Bladsye / Pages

Wednesday, March 6, 2013

Eben Venter - Begeerte (2003)



Eben Venter. Begeerte. Tafelberg Uitgewers, 2003. ISBN 0 624 04160 3.

Resensent: Joan Hambidge

Met Ek stamel ek sterwe het Eben Venter ‘n roman gelewer wat in die meeste lesers se gemoed bly vassteek het as roerend en indrukwekkend. Daar na het ‘n bundel kortverhale gevolg en die spaarsamige My simpatie, Cerise, wat waarskynlik vir talle lesers te dig was. Dit het die gemiddelde Afrikaanse leser uitgesluit en die geheim was te psigoanalities dig.

Met sy jongste roman trek hy egter al die stops uit, soos die bekende idioom dan lui. Begeerte heet hierdie indrukwekkende, meesleurende roman van 283 bladsye. Daar is minder hebbelikhede van gedronge en dig skryf en die outeur laat ons die binnewerkinge van sy karakters sien.

Die roman se titel is nie misleidend nie. Dit handel inderdaad oor ‘begeerte’, oor drif, oor passie. Dit is die verhaal van Bill Scheiffer en sy vrou Madelein se aanvanklik intense liefdesverhouding, huwelik en Bill se latere rondlopery. Aanvanklik net ‘n indiskrete verhouding met ‘n ander vrou, dan later ‘n verhouding met ‘n bruin vrou in die Transkei, by wie hy ‘n kind verwek.

Hy verlaat sy geliefde Madelein en na sy ontydige dood – ‘n verwikkelde moord – word Madelein belas met die versorging van die ‘basterkindjie’, Tommie. Die roman word teen die agtergrond van die Tweede Wêreldoorlog en uitgebou tot laat sewentigerjare geplaas. Die skrywer het ontsettend moeite gedoen om die sosiale ontwikkelinge van die tyd helder te teken. Hoe mense geëet het, hulle gewoontes, die belangstelling in rugby (selfs Frik du Preez maak hier ‘n draai) en die kleinlikhede van die apartheidsbewind word noukeurig verhaal. Sosiale kodes en verwysings soos Die Du Plooys van Soetmelksvlei, Rich man, Poor man, musiek van John Travolta, situeer ook die verhaal. Dit is ‘n verhaal van beheerte, en afgelope begeerte, en hoe mense primordiaal aan mekaar verbind bly.

Wie is die hoofkarakter? Is dit Bill of Madelein? Beide waarskynlik en die verhaal analiseer die effek van Bill se dade op Madelein se lewe. Bill se rondlopery verander noodgewonge haar en haar kinders se lewens. Ook haar effens gestremde seun word helder en simpatiek geteken en sy lot (en einde) raak die leser. Dit is ‘n verhaal van donker drifte en hoe ‘n gemeenskap daarop reageer en dit probeer beheer.

Madelein beskerm Tommie teen die aanslae van die gemeenskap en vooroordele van haar eie kinders. Aanvanklik is Bill die held van die verhaal, maar die stille krag van hierdie vertelling word deur háár gedra. Sy is uiteindelik die een wat elk van Bill se driftige oordeelsfoute moet oplos. Natuurlik nie sonder teëstand of ontsteltenis. Bill rand haar selfs by geleentheid aan. Maar dis wanneer sy Tommie beskerm teen die gemeenskap en haar kinders en skoonseun se argwaan, dat die leser haar enorme krag bewonder.

Sy is die karakter wat werklik voluit ontwikkel. Dit word ten slotte haar verhaal, ofskoon dit haar storie is aan die ontvangkant van Bill se doen en late. Wanneer sy haar man se liefde verbeur, probeer sy haar ongebore kind aborteer. Hy is egter die kind wat haar help om deur vele van haar krisisse te groei en ek dink wanneer sy die dood van haar seun, James, verwerk, word die leser nogmaals getref deur Venter se vertelkrag (p. 258). Sy strooi sy haarlok oor die veld en hiermee verlos sy haarself ook van haar skuldgevoelens.

Dit is ‘n boek wat nie oor lyflike begeerte handel nie, maar om die begeerte tot begrip. Dit is ook ‘n roman oor verlies en die mens se soeke na geluk en die onbereikbaarheid daarvan. Waarskynlik onbedoeld, dra die teks ook ‘n Lacan-stempel.

Begeerte/desire/désir: dat die begeerte juis dit is wat ons voortstu, volgens Lacan en omdat ons dit nie kan bereik nie, bly ons leef.  Dis ook dan ‘n roman, as ons dit vanuit Lacan se perspektief lees, wat vele knope in die gemeenskap se psige vir ons openbaar: mans wat vroue verlaat; die lot van die kind wat buite die norme van die sosiale orde staan; moord en gierigheid; hoogmoed en ten slotte, dit waarin Venter uitmunt, te wete verlies.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]