Bladsye / Pages

Wednesday, March 6, 2013

Margaret Atwood - Oryx and Crake (2003)



Margaret Atwood. Oryx and Crake. Bloomsbury, 2003. ISBN: 0 7475 6259 8.

Resensent: Joan Hambidge

Die Kanadese skrywer, Margaret Atwood is ‘n gesiene romanskrywer en ‘n behendige digter. Bekroon met die Booker-, Giller-, Premio Mondello-pryse het sy veral met Cat’s eye, Alias Grace and The blind assassin respek afgedwing as ‘n groot romanskrywer buite Kanada.

Die Giller-prys, wat ‘n soort Kanadese Hertzogprys is, besing ook haar statuur. As digter skryf sy dikwels intellektueel-afstandelike verse en sommige van haar romans word dikwels ook as te bloedloos en afstandelik beskou. Maar wanneer sy op haar beste is, soos in Cat’s eye, is daar volstrekte beheer tussen emosie en intellek. Die impak van daardie roman het sy waarskynlik nooit weer ge-ewenaar nie: hoe jou obsessie met ‘n jeuginsident en –vriend jou lewenslank kan wond, sonder die medewete van daardie persoon en wanneer die uiteindelike konfrontasie plaasvind, is die oomblik van regstelling en vergelding ‘n anti-klimaks.

Die jongste, Oryx and Crake speel in op The handmaid’s tale, ‘n futuristiese roman. Die verteller Snowman (oftewel, Jimmy), slaap in ‘n boom en treur oor die dood van sy vriende Oryx en Crake. Hy is besig om dood te gaan van die honger in ‘n ruimte van ‘pigoons’ en ‘wolvogs’. Crake was aan beheer van die Paradice Projek en die leser word langsamerhand ingelig oor die redes vir die uitsiglose bestaan.

Die verhaal gebruik die kodes van die science fiction-verhaal, naamlik die vreemd-bekende agtergrond, dikwels ‘n kataklismiese probleem wat opgelos moet word, die stryd tussen goed en kwaad, karakters wat herkenbare mense is, maar wat ook eienskappe van die bo-aardse of parapsigologiese dimensies vertoon.

Die roman is gelaai met ironiese toespelings: Jimmy en Crake het in hulle jeug ‘n komputer-speletjie soos “Kwiktime Osama” gespeel en na eksplisiete seksorgies op televisie gekyk. Die roman wil dus kommentaar lewer op die verval wat in ‘n gemeenskap kan plaasvind wanneer waardes onder verdenking geplaas word. Ook het Crake na die Watson-Crick kollege gegaan waar hy ‘n top bio-ingenieur geword het. (Ons vind byvoorbeeld in hierdie roman transgeneriese diere soos ‘pigoons’ en ‘wolvogs’). ‘n Vreemde speletjie, “Extinctathon” handel oor uitgestorwe plante en diere (‘n soort waarskuwing oor wat mense kan regkry) en bekende bakens uit ons tyd is dan ook uitgewis (soos die Taj Mahal, die Empire State…)

Ook vir studies voltooi aan die Martha Graham-kollege.

Ons lees ook van BlyssPlus wat die gebruiker teen enige vorm van seksueel-oordraagbare siektes sal beskerm, jou libido sal opwerk en ook ewige jeug sal verseker (p. 294). CorpSeCorps en ander vreemde name dui ook op waarmee die skrywer die hele tyd die gegewe wil laai met simboliese betekenis.

Wie of wat is Oryx?

Hulle het haar in hul jeug ontmoet toe hulle na ‘n program oor seks-slawe gekyk het. Ook hierdie beskrywings is grensoorskrydend, omdat die roman as sodanig kommentaar wil lewer oor die gevolge van morele verval en dat ons in ‘n tyd van kloning en generiese eksperimente ons eie posisie op hierdie planeet aantas. Soos in The handmaid’s tale is Atwood besig met skerp sosiale kommentaar.

Ook die binnespraak van die karakters – soos wanneer sy Oryx aan die woord stel binne die opset van die seksslawerny – word oortuigend gedoen.  Sy kry dit ook reg om haar verskillende karakters ‘anders’ te laat klink.

Ook die rekenaarbeheerde foto wil iets van hierdie dimensie verklap tussen dit wat ons herken en dit wat buite ons reikwydte of kennisveld lê.  As ‘n mens na verskillende weergawes van hierdie voorblad op die internet kyk, is dit duidelik dat dit ook ‘n rekenaar-foto van ‘n jong Margaret Atwood kan wees.

In die erkeningswoord gee Atwood vir die speurende leser belangrike inligting rondom die ontstaan van die roman: Virginia Woolf se To the lighthouse het ingespeel op die roman en Anne Carson se The beauty of the husband. ‘n Skatpligtigheid aan Beckett word ook bely en die eksperimente met woorde dui hierop.

Dit is ‘n roman wat aanvanklik ‘n leesweerstand bied, maar nadat ‘n mens ingetrek raak by die verhaalgegewe - ‘n meesleurende, onruswekkende storie -  is ‘n mens nogmaals uiters geïmponeer met die werk van hierdie produktiewe èn belangrike skrywer.

Met hierdie roman sluit sy by die utopia/distopia-debat aan.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]