Bladsye / Pages

Tuesday, March 5, 2013

Pirow Bekker - Stillerlewe (2002)



Pirow Bekker. Stillerlewe. Protea Boekehuis, 2002. ISBN 1 919825 96 7.

Resensent: Joan Hambidge

Na wat voel as ‘n langerige stilte verskyn daar by Protea-boekwinkel ‘n skitterende bundel van Pirow Bekker: Stillerlewe. Die titel dui op die gedig as stollingsproses, maar dit verwys ook na die stilwording of inkeer wat die ouderdom meebring. ‘n Mens word in hierdie bundel getref deur ‘n veelheid van onderwerpe wat gedek word soos die liefde, die tuimeling van die tweelingtorings, die dood van Lady Di, Jack the Ripper, die natuur. Ook die mag en funksie van die digkuns word in vernuftige ars poeticas onder die loep geneem.

Nie alleenlik het hierdie digter iets te sê nie, maar hy sê dit so goed.  By die ouerwordende mens (en digter) is daar ook selfkastyding en -ironie te bespeur. In die pragtige “Wat het geword van Poësie?) – waarskynlik opsetlik gespel met ‘n hoofletter – sluit die digter af met :

Hierdie Bekker het nie meer ‘n bek nie
net ‘n meesmuilende mond (p. 90).

In sy reeks lykdigte oor beroemdes word ‘n nuwe blik op bekendes se doen en late gegee. “Diana lei haar agtervolgers koud”, “Papa Hemingway vind dooierus”, “Muhammad Ali versus Parkinson”, “Jack the Ripper” getuig van iemand wat goed nagedink het oor hierdie mense en wat hulle vermag het.  So ‘n gedig word dan ook ‘n dubbel-beeld: die digter se eie lewenshouding word verraai deur sy teorie of bespiegeling oor hierdie bekendes.

Van die mooiste verse in hierdie bundel is belydende liefdesverse, geskryf uit die hart, hoewel Bekker se métier ook die gestaltevers is. Dit is ‘n speurende oog wat ‘n gedig kan raaksien in ‘n meeu wat onverwags deur ‘n fratsgolf neergevel word of ‘n gesprek kan aanstig tussen Ian Fleming en sy karakter James Bond! 

Ook die intertekstuele spel is genoeglik: Ek het ‘n huisie aan die Rand” word ‘n wrange antwoord op “Ek het ‘n huisie by die see” van H.A. Fagan; “Winternag se aand” is ‘n seksuele antwoord op Marais se “Winternag”; “Stillerlewe” aktiveer Die Stem. “Jy” speel met Van Wyk Louw se woordspel in Tristia.

Jy is die vol leegte voor my,
niks is vol sonder jou
en niks is leeg met jou nie
jy is die laagte vol voor my.

Moenie weggaan nie, nooit nie,
anders sal die leegte leeg wees
en die volheid laer as leeg. (p. 76).

Die leser kan ook nie behendige inspeel op die Bybel miskyk nie. Die ses afdelings
aktiveer die Bibliese, ook asof die digter ‘n oordeel oor homself uitspreek en die mense se nuwe metafisika in ‘n tyd van kloning, geweld, tragiese rampe, teenoor die ou filosofie plaas.

Selfs ‘n slak (“Posbestelling”) se lewe word iets waaroor die digter tob en “Immuungerus” en “Gewas” neem die digter stelling in teen siekte. In “Wals vir ma” word die verpletterende ervaring van die moeder se dood deur ander gerelativeer: dit het immers gereën! In elke gedig is daar soveel menslikheid en deernis; ‘n verstommende insig in die menslike kondisie met al sy pynlike, en terselfdertyd, nietige ervarings.

In “Stilfees” word die huweliksliefde van soveel jare seksueel gelaai: die leeftyd se ruiker word ‘n droë rangskikking. En dit is ook die liefde van die digter wat so goed verbeeld word in vele verse. “Dink ‘n bietjie mooi” word ook ‘n ars poetica en die belang van taal: dat dood altyd dieselfde bly (“Wat’s in ‘n taal? Dood is vandag, more dieselfde”).

Daar is ‘n hele klomp uitstaande verse soos die reeds genoemde programgedig oor New York, “Monochroom”, skitterende verse oor ‘n ouman in ‘n ouetehuis, ‘n persoon in ‘n tronk, om enkeles uit te sonder.  Maar dis veral die verse oor die liefde en dood wat so goed tref. 

Dit is ‘n ryk, goed afgewerkte bundel. Die leser word ook telkens teruggedwing om weer te lees, weer na te dink. Dit is die werk van ‘n beleë mens en behoort die poësiefynproewer en gewone leser te behaag. As net een bundel hierdie jaar kan bekostig, kan u gerus hierdie een koop.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]