Resensent: Joan
Hambidge
Die bundel ondersoek die mens se plek op aarde. Talle
digters het al aan hierdie kwessie aandag gegee. T.S. Eliot in The wasteland, Neruda in Canto General en Opperman Joernaal van Jorik. Om net 'n paar digters uit te sonder wat in die epiese
vers hieroor besin het.
“Son of the sun” met sy vyf afdelings is dan ook so 'n
vers, ofskoon dit speelser in opset is. Dit vermeng geleerdheid met alledaagse
verwysings. Die buiteblad aktiveer ook die tarot: die son as simbool van
verhoudings (major arkana XIX) en dit is ook die kaart van uitbreiding, oftewel
ekspansie. En dit is wat ons hier vind: Cosmo Naut se reis deur wetenskaplike
ontwikkeling. Die reis lewer verslag van sowel die uiterlike as die innerlike
reis. Daar is ook 'n maanlanding, verwysing na Newton se kwantumfisika,
kwantumfisika, maar alles gelukkig vermeng in 'n speelse aanslag en geskryf met
'n bedrewe, vaste hand sodat die leser hieruit kan genot put.
Dit is net jammer dat hierdie digter nie die voordele
van 'n gerekende uitgewershuis en goeie redakteur het nie. Ek verwys nie net na
die bemarking van boeke nie, maar ook na die raad van 'n Charles Fryer-figuur
wat met 'n skerp lanset kon snoei of prik.Om daardie ou “darlings” dood te
maak. Soms dreun dit darem net te veel (taram taram tam tam) en ook is die rym
'n iets gedronge so tussen die skitterende momente deur. En as die leser voel “hulk”
gaan met “bulk” rym, is dit al fout.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]