John Irving. A
widow for one year. Bloomsbury, 1998. ISBN: 0-7475-3678-3.
Resensent: Joan
Hambidge
In die letterkunde word daar van die Garp-sindroom
gepraat; overgesetsynde, die sindroom van daardie een wonderbaarlike boek
waaraan jy as skrywer vir ewig en altyd gemeet word.
Die uiters produktiewe en innoverende skrywer John
Irving word telkens gemeet aan The world
according to garp (1979). En dit is jammer, want elke roman wat hy daarna
geskryf het, is in eie reg belangrik, onthoubaar of gewoon uit 'n
vertel-perspektief interessant.
En die verfilming van sy boeke - die twee wat ek kon
deurworstel, te wete The world according
to garp en The hotel new hampshire
-was juis om sy vertel- en taalgevoeligheid, rampe.
Irving se handelsmerk is dan die uitbeelding van die
ongewone: die dwerg, bloedskande, die skrywer met die oorwerkte verbeelding...
Ondertussen het daar tien belangrike romans verskyn en
sowat tweejaar terug die pragtige A son
of the circus. Die jongste is ook 'n dikke roman en dit heet A widow for one year.
Dit is die drieledige-verhaal van Ruth Cole. Sy is vier
wanneer die storie in 1958 begin. In die tweede luik is ons in 1990 wanneer sy
'n skrywer is, ongetroud met 'n siniese uitkyk op die liefde. In die derde luik
is sy 'n moeder en 'n weduwee (1995) en op 41-jarige ouderdom raak sy die
eerste keer verlief.
Hier is tipiese Irving-truuks aanwesig: die spel met die
ongewone (soos Eddie se versorging van Ruth as jong kind); die uitstel van die
onthulling van die ongeluk én hoe dit mens se lot bepaal; 'n knolskrywer wat sy
verhaal probeer neerskryf, maar te na aan sy eie pynlike werklikheid staan.
Dit is egter wanneer die karakter-Ruth self skrywer word
en die grense tussen fiksie en werklikheid beginne vervaag, wanneer die roman
'n kragtoer word. Sy word gekonfronteer met haar verdwene moeder se roman en op
die koop toe ervaar sy 'n skrikwekkende doeblering van fiksie: sy is ooggetuie
van 'n moord en 'n kinderverhaal van haar pa word so werklikheid.
Graham Greene se biografie speel 'n belangrike rol in
hierdie roman: dit lewer kommentaar op Ruth se werkswyse en op Irving se
siening van fiksie. Greene wat as jong man Russiese Roulet speel, omdat sy
geliefde hom versaak het, weerklink in hierdie roman wat handel oor
onbeantwoorde en versaakte liefdes.
As kleindogtertjie beseer Ruth haar vinger. Die idee van
verwonding, skending, litteken word 'n refrein in die roman en wanneer sy Eddie (haar moeder se
jeugdige minnaar) weer na jare ontmoet, druk hy haar vinger in tamatiesous om
haar letsel vir haar te wys. Dit wat haar anders maak èn haar 'n insig gee
sodat sy kan skryf.
Dit is 'n boek oor verlies en hoe dit mense verskillend
aantas: die dood van haar broers laat die moeder vlug; dit maak van die vader
'n maniese rokjagter en van Ruth waarskynlik een van die mees onthoubare
karakters, soos Ms Smilla, in moderne fiksie.
In die derde luik word al die drade saamgetrek, die
titel verklaar en hier het ons dan te make met 'n soort speurverhaal à la Simenon. Ruth moet
uiteindelik die emosionele en morele rekening vir haar roman betaal - meer gaan
ek nie uitblaker nie! Dit sal al die pret bederf, maar dit het iets te make met
haar navorsing in die Amsterdamse Rooibuurt en die polisieman wat al die drade
saamtrek oor die moord wat sy per ongeluk gesien het.
Daar is al baie geskryf oor ideale lesers van roman: in
Irving se storie is die ideale leser 'n polisieman wat speurverhale
verslind!
Dit is 'n roman wat aanspraak maak op die mitiese status
van “The Great American Novel”. Nie alleen om die omvang (dis oor die 500
woorde!) nie, maar ook om die emosionele diepgang en die disseksie van verdriet
en die invloed van verganklikheid op 'n mens se lewe. (Die enigste kritiek: die
slot is darem net-net te vlot wanneer almal bymekaar uitkom.)
Daar is min skrywers wat sub-teks (a, die “undertoad”!)
soos Irving kan hanteer. Dit is 'n verruklike roman.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Beeld geplaas.]