Lina Spies. Duskant die Einders. Human & Rousseau, 2004. ISBN 9780798144063.
Resensent: Joan Hambidge
Duskant die Einders is die jongste digbundel van Lina Spies met ’n
voorblad-ontwerp na ‘n skildery van Adriaan van Zyl: ‘n verlate gebou in ‘n
Suid-Afrikaanse landskap wat waarskynlik psigo-analities gesproke ook die
digter se psigiese eensaamheid wil vergestalt.
Spies se jongste bundel dra in wese niks
nuuts oor nie: dit is steeds die obsessie met Amsterdam, Afrikaans, die
Bolandse berge, die digkuns en die religie. Net die af-wesigheid van die
liefdesverse (vandaar die verlate huis op die voorblad?) is hier opvallend. Oor
die liefde het sy waarskynlik van die mooiste en suiwerste gedigte gelewer in
Afrikaans.
Duskant die Einders kan ten beste as ‘n
digterlike bestekopname beskou word. Dit kom soms gevaarlik na aan
self-parodie, veral in gevalle waar daar oor bekende onderwerpe soos Vermeer
(of die verhouding tussen kuns en werklikheid) gedig word. Met die self-parodie
of selfgesprek is daar niks mee verkeerd nie. Trouens, binne ‘n postmoderne
tydvak is die netwerk tussen gedigte altyd lonend en opwindend. Dit is
interessant om te sien hoe die kaleidoskoop net effentjies gedraai word. Jammer
genoeg val die laaste bundel se gedigte nie altyd goed uit teen die ouer
voorbeelde nie, omdat daar in hierdie bundel te min oortuigende gedigte staan.
Spies se stem het skril geword en sy herinner by tye sterk aan ‘n ouer-wordende
sangeres wat bang is sy sal ‘n vals noot sing en dan eerder in ‘n beperkte
register sing as om ‘n verkeerde noot te laat deurglip. Dalk is dit die
probleem met vele ouer digters: die gedig kom te maklik sodat die tegniek oop-en-bloot
voor die leser se oog lê. In Digby Vergenoeg (1971) – toe sy nog onder Dirk
Opperman se hand was – is dit ‘n suiwer-liriese stem wat ons hoor soos in die
vers oor Amsterdam.
Van die sagte, grootoog digter het nie veel
oorgebly nie. Die leser is deurgaans bewus van ‘n betigtende, rasende,
bakleiende, opstandige digter. Sy wil die hek teen Raka sluit (hoe sielig tog)
en is woedend oor EngAfrikaans in die vers “Die koms van die monster o.a.
genaamd Raka” waarin sy afsluit:
Is daar uit sulke troebel water
nog ‘n distillaat te puur
wat geskink kan word
in glansende kristal?
Batos is die term wat by hierdie leser
opgekom het by die lees van vele van die verse. Die gedigte se beeldvaart word
dikwels ondermyn of gestuit met die vingerswaaiende Lina Spies wat die leser
wil toespreek oor die hiernamaals of ander kwessies van die dag. Die gedig word
ingespan om ‘n boodskap oor te dra, eerder as wat die gedig (soos Opperman ons
geleer het) se tema met implikasie werk en meervlakkig funksioneer. Hierdie
ontsporing het indertyd begin in haar bundel Van Sjofar tot Sjalom (1987) waar
sy persoonlike byltjies te slype had met Pretoria en ‘n gay-minnaar, met
funeste gevolge. Satire was dit nie; persoonlike venyn wél.
Die J.C. Bloem-motto in die bundel aktiveer
die reisgedagte: die gedig as ‘n reis en ook die reis na die skildery op die
buiteblad. “Verlange is die asem van die poësie”. ‘n Pragtige gedagte wat selde
goed uitgevoer word in die bundel wat gedigte dra, opgedra aan Komrij en Brink,
ons huidige twee bloemlesers, wyl ons groot kanoniseerder, DJO, nou in die
deuskantste anderkant is.
In haar mineurtoon soos in “Aanbidding” (waar sy bely
dat die mens net stamelend van God kan praat), vaar sy goed. “Hemel” op sy
beurt irriteer, omdat dit klink of Spies hier polemiseer in Die Kerkbode.
Ontroerend mooi is die vers oor ‘n kat en verkleurmannetjie. “Landsiek is so
humorloos (t.s.v. Paul van Ostaijen) en “Taalnavrae” oordrewe. “Kruispad” steek
sleg af by Cussons se “Verlief in Venesië”, hoewel die spel met Eybers meer
geslaagd is in “Uiterstes”.
Die “pynlik afwesige reisgenoot” word goed
aangespreek in die plekke wat ‘n mens liefgehad in “Déjà-vu” in ‘n bundel waar
die ‘already seen’ (soos in die vers oor Van Gogh, die spanning tussen
Nederland en hier…) alreeds beter verbeeld is.
Die Vermeerblouberge van die
Boland? Ongelukkig val die Vermeer-verse plat, omdat hy tans een van die
ooreiste simbole in die letterkunde en filmkuns geword het, gedagtig ook aan
Girl with the pearl earring. Hierdie verse is myns insiens nog te prosarig: te
veel betoog, te min waansin. In hierdie verband is Opperman se “Scriba van die
Carbonari” steeds van hoe dit gedoen moet word. Die vers “Net vir die
ingewydes” vergaan onder die soete aanslag en die lykdig oor Marjorie Wallace
‘n vers in verkapte prosa.
Op plekke waar Spies die gedig laat praat
vir sigself, lewer sy werklik uitstaande gedigte. Maar dit gebeur selde in
hierdie bundel wat ‘n groot teleurstelling is vir die poësieleser en wat
waarskynlik veronderstel was om ‘n belangrike stelling te wees in ‘n lang
digterlike bedryf. ‘n Mens sou ook ‘n studie kon doen oor die
Opperman-laboriete: hul verdwyning, kwyning en uitrafeling sedert sy vertrek na
die ander oord. Ek mis die digter van Oorstaanson (1982).
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Insig geplaas.]