Bladsye / Pages

Monday, July 14, 2014

Sarah Lotz - The Three (2014)


Sarah Lotz - The Three. Hodder & Stoughton / Jonathan Ball, 2014. ISBN 978 1 444 77037 7.
Resensent: Joan Hambidge

Dit gebeur nie sommer aldag dat Stephen King ‘n mens se boek aanprys nie. Van The Three, deur Sarah Lotz, skryf hy dat hy die boek “entertaining” gevind het en dat ‘n mens sal sukkel om dit neer te sit. Hierdie leser is ‘n Stephen King-bewonderaar. Dink maar ook net hoe sy romans al verfilm is – Misery (1990) en The shining (1980), om twee uit te sonder. Met The shining was hy natuurlik in die hande van die briljante Stanley Kubrick.

Sarah Lotz se The three werk met die gegewe van die “unheimliche”. Ons het onlangs beleef hoe ‘n Maleisiese vliegtuig verdwyn het. 9/11 is steeds vars in die geheue. In hierdie roman word vier vliegtuigongelukke,  wat terselfdertyd plaasvind, ondersoek. Is dit ‘n teken van die apokalips?  ‘n Religieuse fanatikus meen dit is die geval en juis omdat daar driekeer ‘n kind gevind word as die oorlewende, word die vermoede bevestig dat dit dalk die geval mag wees. Kyk maar net televisie en daar is steeds programme wat nuwe teorieë aanbied oor die noodlottige dag van 9/11. JFK en Lady Di word  steeds onder samesweringsvergrootglase geplaas deur die media.

Ondertussen slaan die pers toe op die drie oorlewende kinders wat gedwing word om skuiling te soek in hierdie roman.

Die roman begin met die beskrywing van 'n vlug wat gaan neerstort. Ons beleef alles vanuit Pam se perspektief. Hierna begin Black Thursday: - From Crash to Conspiracy (Inside the phenomenon of The Three) saamgestel deur Elspeth Martins, uitgegee deur James & White Publishers waarin verskillende ooggetuie verslae vir die leser weergegee word. Die eerste gedeelte heet Crash met onder andere 'n vertelling van Yomijuri Miyajima, 'n geoloog en selfdood-begeleier,  en die berugte selfmoordwoud Aokigahara. In hierdie afdeling word die bo-natuurlike element van die roman gevestig met die verwysing na jaloerse geeste wat die lewendes (en oorlewendes) hul lewens beny.

Mense vertrek na hierdie woud - met selfdood-handleidings - om aan alles 'n einde te maak. Hierteenoor word 'n vertelling in Khayelitsha weer vanuit ‘n ander perspektief weergegee. Die leser beleef rasse-ongelykheid en kan die spanninge van 'n gemeenskap sien. En hoe die pers gewetenloos toeslaan.

Die Boek Openbaring is 'n belangrike leidraad vir die begryp van die roman, nes mense se obsessies met samesweringsteorieë. Die impak van internet-gesprekke word deel van die verhaallyn.

Ons word binne die ervaringswêreld van Pam geplaas en haar angs rondom ‘n naderende vliegramp.  Sy gaan haar dogter in Japan besoek. Op dieselfde dag, 12 Januarie 2012, stort vier verskillende vliegtuie neer: in Suid-Afrika, Japan, Florida en in die see. Drie kinders oorleef en hulle word dan getipeer as “The three” – hierdie gegewe herinner aan Bernardo Bertolucci se film, The little Buddha (1993) en verskillende kinders wat inkarnasies is van die Boeddha-figuur. Rondom die boodskap wat Pamela gelaat het op haar selfoon, word daar interpretasies gemaak  van die ramp “Black Thursday”. Is hierdie kinders inderdaad dalk vooruitwysings van die apokalips? Sou ‘n mens die rol van die verskillende perde uit Openbaring aan hulle kan toedig?

The three kan tipeer word as wetenskapfiksie, spanningsverhaal, apokaliptiese verhaal - en 'n slim roman-binne-'n-roman. Die “outeur” is Elspeth Martins wat uiteindelik kommentaar lewer in die slot in ‘n wêreld waarin verskillende denkrigtings tegelykertyd bestaan en niemand meer kan aanspraak maak op die Waarheid nie. Juis die gekose vertelstrategie, naamlik ‘n non-fiksionele teks getiteld Black Thursday: Crash en dan afwisselend Conspiracy en Survivors. Ten slotte: Endgames.  Hierdie hoofstukafdelings dui op wisselende perspektiewe wat die soeke na waarheid deurentyd ondermyn en bevraagteken.

Navorsers in vertelstrategieë  sal ook oplet hoe sy die spel tussen fiksie en werklikheid volhou. Ons kry ‘n nawoord tot die eerste edisie te lese (413) en ‘n ontknoping van die gegewe. Is dit toevallig dat die selfdood-mentor ook vir Hiro gered het tydens die vliegramp?

Die invloed van avatare op menslike identiteit word eweneens in hierdie roman ondersoek. Daar is blyke van deeglike kennis van o.a. die Joodse - en Xhosa-kulture.

Vir my is die sterkte gedeelte die ervaring van Pam en haar spanning rondom haar naderende dood, die indrukke van Yomijuri Miyajima, die sogenaamde selfdood-mentor in Japan se Aokigahara-woud en die gesprekke tussen Ryo en Chiyoko. Uit die nawoord is dit duidelik dat hier geweldig baie navorsing gedoen is en sy bedank ook (o.a.) vir Lauren Beukes as leser en haar “porn elf”, Paige Nick, redakteur Helen Moffett. Met laasgenoemde twee skryf sy A girl walks into a bar, wat opslae maak oor die uitdagende gender-kwessies wat dit aanspreek.

Liefhebbers van scifi sal die kil afstandelikheid, selfs sinisme van die vertellende instansie raaklees. En scifi geskryf deur vroue, soos Ursula K. le Guin, bring altyd genderperspektiewe te berde.

Die roman is vlot geskryf en veral jong lesers sal hierdie populêre, dog goedgeskrewe roman baie geniet. En ‘n mens sou beslis ‘n film kon maak van hierdie boeiende gegewe!


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Beeld.)