Bladsye / Pages

Wednesday, March 27, 2013

P.W. Buys - Van sigbare en onsigbare dinge (1998)



P.W. Buys. Van sigbare en onsigbare dinge. Tafelberg Uitgewers, 1998. ISBN 0 624 03706 1.

Resensent: Joan Hambidge

In 1977 debuteer PW Buys met 'n bundel gedigte Pleroma en in 1987 verskyn sy tweede bundel Wit korbeel. Nou, geruime tyd later, verskyn sy derde bundel ter viering van sy 75e verjaarsdag en dit heet Van sigbare en onsigbare dinge.

'n Letterkunde het ook sy bestendige kleiner stemme nodig. Digters wat dikwels nie op die voorgrond staan nie, maar wat 'n onthoubare klein gedig skryf of gewoon net deel vorm van die hele tapisserie van 'n digkuns. So 'n digter is PW Buys.

Hy is 'n hedendaagse Totius, 'n digter wie se gedigte my nog altyd om hul eenvoud dog vormvastheid geïmponeer het. Dit is gedigte wat handel oor die mens se aardse bestaan èn metafisiese bestekopname. Totius, terloops behoef 'n hele herwaardering. Dit mag 'n klein tintinkietaal wees, maar op sy beste het dit 'n sterkte. Dink net aan 'n reël soos :”'n koue gril deurhuiwer my”.

Buys was op sy dag predikant en professor in die teologie. Tans is hy pastorale versorger van bejaardes, en natuurlik ook: digter.

Herfs

Ek het die najaar lief
al skryf hy elke maal
April en Mei subtiel en suggestief
in duister taal
veel ouer nog
as Sanskrit, spykerskrif of hiëroglief
dieselfde ou verhaal...
Die eerste week in Junie liasseer ek hom finaal
– 'n klaar vergeelde brief –
diep in die hart se klein argief. (p. 22)

Die groot kuns om steeds oor abstrakte sake soos die dood, siekte, die metafisika en dies meer konkrete gedigte te maak, word deur hierdie digter begryp. Hierom dan die 'apologia pro domo' van R.M. Rilke: jy moet baie geleef, gesien, gereis het. Kortom, as belewenisse nie deel van jou geword het nie, kan jy nie dig nie.

In “Stylus Virum Arguit”(p. 27) skryf die teoloog aan 'n oud-student 'n brief oor hoe hy moet preek. Die styl verraai inderdaad die man, want hierdie brief van voorskrifte word ook 'n verhulde èn slim ars poetica!

Dit is 'n bundel wat getuig van baie jare se leef en nadink. Daar is 'n skerp oog op die menslike lyding, oor siekte (die slopende ervaring van kanker), oud-word en dood.

Ook kan die onbetwiste invloed van TT Cloete op 'n tegniese vlak gesien word. Die rymbeheer en in 'n gedig soos in  “Die dowwe lamppit...”(p. 32) en ook die enumerasie van die gewone en sublieme. Trouens, Cloete se invloed is selfs merkbaar in Lina Spies se jongste bundel Die skaduwee van die son wanneer sy dig oor Jackie Onassis.

Buys se gedigte spreek 'n mens aan omdat daar niks vernaams of afwys--intellektueel aan hulle is nie. Tog getuig die gedigte van tegniese vaardigheid en van 'n besliste na-dink oor kwessies soos vorm-tug. 'n Mens sien hier die hand van 'n wyse, ou man wat ook met sorg rekenskap gee van die funksie van die poësie.

Ook die nederigheid van die skryf van poësie word geplaas teenoor die almagtigheid van die Goddelike soos in

Suikerbekkies

Groen suikerbekkies in die son
vol soet geluk oor hom.
onodig om hom neer te skryf,
hy is by voorbaat 'n gedig:
vuurrooi, bitter aalwynblom!  (p. 17)

Die digter wil kennelik gemeet word aan die Rilke-uitspraak dat gedigte maar min werd is as dit vroeg in jou lewe geskryf word. Dit is natuurlik nie altyd waar nie! 'n Mens dink hier aan Rimbaud, Verlaine; ons eie Antjie Krog en Theunis Engelbrecht. Die wins van ouer poësie is natuurlik dat dit ontdaan is van jonger sentimente, maar by 'n jong digters -- soos in die genoemde voorbeeld -- was daar alreeds sterk vormbeheer. 'n Mens het dit; of jy het dit nie.

Soms is die gedigte steurend en aangrypend (soos in die behandeling van kanker); ander kere is dit klein waarnemings, maar tog gevoelig:

Naamloos

Twee duiwe het van die nes af opgevlie –
die een het teruggekom, die ander nie.

Twee bome het jare saamgegroei –
dié lente staan net een in bloei.   (p. 43)

Daar is dan ook gedigte oor die natuur - soos die lieflike “Troupant” (p. 18) en “Knysnaloerie” (p. 19). Die digter skryf beeldend en deur middel van sy goed gekose beelde dra hy sy boodskap oor sonder dat dit prekerig raak.

En van harte hoop ek daar's 'n lekker paartie daar in die aftree-oord!

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]