M.M. Walters. Shih-Ching Liedereboek. Protea Boekehuis, 2003. ISBN 9781869190415.
Resensent: Joan Hambidge
Wat lig is, berus op wat swaar is.
Wat woel, berus op wat stil is.
As ‘n verstandige man reis,
hou hy sy swaar bagasie dop.
Dit is net wanneer hy veilig tuis kom
dat hy rus en hom nie bekommer nie.
Hy wat heer is oor tienduisend
strydwaens
kan hom nie lig gedra nie.
Hy wat lig is verloor die fondament;
hy wat woel,
verloor sy heerskappy.
Lao-Tse (vertaling Martin Versfeld)
Die eerste Chinese gedigte is mondeling
oorgedra. Ons dink hier onder meer aan die Shih-Ching (oftewel klassieke lied).
Dit is eenvoudige gedigte wat met herhaling werk. Latere digters is onder meer
bekende figure soos Li Po en Tu Fu. Dit is dan ook mistiese gedigte wat veral
kommentaar lewer op die natuur. Dit is dikwels gedigte sonder retorika wat
eerder deur middel van implikasie as direkte uitsê. Gekonsentreerde beelde is kenmerkend van hierdie
digkuns (Alex Preminger kan geraadpleeg word in sy Encyclopedia of Poetry and
Poetics, Princeton University Press, 1965).
So klink ‘n bekende Chinese vers vry
vertaal:
Herfs reën,
herfs reën,
Geen middag, geen nag,
Drup, drup, val, val, val.
Lamp wat doodgegaan het, koue strooibed,
broeiende eensaamheid.
Pragtige nooi,
O so treurig!
Die weste wind ruis saggies in die bamboes
by die venster,
Stop en begin dan weer;
Op geverfde wange glimmer twee trane soos juwele.
Hoeveel kere het hy belowe: “Wanneer die
wilde ganse kom…”
Hy het die datum laat verval –
Die ganse het teruggekeer, hy nie
(Preminger, p. 122).
Daar is drie digterfigure wat die Chinese
ruimte vir ons na ons digkuns gebring het: D.J.
Opperman, Breyten Breytenbach en Petra Müller. Opperman eers met sy
speelse aanwysing van hoe om ‘n Chinese versie te skrywe; dan later skryf hy
die magistrale Komas uit ‘n bamboesstok gebaseer op die reise van Marco Polo.
Opperman gebruik die reis van 1271 as ‘n metafoor vir sy afdaal in sy onbewuste
na sy lewerversaking.
Marco Polo se merkwaardige ervarings in
China word by Opperman getransformeer as die wonderbaarlike ervarings van die
digter.
In Kuns-mis (1964) staan die speelse vers
“Hoe om ‘n bundel Chinese poësie te skryf:
Skryf op snippertjies papier:
Berg, bamboes en blom,
Verder, boom en stroom en droom,
En skommel telkens om.
Sopas het M.M. Walters by Protea Boekehuis
vir ons hierdie liedereboek in Afrikaans saamgebring. Walters se werk as
redakteur van verskillende vertaalboeke kan nie genoegsaam erken word nie. Kan
die Uys Krige-vertalings nie weer uitgegee word nie?
Die volledige afsondering van die Chinese
kultuur vir ‘n 1000 jaar en die eiesoortige tradisie maak dat hierdie gedigte
vir Westerse lesers ontoeganklik gebly het. Walters erken dat hy via Engelse en
Duitse tekste gewerk het in sy insigryke inleiding. Die boek is ook voorsien
van kort biografiese opsommings en die verskillende periodes in die Chinese
geskiedenis is ook van hulp vir die leser. Hy gee nie voor om ‘n sinoloog te
wees nie en hierdie boek is dan ook nie ‘n finale woord nie.
Walters se vertalings en herdigtings is
baie goed. Li Po se “Gesprek in die berge” en “In die lente” klink lekker in
Afrikaans. Dit is dan ook ‘n boek wat ‘n mens langs Breytenbach se Papierblom
moet plaas om daardie gedigte nog meer toeganklik te maak.
So klink Chang Chiu-ling se bekende “Sedert
jy weggegaan het”:
Sedert jy weggegaan het, my lief,
het ek nog nie weer teruggekeer na my leë
weefraam nie.
Want gedagtig aan jou, is ek soos die
volmaan
wat elke nag verbleek en sy helder glans
verloor.
Een van my gunsteling verse, is Ch’in Chia
se “Aan my vrou (1)” :
‘n Mens se lewe is soos die oggendmis.
In hierdie wêreld het hy ‘n oorvloed aan
geluk.
Teëspoed en verdriet kom dikwels vroeg,
verblydende verbintenisse dikwels jammerlik
laat.
………
Verdriet kom in ‘n kringloop
en kan nie opgerol word soos ‘n mat nie.
Danksy my reis na China kon ek vele van die
kodes in hierdie boek begryp wat op elke poësie-leser se rak moet staan.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Rapport geplaas.]