Bladsye / Pages

Monday, April 1, 2013

Dolf van Niekerk - Bleek Planeet (2013)




Dolf van Niekerk. Bleek Planeet. Protea Boekehuis, 2013. ISBN 978 1 86919 921 0.

Resensent: Joan Hambidge

en in die lewe en die dood
is elkeen uiteindelik alleen

Hierdie reëls staan opgeteken in Dolf van Niekerk se bundel Nag op ‘n kaal plein (2006), een van my gunsteling-bundels in  Afrikaans. Van Niekerk se verse soos opgeteken in Karoosange (1975) is nes die Karoo: gestroop. Dit is primordiale verse wat nie net oor ‘n landskap handel nie, maar die menslike psige opvang en karteer. Dubbelster (1996) wys op die dubbelspraak in hierdie digkuns wat oor sowel landskap as innerlike ervarings handel. Sy jongste bundel, die vyfde, heet Bleek planeet (Protea) waarin die digter hom binne die eko-politiek bevind. Maar dit is net een kant van die munt. Met sy eko-politiese aanslag is daar eweneens gedigte wat handel oor ons lotsbestemming:

moet swoeg om die sin
van woorde te verhaal (“Braamblom”, 61)

“Without a global revolution in the sphere of human consciousness, nothing will change for the better in die sphere of our being as humans, and the catastrophe towards which the world is headed – be it ecological, social, demographic or a general breakdown of civilization – will be unavoidable”, lui die motto van Václav Havel. Die bundel aktiveer ook die werk van Al Gore en vele films waarin die mens se plundering van die planeet uitgespel word.

Ons dink eweneens aan die radio-advertensie wat voorspel ‘n nuwe wêreldoorlog sal handel oor die gebrek aan water; iets wat ons as vanselfsprekend aanvaar. Dan natuurlik is daar ‘n ander gesprek: die hele kwessie van skalie-gas en die impak wat dit mag hê op die ekologie. Hidrobreking (of “fracking”) het voor- en teenstanders. Voorstanders beweer dat daar nie genoegsame bewyse vir “skade” is nie; teenstanders wys weer op die ónmoontlikheid om die proses terug te draai sou dit negatiewe gevoge inhou. Op Litnet is daar ‘n debat hieroor gevoer.

Maar ons wil fokus op die gedigte.

Die motto van Havel is dan die sub-teks vir die gedigte: die digter verset hom teen die mens se grypsug. Hiermee tree die digter in gesprek met Petra Müller se Liedere van land en see en T.T. Cloete se Met die aarde praat. Sy verse is egter nie net landskapgedigte nie, maar ideologies gelade, met ander woorde: die politiek van ekologie. Twee jonger digters soos Johann Lodewyk Marais en Martjie Bosman skryf eweneens oor hierdie kwessie.

Op ‘n vernuftige wyse word Dylan Thomas se beroemde gedig – wat deur taalkundiges wyd geanaliseer is – in “Nuwe seisoen” (13) as aanwysing gegee: ”The force that through the green fuse drives the flower…”. Nou kry dit ‘n ironiese aanslag, want “die aarde smag / na ‘n wonderwerk” (14). En “Veertienstrome is ‘n enkel sliert, / Gariep se bedding ‘n droë loop; / spruite verstik in slik” (14).
                                                                 
Vir my is die mees aangrypende gedigte in hierdie bundel die metafisiese verse wat op ‘n besondere wyse die mens se verhouding met die “klein en silw’rige planeet” – in Van Wyk Louw se woorde – uitstippel. Ek dink hier aan verse soos “Meditasie” (49), “Kapel” (47), “Brandskilder” (45), “Brandskilder II” (46). ‘n Sentrale vers in die bundel is “Oikonomos” (29) met die volgende slot:

Die groen planeet bly tol in sy baan,
uniek tussen sterre en planete –
mistieke huis van lewe en sterwe,
enkel in die mens se kom en gaan.

Bekende gestroopte verse – Van Niekerk se handtekening – vind ons hier:

my windharp
sing
in ballingskap
wat sing
my windharp
aan die wilgertak
waar nooit
karoowind waai   (22)

Teen die hidrobrekers of “frackers” in die Karoo, verset die digter hom in ‘n gedig waarin hy dit omkeer in ‘n ars poëtika:

snags boor ek
na die oergesteente
van die Groot Karoo
en elke dagbreek
bid ek droë woorde op   (20)

Die simboliek van die Karoo word beklemtoon deur die ruimte in hoofletters te plaas. Hiermee beklemtoon die digter dat dit vir hom ‘n heilige plek is en een waar hy woorde vind. Die skryfproses word gelykgestel aan die gebed en die spiritualiteit word gekoppel aan die daaropvolgende vers:

die eerste
herfs al
het die aarde
in U tuin
bly hang –
‘n laat
granaat   (21)

Die bundel is dan die werk van ‘n ouer digter en sluit aan by die tradisie wat Helize van Vuuren as laatwerk beskryf. In die werk van ouer digters – soos by Breytenbach nou onlangs in Katalekte – is daar ‘n bestekopname.

Die skryfproses is ‘n “swoeg om die sin / van woorde te verhaal” (61), maar ook ‘n “magiese verwildering” (60). Enersyds dan soos die digter skryf ‘n “register van vrede”, maar andersyds ‘n bewuswees dat die dood oor alles huiwer (“Mastos”, 56). In hierdie opsig is die teenstrydigheid van die lewe ‘n proses van “blom en sterf” (“Tuinier”, 53). Die besegging van die Onsienlike in enkele verse gee ook hierdie bundel ‘n mistieke kwaliteit. Terselfdertyd is daar ‘n bewuswees van die aardse:

…Die aarde
is nie van my nie maar ek is van sy stof   (40)

wat ook die Bybelse gegewe herhaal. ‘n Mens sou eweneens ‘n Jungiaanse lesing van hierdie bundel kon maak met al die toespelings op kollektiewe bewussyn en die verwysing na vensters aktiveer ‘n mandala. “Elegie vir ‘n verlore aarde” – oor See-at-hl, ‘n Christen, uit 1854 – wys op die primordialiteit van hierdie bundel en die voortdurende stryd tussen maghebbers en die Ander wat hom verset teen kolonisering. Die Amerikaanse president se bevel dat hy sy grond moet ontruim, word ‘n dwingende “objective correlative” oor die prosesse van kolonisering en grypsugtigheid. Hierdie lamentasie is ‘n hoogtepunt in ons digkuns: niemand besit die arend se vlug oor bome nie en dit is nie óns wat die dagbreek maak nie.

Die palinode op I.L. de Villiers in sy laatwerk is eweneens tersaaklik.

Die digter is opgeleide filosoof, maar die wysbegeerte bedreig hier nie die digkuns nie, omdat alles in konkrete beelde vertaal word.

Hierdie skrywer het in 1958 gedebuteer met ‘n lang en waardevolle bydrae tot ons prosa en digkuns.

Van Gannavlei (1958) dan tot Lang reis na Ithaka (2009) bly Dolf van Niekerk ‘n suiwer stem in Afrikaans – wat bevestig word met sy jongste bundel. Dit is ‘n man wat doelgerig op die aarde loop, sónder pretensie of voorgee. Met elke lees word ‘n mens onder die indruk gebring van ‘n belangrike digterskap oor al die opposisies in die mens se gees op soek na die Onbekende, Onsigbare, Oneindige…

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]