Bladsye / Pages

Tuesday, March 26, 2013

Sandile Dikeni - Telegraph to the sky (2000)



Sandile Dikeni. Telegraph to the sky. University of Natal Press, 2000. ISBN: 978069 809785.  

Resensent: Joan Hambidge

Telegraph to the sky is Sandile Dikeni orale digter en rubriekskrywer se tweede versameling. Die huis der poësie het vele wonings. Tog is dit maar so dat die sogenaamde orale gedig nie lekker sy lê op papier kry nie.

Sandile het 'n geweldige aanhang. Hy dra sy gedigte mooi voor en iewers het iemand na hom verwys as die Lorca van Afrika. Nou ja, dis kennelik iemand wat nie Lorca ken nie of maar gaaf wou wees...

Nou eenaand dam 'n man my in 'n restaurant by. Hoekom word hierna ook as “gedigte” verwys? Dis skaars versies! Waarskynlik is dit nou maar eenmaal so dat wanneer 'n gedig meer op die tematiek as die tegniek let daar nie veel diepte is nie.

Die gedig van die onmiddellike segging word maar 'n papier wat waai oor die vlaktes. En van Kahalahari's wit papier is hier nie veel sprake in Telegraph to the sky nie.

Die gedigte lewer sosiale kommentaar, maar die tegnieke is bykans dieselfde. Daar is min verrassing of wending in die verse.

“and heaven comes smelling like
Chanel or banal” (p. 21)

“Goodbye England” lui as volg:

When they killed Sipho
Mrs Jones was furious

They killed him at four o' clock
in the afternoon
and she could taste his blood
in her afternoon tea

Waarskynlik 'n interessante idee van die vrou wat die dood van hierdie kind as ontydig ervaar binne haar sekure wêreld. Maar 'n goeie vers, nou ja, die is dit nie. En dit kan 'n mens van die meeste verse skryf: dis idees (dat swartmense sterf aan TB en die wit mens hom besig hou met “to be or not to be”), maar kopooprukkende verse op 'n tegniese vlak die meen ek van nee.

Politieke of ideologiese verse kan werk in die hand van 'n bekwame digter. Gaan kyk maar na Antjie Krog se Kleur kom nooit alleen nie wat pas verskyn het.

Dit is 'n opvolg van Guava Juice (1992)wat glo die kritiek rasend had. Nou ja. Miskien is die titel al 'n onbewustelik ironiese aanwyser: dis vinnige boodskappies en nie diepsinnige gedigte nie.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]