Bladsye / Pages

Friday, July 4, 2014

Danie Marais - Solank verlange die sweep swaai (2014)


Danie Marais: Solank verlange die sweep swaai. Tafelberg, 2014. ISBN 978 0 624 06842 6 
Resensent: Joan Hambidge

I

Danie Marais debuteer in 2006 met die bundel In die buitenste ruimte. Hierna volg Al is die maan 'n misverstand (2009). Sopas verskyn sy derde bundel: Solank verlange die sweep swaai.  Die bandontwerp van Anton Kannemeyer is treffend en dit dui reeds 'n krities-satiriese aanslag aan. Transgressie en die oopmaak van taboe-onderwerpe is bekend aan Kannemeyer se strippe-kuns.

Hierdie digter se verse kan aan drie belangrike eienskappe herken word: die sogenaamde praatvers (parlando), die sterk outobiografiese element en 'n besinning oor die digkuns se aard en plek in 'n moderne samelewing.

Die sterk praatelement of voordragverse spreek veral jong lesers aan. Die digter is ook rubriekskrywer, onder andere oor moderne musiek, en vele van sy verse tree in gesprek met figure soos Bruce Springsteen, by implikasie met Leonard Cohen – wat sy loopbaan as digter begin het – en Johnny Cash, om enkele name uit te sonder. Daar is 'n gedig vir Emmylou Harris ("Fok jou, Emmylou Harris", 87) en woede (en depressie) is onderliggend aan vele van die verse. In 'n gedig aan sy kind is Bruce Springsteen die gespreksgenoot: "Bloedneus praat met Bruce Springsteen praat met my dogter" (83).

Soos Hunter Kennedy van Fokofpolisiekar se verse, daag hierdie gedigte die grense uit van die konvensionele gedig en liriek. Die invloed van Charles Bukowski is aanwesig nes die gesprek met 'n ander verlore romantikus, Raymond Carver.  'n Mens sou ook die invloed van Tony Hoagland kon naspeur.

In "Wit mens se sad" , 70 - begelei met 'n motto uit Ronelda Kamfer - kom hy in opstand teen sy wit, bevoorregte jeug en die geweld wat daarin opgesluit is. Die sterk outobiografiese element - wat reeds van sy debuut af aanwesig is - word weer aan bod gebring met verse oor 'n pynlike egskeiding, die belewenis van vaderskap, liefdesverrraad, die siekte van 'n ouer, die selfdood van 'n neef en ander familiesages. Daar is verse wat 'n mens as ars poëties kan tipeer, soos "Die dronkverdrietige hofnar dreig melodramaties om die tuig neer te lê" (91), "Nie 'n vrye vers nie" (47), "1 2 3 blok  myself!" (34), "Digter, basterwit" (24), "Wat swak gedigte weet" (16) met 'n aanhaling uit Auden wat moet lees:

For poetry makes nothing happen: it survives
In the valley of its making where executives
Would never want to tamper, flows on south
From ranches of isolation and the busy griefs,
Raw towns that we believe and die in; it survives,
A way of happening, a mouth.


II

Die sjarme van hierdie bundel is geleë in die gemaklike, loslit-aanslag. Alles word letterlik gedig. Maar dit is dan ook die gevaar van die praatvers as sub-genre: die gedig is dikwels (vir my smaak) te lank en kan op enige plek afgesluit word. Maar dis nie hoe hierdie verse beoordeel wil word nie: dit wil as ongebreidelde vers aangebied word. Vele gedigte neem sterk standpunt in téén die konvensionele digkuns en die digkuns as 'n elitistiese bedryf. In "Die dronkverdrietige hofnar dreig melodramaties om die tuig neer te lê" (91) tree hy sy tydgenote aan, maar draai die mes ook ten slotte in op homself:

Ek sukkel deesdae om gedigte te lees –
al die woordspel, naskeermiddel en ego terwyl
'n versukkelde weergawe van Rome vol franchises
in vlamme staan wat nie heeltemal eg lyk nie.

Daar word verwys na 'n "on-gedig" (86) en Neruda se liefdesgedigte bring kennelik nie meer vreugde nie: "Vergeet Neruda" (80). In "Nie 'n vrye vers nie" (47) word die woede verwoord wat afloop in sy ontnugterde slot:

'n laeklas soort van sonnet met
'n voorspelbaar verpletterende slotkoeplet.

Die sterk outobiografiese aanslag maak van die leser voyeur in die intieme arena van die liefde, afgelope verhouding, familiedramas en 'n nuwe liefde. Die gebruik van boksmetafore dui op 'n spreker wat hom oorrompel voel in die "ondermaanse ellende" (90).


III  

Uiteindelik sal die leser ook hierdie bundel aan die volgende digterlike uitspraak meet:

Goeie gedigte is die kopligte
wat jou fataal verblind,
want dis 'n moorddadig geykte uitdrukking
agter die stuur van dié twaalfton-cliché. (17)

'n Handvol verse is werklik uitstekend: daar waar die (outydse) vorm en inhoud een word ...

In die "literêre bestaansboerderytjie" is die korter verse onthoubaar in hul "less is more"-aanslag, soos byvoorbeeld "Zombie" (68) en "Nuwe oë" (15).

Hierdie bundel verwoord ook die gevoel van 'n jonger generasie: hul sinisme, uitsigloosheid, gevoelens oor politieke onregverdigheid. Gelukkig is die digkuns 'n plek waar die digter hom kan uitwoed oor al die ongeregtighede en persoonlike ellendes wat hom getref het:

kop in een mus met die digkuns die hart
se rooi gemors
"Ek"


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Fine Music Radio.)