Bladsye / Pages

Monday, March 25, 2013

Harry Kalmer - Die man met die dertien kinders (1998)



Harry Kalmer. Die man met die dertien kindersQueillerie Uitgewers, 1998. ISBN: 1 874901 81 3.

Resensent: Joan Hambidge

So 'n jaar gelede het ek pragtige 'n Italiaanse novelle gelees wat groot Italiaanse pryse losgeslaan het. Dit heet Silk en dis geskryf deur Barrico. Ofskoon klein in omvang, lees 'n mens dit weer en weer. So 'n boekie is Harry Kalmer se Die man met die dertien kinders, 'n soort minimalistiese novelle. Met vele sub- en supra-tekste.

Die begin en die einde skakel in mekaar, hierdie storie van Jos Goosen, sy vrou Matilda en hul dertien kinders. Hulle woon in die sogenaamde “biltong-belt” aan die rand van die Bosveld. Jos drink te veel; sy vrou en kinders stel eise.

Breedweg handel hierdie boekie oor verspeelde kanse en mense se drome. Dit is 'n boek oor ontnugtering, oor mislukking.

Die grootste wins is dat dit so ondergestem aandgebied word dat dit juis meer effek het op die leser in hierdie dae van “big bang”-prosa.

Dit is geskryf in dieselfde siniese, verminderende trant as die romans van Kurt Vonnegut. (Hier is ook 'n prentjie afgedruk - van 'n man met dertien kinders - soos 'n mens by Vonnegut kry.)

Tog is daar onder alles iets wat vibreer, 'n soort ontnugtering wat van hierdie boekie iets besonders maak. Daar is ook humor: die beskrywings van Lemoenkop Fortuin wat in die kattebak van 'n oranje Cortina bly en wie se kantoor 'n straattelefoon is in 'n oranje skulp is werklik snaaks.

En ja, verdriet: in hierdie verband is die tekening van die moeder se besoeke aan Hillbrow 'n raak beskrywing van 'n geslag Afrikaanse vrouens wat hul lewens moes opoffer aan 'n patriargale orde. Met kinders wat hul drome moet uitleef.

Ook aggressie: die rusies oor Mathilda se ontrouheid.

En veel is daar te geniet aan die Jos se waarnemings van sy lewe, sy musieksmaak en sy emosies. Daar is 'n aweregsheid wat van ontsettende vernuf getuig. Ook die sinne is kort (sulke standerd-vier-sinne), maar gelaai met geweldige skop.

Daar word eweneens sosiale kommentaar gelewer; al is dit dikwels sommer so in die verbygaan. Maar bysake kan dikwels hoofsake word, die weet ons soos die dood van 'n karakter wat 'n hoofkarakter beïnvloed. En sy vrou se ontrouheid.

Jos Goosen vat dop. Hy's 'n man wat hou van drink en hierdie verhaal lewer navrante kommentaar op die effek wat drank op hom en hoé dit sy waarnemings aantas.

Die boek is in 'n soort sirkel geskryf (dit begin en eindig met 'n Mars-bar) waarin 'n mens dan allerhande geleerde dinge kan raaksien oor self-ontwikkeling, ensomeer. Ook meen ek dat die boekie 'n soort grootmens-kinderboek wil wees wat gebruik maak van die tegnieke van die kinderverhaal, maar dit dan telkens ondermyn deur 'n angel in 'n gegewe raak te sien.

Hierdie leser is besonder bly vir Kalmer se jongste; veral na die mindere X-ray Visagie en die vingers van God. Ook omdat 'n mens gevrees het dat die outeur se talent deur die reklamewese befoeter word.

D.J. Opperman het mos vas geglo dat G.A. Watermeyer deur die reklamewêreld opgeslurp is. Maar dit was in die dae voor e-pos en internet, nie waar nie?               

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]