my en bring die boot terug sodat ek kan opspring.

Op ons bootvaart is daar ‘n New Yorker saam met my op die boot. Ons gesels oor die jongste samesweringsteorie oor 9/11. Dalk was dit nie vliegtuie nie, maar eerder bomme wat die twee Toringblokke afgebring het. Hy verwerp dit. Hy was daardie dag in die nuuskantoor in Manhattan en hy het self die twee vliegtuie gesien.

Ons gids neem ons na ‘n restaurant waar ons peusel aan varkworsies. Dit is egte vark met bietjies spek wat gekook word. Lieflik, lieflik bedien met mosterd.

Slavoj Žižek is immers in 1949 hier gebore. Hy word deur Terry Eagleton beskou as die briljantste filosoof van ons tyd.

In die nag naby die Antiq Palace hotel hoor ek die Dom se slae in die stil nag. Hoe geluidloos, stil is die nag hier.

My obsessie met deure - ‘n simbool van liminaliteit – word bevredig in hierdie stad.

Deur

Verdere dag:

Vroegoggend is ek in die brekfiskamer en hoor Afrikaans. Ek gesels met twee gawe Suid-Afrikaners uit Stellenbosch. Op die oggendnuus wat ek via my rekenaar lees, verneem ek ‘n Stellenbosse student is verkrag. Dié slegte nuus uit Suid-Afrika verdring ek met ‘n dag-uitstappie na Bled en Bohinj. My private gids kom haal my met ’n nuwe Citroën, en orals sien ‘n mens die nuutste modelle van BMW’s en Mini’s. Motors is ‘n statussimbool, verduidelik my gids. Dit reën en die kasteel in Bled - met sy omliggende meer - is vol toeriste. Dan vertrek ons na Bohinj en onderneem ‘n boortvaart. Die eienaars is wel ter tale, bied my Schnapps aan en ons kyk na die visse in die deurskynende water.

Ek vra hom uit oor Slavoj. Hy korrigeer my uitspraak.
“Hy is nie hier so belangrik as elders nie.”

Forel is hier van die beste ter wêreld, word ek vertel. Dit lyk nes Magoebaskloof en skielik onthou ek die heerlike forel van Haenertsburg en omstreke.



Ons vertrek na ‘n restaurant - duur! - waar jy jou eie forel kan kies.

Die vis is uit die boonste rakke. Ek stiek my gids vir ‘n biefstukslaai wat hy opsmul.
Ook die wyn is puik.

Ons skuif oor die groen landskap. Die taai moegheid van die afgelope kwartaal begin uit my vloei. My gids babbel onophoudelik en vertel staaltjies oor die politiek van sy stad. Geen motors word in die sentrum van die stad toegelaat nie. Dus is alles veilig vir toeriste. Die locals is egter minder gelukkig hieroor, want hulle moet hulle motors buite die middestad los en inkopies moet dus per voet gedoen word.

Laatmiddag sit ek in die Ljubljanski Dvor. Hulle maak pizzas so groot soos wawiele waaraan ses mense met vreugde smul. Ek dink aan die Sloweense digter se standbeeld met sy muse wat oor hom die wag hou. Ek waag my hand aan ‘n paar puntdigte:

Elisabeth Eybers

Altyd in balans, in ewewig:
afgeweeg simmetries ‘n gedig.

D.J. Opperman

Die swart kategese oor Dertig,
bly steeds leersaam en kragtig.

Sheila Cussons

Deur leed en gas gepuur:
‘n engel red jou uit die vuur.

N.P. van Wyk Louw

Jy speel Ovidius in Amsterdam;
later op die tuisfront nog eensaam.

Johann de Lange

Elke nag weg hoor ek die Dom se slae,
my rooi Mondaine glimmer verlange.

Ljubljana


Nog ‘n dag:

Dit stuifreën en ek moet ‘n taxi neem na die Grand Hotel vir my reis na die Postonoja-grotte en Bledjama-kasteel. Die tyd vir oppik is presies om twaalf. Ek wag in die klein Aperitiv-bar, maar geen reisgeselskap nie. Ek vra die hotel om te bel, maar helaas, dit blyk later te wees weens die reën.

Ek drink ‘n espresso en lees e-posse. Waar was ons voor e-posse?, wonder ek. Hoe het ons bestaan sonder smse, selfone, e-posse, ensomeer? Hier sit ek ver van my kantoor, maar ek kan etlike besluite neem oor departementele aangeleenthede; vir studente e-posse met leeswerk aanstuur; met vriende kommunikeer; Die Burger lees;  Litnet; Versindaba. Met moderne tegnologie verlaat jy dus nooit jou huis nie. Jy is met ‘n enkele kliek of konneksie terug in die milieu waar leef. Dalk is die aanhaling van Susan Sontag oor fotografie dan tersaaklik. Hierdie aanhaling – versend deur Johann de Lange na my – plaas die vinger op die pols. Die hardwerkende persoon verlaat nooit regtig haar huis of kantoor nie.

Die dag in die grotte is ‘n belewenis. ‘n Treintjie (so amper van kinderformaat) neem jou deur die grotte met die stalagtiete. Die water drup op ‘n mens se kop en ná die klein treinreis, moet jy vir 40 minute stap agter ‘n gids wat so vinnig wikkel dat jy nie ‘n woord kan hoor nie. Dit is ‘n primordiale ervaring wat my terugneem na my jeug toe ek deur die Kango-grotte moes waad en uiteindelik deur ‘n klein tonneltjie kruip. Hierom besluit ek toe die treintjie stop, om af te klim net vir ingeval ek weer deur so ‘n hellevaart moet gaan.

Hierna is dit na die kasteel waarop ek sweer Disney hulle logo gebaseer het. Asemsnakkend mooi.

Kasteel


Epifanie
 Vir die digter
 van die jukstaposisie

Huise uit sandsteen geweef
nes tapyte uit sywurms gegis
soos wyn uit druif gekap,
vir weef, kap of gisting
tot ‘n unieke klein gedig:

immers meer poësie
in ‘n sneeuvlok,
in die huis snags
as die strofe bedags;

meer te wroet
oor die dood
en Marilyn Monroe
as van lewensbrood;

rympatrone gevind
in die ontoelaatbare,
die ongesegde,
met stilte gerinkink.

In die huis van die digkuns
was daar vele wonings:
Huise uit sandsteen gegis
nes tapyte uit sywurms gekap
soos wyn uit druif geweef ...

dié digter, ‘n allotroop,
stap jambies
ligvoets
eenkant
onversadig
verby.
 

Nog ‘n dag: treinrit

Die trein van Ljubljana na Zagreb is net so onder die drie ure. My groot doodskis-reistas word deur ‘n galante jong man wat saam met sy ma op vakansie gaan op die trein gelaai. Ons gesels te lekker oor sy land en sy mense. In ons kompartement sit ‘n ex-Hong Kongolees wat tans in Kanada woon. Sy het Hong Kong verlaat, omdat sy die stad as te benoud ervaar het en Kanada bied vir haar die landskap en natuurskoon wat sy waardeer. Ek kyk na die lieflike Sloweense landskap. Bruisende rivierwaters en by die Kroasiese grens is daar twee polisiemanne wat my paspoort bekyk. Ek kry twee stempels. Een vir Slowenië en een vir Kroasië. Goddank die Duitse Konsulaat in Kaapstad het my gedwing om beide visums te kry! Ek sien hier hoe ek afgesmyt word van die trein en moet terug duimgooi Ljubljana toe na die Antiq Palace-hotel in motreën.

Ek word by die stasie ingewag met ‘n plakkaat: ”Mrs Joan Hambidge” vir my reis van ‘n paar dae deur Kroasië: Kroatian Highlights. Ons moet om 7 nm in die hotel se portaal ontmoet vir ons gesprek oor hoe laat, waar en wanneer. Dan die eerste ete saam met die toergroep, weliswaar kleinerig.

Hierdie soort toere neem jou vinnig en sekuur na die sentrum van alles, die hoogtepunte, met gidse wat jou kan meedeel wat jy behoort te weet. Die downside is uiteraard dat jy vreemde mense moet kan hanteer en gesprekkies moet maak.
“O, reis jy ook alleen?”, vra ‘n vrou meesmuilend. Ek gaan sit dadelik alleen by ‘n ander tafel.

Die volgende oggend na ‘n besoek aan die kerkhof en katedraal hou ek my eenkant.
Sit alleen heel agter in die bus en die gids kry die boodskap. Ons het drie ure om die stad te verken en ek doen dit op my eentjie. In ‘n wifi-kafee drink ek koffie. Bekyk die locals.

Katedraal

Kerkhof

Optelvers

‘n Katedraal en ‘n kerkhof
in Zagreb se stuifreën
bekyk op my reisplan.
Aljander aljander
so deur die bos:
zagrabiti bedui glo
om te “scoop”.
‘n Man met ‘n sambreel rooi
loop voor my kamera in:
ongenooid en ongevraag.
Agter my in die Bistro Capuciner
sit ‘n ouvrou alleen
met ‘n bos blomme
gekoop op die markplein
vir haar huis waarheen
sy waarskynlik sal terugkeer
om die sirkelroete van vrouwees
te voltooi nadat sy haar man
afgegee het aan die Aljanderbos,
haar kinders vertrek
het na ‘n vreemde plek
waar haar kleinkinders
die katedraal nou verloën.
Asof sy voel ek skryf oor haar,
verlaat sy hierdie gedig
en stap na die kerkhof.
Alles op reis het te make met tyd,
wagtyd, opruimtyd, vertrektyd ...
Geduldig wag ek op die slot
voordat ek uiteindelik uit Zagreb
sal gaan, ‘n aangekomene,
nie vertrekkende.

Dan na die beroemde watervalle. Maar dit reën so erg dat ons nie watervalle en eilandjies kan besoek nie. Ons kyk na ‘n dokkie oor die verskillende eilande. Dit heet die Plitvicka Jezera Nasionale Park wat deur Unesco bewaar word. Vir die meeste toergangers is dit ‘n groot teleurstelling, want dit is waarom hulle hierdie reis aangepak het.

Die aand gaan ons tuis in ‘n hotelletjie: die Hotel Degenija. Die aand het ons ‘n keuse tussen vark en forel. Ek kies die vark wat uit die boonste rakke is. Langs die pad kan ‘n mens telkens sien hoe mense by oop braaiers vark gaarmaak. Die wyn en bier vloei. Ek hou by die bier en vind die Karlovaċko lieflik. Die toergroep is gemoedeliker as aan die begin van die reis. Bruce uit Nieu-Seeland verduidelik alles wat te wete is oor hoe ‘n mens forel vang en dat dit nie net ‘n varswatervis is nie. Hy wys op die verskillende kleure en die vis se vlees moet pienk wees. Anders is dit nie forel nie.

Nog ‘n reisende dag:

Trogir langs die Adriatiese kus. Hierna beweeg ons na Split. Na die stormweer van die afgelope tyd is Split warm. Humied.

Split

Ons land laatmiddag in die Hotel Katarina, gebou in 2009 en dus modern. Ek verkies ouer hotelle op my reise. Selfs al is dit net driester. Hierdie een is vierster: uiters modern, netjies, state of the art. Maar sonder siel. En hier kan ek bely dat ek waarskynlik die slegste kos van my lewe geëet het. ‘n Koue buffet met hoender, tjips, vis en seekosse. En ou slaai. My reisgenote knor ook, maar ek vra dat dit opgewarm moet word. Marginaal beter, maar steeds smaakloos. Met een kelner wat tussen dertig gaste rondhardloop om aan die drankbehoeftes te voorsien. Die ontbyt, helaas, is nie veel beter nie. Koue eier, koue spek, koue worsies en ou brood ...

Ek stoot my bord terug. “Cutting corners”, mor die Australiese vrou uit Brisbane. ‘n Goeie hotel, maar weens suinigheid is alles maar raap en skraap.

Orals sien ‘n mens die letsels van die onlangse oorlog op die klein plattelandse dorpies. Ek lees oor die Eerste Wêreldoorlog en oor die komplekse stryd van die sogenaamde Bosniese oorlog. My gids verduidelik. Ek maak aantekeninge – vir verdere navorsing. Later sit ek my notaboek neer en vir etlike dae maak ek geen aantekeninge nie ten einde te rus.

Dan, Dubrovnik:

Dubrovnik

Hierdie hawestad is werklik beeldskoon met sy Romeinse mure wat die stad omsirkel.


Om ‘n uitskotvers oor die landskap van Kroasië te skryf
vir JdL

Met filmmaak beland
daar glo altyd footage
op die vloer
en fotograwe delete, delete, delete,
so weet ons,
tot die volmaakte foto
die oomblik
perfek vasvang.
Met die digkuns eweneens
‘n soeke na balans, na ewewig.
Ook hier land vele woordskaafsels
op die vloer en notaboeke,
sit vol idees, mank metafore,
indrukke wat nooit vers word nie.
In Dubrovnik herken
ek ander landskappe,
dieselfde indrukke,
wat nooit verder as herinnering
gekom het nie, blote inskripsie
in ‘n noteerboek of  opgawe
vir die taksman.
Waar eindig lewe en begin kuns?
“Wat nooit, wat nooit”, hoor ek
jou kritiseer ...
“Waar, o waar is die Russiese Roulet?”
Ek probeer weer:
In Dubrovnik op die Adriatiese see,
onthou ek ‘n terloopse inskrywing,
‘n obiter dictum,
op ‘n ander kontinent,
in ‘n vreemde tydsone
met reise wat oophand, gul
beelde uitdeel oor verlore liefdes
en verlore drome. Van Puerto Montt
tot Saigon telkens beelde opgetel ...
Nou het die merry-go-round gestop,
en iewers weeklaag
‘n vals viool en trekklavier
op die dorpsplein met mure
om die stad en óm my hart.
Miskien, miskien omdat die vure
geblus geraak het ...
Sal ons die lier
langs die paspoort
ophang of doodeenvoudig dig:
In Dubrovnik
nie meer
aan die mag
van die digkuns geglo?

So breek die laaste dag aan. Ek neem ‘n foto vanuit my kamer en voor my lê die wonderskone Dubrovnik, een van die mooiste stede op aarde. Ek swem ‘n uur voor my vertrek in die hotelswembad sodat die lang vlug van 24 uur beter kan trotseer.

Dubrovnik

Swembad

By my terugkeer dink ek oor Sontag na. Dalk vertel foto’s meer as ‘n teks? Word dit ‘n kortpad, som dit op wat woorde nie kan vasvang nie?