Bladsye / Pages

Monday, March 18, 2013

Reis. Indië: Oor Heilige koeie, die Taj Mahal, vuurlopers, monsoen, Bollywood en die Kama Soetra

© Copyright Lonely Planet Images 2011, Richard I'Anson
I.

Heilige koei. Dit is een van die idiome wat ‘n Indiese oorsprong het.

Maar hoe stel ‘n mens Indië voor? Watter assosiasies roep hierdie komplekse en groot land nie alles op nie. Van Gandhi tot ‘n bindi; Salman Rushdi en The jewel in the crown. Karma en ‘n sarong of sari. Kerrie en wierook. Die Taj Mahal en Vikram Seth. Monsoen en Jesus se kennismaking met towenaars soos beskryf in die apokriewe boeke. Of groot stede waar mense gebore word en sterf, soms woningloos maar met ‘n lotsaanvaarding omdat hulle glo in reïnkarnasie. Dan is daar skrywers soos Salman Rushdie en Arundhati Roy. En ‘n aller-gunsteling soos V.S. Naipaul wat die Nobelprys in 2001 verower het.

My volgende reis is na Indië en die vooraf-reis deur navorsing en lees is ‘n belangrike en uiters noodsaaklike proses om die reisiger voor te berei op hierdie land en sy kulture. Belangrike monumente of gedenktekens kan onder jou uitglip as jy nie weet waar om te kyk nie. Waar begin ‘n mens met leeswerk oor so ‘n groot sub-kontinent?

Waarskynlik is een van die beste handleidings vir enige reisiger na ‘n vreemde land die Lonely planet-reeks wat ek ontdek het op ‘n besoek na Japan. Die Indië-uitgawe (daar bestaan ook ‘n boek oor Noord-Indië) kos R269 en beslaan meer as ‘n 1000 bladsye oor alles wat jy as reisiger te wagte kan wees. Jy word onder andere gewaarsku teen maaifoedies wat jou by die lughawe mag inwag en sal vertel dat jou hotelbespreking gekanselleer is en ewe hulpvaardig jou by ‘n duur hotel sal inboek. Moenie lekkers van vreemdelinge vat nie.

En hier drink jy beslis nie water nie.

En voormalige reisigers weet ook te vertel dat die stank jou uit die water kan blaas.

Dat jy geboorte en dood, die hele siklus van die lewenslot, op die straat sien afspeel.

En wees gewaarsku: mense sal enigiets doen om ‘n geldjie uit jou te wurg.

‘n Reisiger had die volgende ervaring in Moembaai. Hy en ‘n vriendin stap deur ‘n nou stegie wat wat deur ‘n reuse olifant geblokkeer word. Toe hulle probeer terugdraai, besef hy dat hulle vasgekeer is.

Opeens lig oom Olie sy grote stert en ‘n spatsel bruingroen land op my vriend se voet.

‘n Hulpvaardige man vee dit af met ‘n lappie en hou die bedelhandjie na bó...

Op die voorblad van die Lonely planet-uitgawe is daar ‘n afdruk van die Taj Mahal
met silhouette van figure...

Daar is veel wat my nog altyd van hierdie subkontinent, die plek waar Boeddhisme en Hindoeisme ontstaan het, fassineer. Die land van Gandhi.

Vuurlopers

Hoe is dit moontlik dat hierdie mense, sonder enige fiskieke skade oor vuur kan loop of swaarde van vuur kan sluk? Glo die vermoë om die liggaamlike te kan transendeer.


[Foto: © Dimitris Xygalatas]


Buffel-resies

Mense wat op groot diere se rugge sit en deur modderwaters resies jaag. Die ratsheid van die buffels moet nie onderskat word...

Die monsoen

Hierdie reën wat glo voel soos emmers water wat uit die lug gegiet word en geen verligting bring nie. Die pakkende roman van Peter Carey wat My life as a fake heet, vang iets van hierdie soelte op, terwyl die film Monsoon wedding deur Mira Nair in Nieu-Delhi binne 30 dae vervaardig is op ‘n klein begroting. Dit vertel die verhaal van die Verma-familie se reünie rondom ‘n vinnige huweliksbeplanning. Bollywood-musiek speel in die agtergrond terwyl al die intriges rondom ‘n huwelik binne ‘n Poenjabi-kultuur ondersoek word.

Die moderne en klassieke sieninge van die liefde word in jukstaposisie geplaas sodat die kyker ‘n insig kry in hoé moraliteit verskil van geslag tot geslag. Die kamera rus soms op Delhi en verraai iets van die hitte en harde bestaan binne hierdie stad. Tog voel ‘n mens as ‘n Westerse kyker uitgesluit en vele van die kodes het onder meer by my verby gegaan. Die humor waarna verwys word en die sogenaamde uitbundige liefdesgenot kon ek nie snap nie.

Nair, ‘n Oscar-kortlyser, se vorige rolprente, Salaam Bombay, My own country Mississippi Masala, Kama Sutra, het eweneens lofsange by die kritici ontlok.

Bollywood

Bollywood as ‘n antwoord op Hollywood en skynbaar word daar méér films hier gemaak as op enige ander plek. My reis se naam word geadverteer van “Buddha to Bollywood”.

Die Kama Soetra

Daar is 3,020,000 inskrywings vir hierdie boek op die internet! Daar is selfs ‘n internet-bydrae met ‘n animasie-weergawe vir die nuuskierige kyker wat meer te wete wil kom oor Tantriese seks.

Die Kama Sutra, oftewel Sanskrit vir “aforismes van die liefde” geskryf deur ene Vatsyayana. Die vertaling deur sir Richard F. Burton (gedoen in 1883) word beskryf as ‘n teks waarin die paradigma van die liefde beskryf word en die leser begryp ook iets van die ou-Indiese diskoers wanneer die boek gelees word.

Die oorspronklikte teks is geskryf tussen 320 – 540 n.C.

Kenners neem aanstoot dat daar na hierdie teks verwys word as ‘n teks oor seksuele posisies, aangesien dit maar ‘n klein afdeling van die boek behels. Dit word eerder gesien as ‘n soort antropologiese verslag. Tog word 64 verskillende posisies (asanas) word beskryf en hoe ‘n mens die geliefde moet aanraak. My reis na Indië begin in Kathmandu en en eindig ten slotte in Delhi en Moembaai. Ek sien uit na ‘n reis van paradokse: armoede en rykdom; geure en stank...


Bron:

The Kama Sutra of Vatsyayana (Sir Richard Burton, translator). (Geraadpleeg op 18 Maart 2013).
Monsoon Wedding, a new film by Mira Nair”. Mirabai Films. (Geraadpleeg op 18 Maart 2013).
Peter Carey. 2003. My life as a fake. Faber & Faber, Londen.
Sarina Singh e.a. 2003. India. Lonely planet.



II. Taj Mahal: Die simbool van Ewige liefde

Prinses Diana voor die Taj Mahal, © Daily Mail

Die Taj Mahal, soos die Ganges, is waarskynlik die belangrikste baken in Indië. Dit wod beskou as die grootste monument wat nog ooit vir die liefde opgerig is.

Keiser Shah Jahan het dit vir sy tweede vrou, Mumtaz Muhal opgerig toe sy vrou tydens die geboorte van hul veertiende kind in 1631 gesterf het. Hierdie marmer-mausoleum is eers in 1653 voltooi.

Vele mites het ontstaan rondom die bouwerk van die Taj Mahal waaraan ongeveer 20 000 mense van Indië en Sentraal-Asië gewerk het. En ongeveer 1 000 olifante is gebruik om al die ware te vervoer. Daar word vertel dat van die werkers hul duime afgesny en selfs hande geamputeer het om te verhoed dat hierdie wonderbaarlike en eenmalige monument nageboots kan word.

Isa Khan was die hoof-argitek, afkomstig uit Shiraz (in Iran), terwyl die pietra dura (die marmer met inlegwerk) is uiteraard van Europa ingevoer. Die koste van die Taj Mahal word bereken teen ‘n $60 miljoen.

In die sentrum vind ‘n mens inskripsies uit die Koran. In Kuba vind ‘n mens dan ook in die Hotel Inglaterra, met sy Arabiese bouwerk, eweneens verse uit die Koran.

Dit staan in Agra sowat ‘n uur-en-‘n-half se treinreis van Nieu-Delhi.

Taj Mahal beteken letterlik “Crown Palace”. Dit staan op die bank van die Yamuna-rivier.

Sir Edwin Arnold het hieroor soos volg geskryf: Not a piece of architecture, as other buildings are, but the proud passions of an emperor’s love wrought in living stones” (www.angelfire.com)

Daar word vertel dat Mumtaz Mahal se eggenoot die volgende aan haar beloof het:
Belofte een: Hy sal vir haar die Taj bou;

Belofte twee: Hy sal nooit weer trou indien sy iets oorkom nie;

Belofte drie: Hy sal altyd na haar kinders kyk en hulle in liefde vertroetel;

Belofte vier: Hy sal hierdie aanskoulike graf, elke jaar besoek om haar dood te herdenk.

Skynbaar het hy alleen aan die eerste en die tweede belofte getrou gebly.

Maar hierdie simbool van ewigdurende liefde dra ook ‘n onderliggende politieke motief. Mumtaz Mahal het gesterf op ‘n reis toe haar eggenoot in Boerhanpoer toe hy ‘n opstand moes onderdruk. Dit was só ‘n traumatiese ervaring dat hy oornag grys geraak het.

Hierdie groot marmergebou staan op sandsteen en die vier minarette is waarskynlik die ander belangrike kentekens. Binne-in is daar ‘n senotaaf vir die geliefde. Die oorskot van Mumtaz is egter nié in die senotaaf nie, maar in der waarheid ’n paar meter ónder die senotaaf begrawe. Vir agt jaar lank het die keiser in die fort, waar hy gevange gehou is, elke dag kon uitkyk op die plek waar sy geliefde opgesluit was. (Hy is in die tronk gegooi deur sy opstandige seun.)

Wanneer ‘n mens kyk na al die verskillende interpretasies wat al oor die Taj Mahal gemaak is vanuit ‘n genderperspektief, is dit opvallend dat daar vanuit die manlike oogpunt geskryf word, te wete die manlike “gaze”. Daar word verwys na die verskillende buie wat dit weergee: pienk in die oggend; wit in die aand en goud wanneer die maan skyn.

Ene Neraaj Peswani meen dat die gebou die verskillende kante van ‘n pragtige vrou voorstel en dat hoofingang lyk soos ‘n sluier van ‘n vrou wat op haar huweliksnag gelig moet word.  Daar word geskryf: As one stands inside the main gate of the Taj, his eyes are directed to an arch which frames the Taj”.

‘n Manlike blik op ‘n gebou?

Inderdaad en ‘n mens sou kon wonder of hierdie soort genderperspektief gepas is. Is daar egter iets soos ‘n gender-neutrale perspektief? En is dit moontlik om ooit te vergeet dat hierdie monument opgerig is vir ‘n vrou deur ‘n kwynende man?

Ellen Moers, die bekende letterkundige, het op ‘n keer geskryf dat manlike gedigte ingegee word deur die blik (“gaze”) en ‘n vrouedigters meer gesteld is op aanraking (“touch”).

Die Taj Mahal lyk is ‘n juweel wat glo glinster...

Die wisselende kleure verwys na verskillende ure, dae, seisoene...

Tagore noem dit tereg “a teardrop on the cheek of time”.

En word daar ooit aan hierdie gebou geraak?

Argitektuur bedryf deur vroue lyk anders as mans se geboue.

Suzie du Toit, ‘n bekende Kaapse argitek tans woonagtig in Londen, maak ons attent op die méér holistiese benadering van vroue-argitekte.

Bronne:

Ellen Moers. 1977. Literary Women.
Neeraj Peswani. 1998. “Taj Mahal - A Tribute to Beauty”. (Geraadpleeg op 18 Maart 2013).
Sarina Singh e.a. 2003. India. Lonely planet.


III. Taj Mahal (vervolg)

Die mausoleum is 57 m (190 voet)  lank, terwyl die minarette 137 ‘ lank is. Enige skouspel-agtige of groot gebou beleef dikwels ‘n antwoord of parodie. Die Taj Mahal het natuurlik ‘n replika gevind in Donald Trump se weergawe wat op 2 April 1990 as ‘n casino onthul is. Daar word vertel dat ongeveer $14 miljoen aan Duitse kandelare spandeer is en dat hierdie gebou spog met meer as vier-en-‘n-halwe keer die staal van die Eiffel-toring.

Daar is 51 vloere en dit word beskou as die grootste mensgemaakte gebou in New Jersey. (Word geboue ooit deur diere gemaak?, wonder ‘n mens oor hierdie kritikus op die internet se opmerking.)

Boonop is daar 70 minarette ter versiering aangebring!

Ongeveer 6 000 mense is hier werksaam en besoekers word gewaarsku dat géén slenteraars hier geduld word nie. Jy mag nie rondstaan en ginnegaap nie.

Jy is dus hier om te dobbel. En geen kinders onder die ouderdom van veertien word hier toegelaat nie. Daar word boonop gespog dat die gebou se verkoelingsisteem sou veertigduisend huise in die VSA se hitte kon afweer.

Daar is verder jacuzzi’s, stoombaddens, en wat nog. Boonop ‘n binnenshuise Olimpiese swembad.

Hoe absoluut gek.

Sou daar nie iewers op aarde ‘n wet kon wees teen hierdie soort banalisering nie?
Nie alleen het Donald Trump – met sy hoogs ironiese naam, terloops - en sy trawante hierdie gebou na die VSA verplant nie, maar hulle het boonop die oorspronklike idee van die graftombe geskend. Islamitiese argitektuur word nou gekoppel aan Duitse kandelare. Die oorspronklike gebou is Indo-Islamities met verwysings na Hindoeïsme. Verder is daar Persiese en Turkse invloede te bespeur.

Postmodernisme in sy krú-ste uiting, kan ‘n mens byvoeg.

Die Taj Mahal staan in die woestyn in Agra.

Hier word dit in die somer so warm dat ‘n vriend te vertelle het dat hy gesien het hoe ‘n voël in die lug sterf.

Die eteriese kwaliteit, veroorsaak deur die marmer, is die bekendste aspek van hierdie gebou wat verander soos wat die lig en weersomstandighede kenter.

Boonop ontdek ek ‘n virtuele toer op die internet (“Explore the Taj Mahal”) waar die besoeker al die verskillende aangesigte van die mausoleum kan “besoek”.

Ek klik op ‘dados’ of die dekoratiewe marmerpanele. Dit is asof die kyker reg voor hierdie panele staan en die reliëf met die hand kan voel.

Boonop is hierdie foto’s in kleur sodat jy dink jy sien die oorspronklike.

Vir die botanis is hierdie besoek ‘n plesier, omdat die Mughal-belangstelling in plante goed gedokumenteer is.

Daar word vertel dat Jahangir, Shaj Jahan se vader, die kunstenaar Mansoer opgedrag gegee het om die meer as eenhonderd inheemse plante van Kashmir soos tulpe, viooltjies en narcissi op te teken.

In welke mate daar kontak met Europese besoekers en botaniste was, is nie heeltemal duidelik nie. Op besoek in Nagasaki het dit my wel opgeval hoe hierdie kunstradisie dikwels vir historici iets kan vertel van kontak met ander lande. ‘n Belangrike voetnoot dus vir die geskiedkundige wat hieruit nie alleen ‘n stylsoort aflei nie, maar ‘n presiese datum kan aanstip.

Taj Mahal dom van binne © Elbert Shackelford

Die belangrikste kenmerk van die Taj Mahal is natuurlik die sogenaamde bolvormige dom of koepel wat die sentrum van die gebou aandui. ‘n Ander bekende foto – waarskynlik die beroemdste een vir alle belangstellendes – is die Taj Mahal wat in die water weerspieël word wat verlede week gebruik is.

Op een van die plekke waar ek klik, lees ek die volgende: ”The Taj Mahal in fact boasts a double-dome, a false ceiling inside a large outer-skin. This device gives the imposing volume to the outside of the dome, whilst retaining comfortable proportions on the inside – which would otherwise be cavernous”.

Caveat! dag ek by myself.

Gaan die moderne mens dalk binnekort só moeg raak dat alle reise via die internet gaan plaasvind?


Bronne:

Taj Mahal - Emperor Shah Jahan - Great Buildings Architecture”. Artifice Inc. 1994-2013. (Geraadpleeg op 18 Maart 2013).
"Atlantic City New Jersey Casino Hotels | Trump Taj Mahal, Atlantic City, NJ". 2013 Trump Entertainment Resorts.  (Geraadpleeg op 18 Maart 2013).


IV. V.S. Naipaul

V. S. Naipaul © AFP

‘n Land onthul dikwels sy grootste geheime via sy skryfkuns.

Sir Vidiadhar Surajprasad Naipaul (gebore 1932) word allerweë beskou as die grootste Indiese romanskrywer. Hy is onder andere met die Nobelprys vir Letterkunde in 2001 bekroon en ten spyte van Salman Rushdie se volgehoue pogings om hom te verminder, bly V.S. Naipaul ‘n belangrike skrywer met ‘n klassieke status binne sy letterkunde.

Naipaul word beskryf as ‘n nomadiese intellektueel, iemand wat altyd van buite reflekteer oor die magte wat binne ‘n gemeenskap werksaam is.

Gebore in Trinidad en reeds op die ouderdom van agtien skryf hy sy eerste roman. Hy ontvang sy opleiding aan die Queen’s Royal College, Port of Spain en studeer aan Oxford in die vyftigerjare. Sy romans word dan ook gekenmerk deur die buiteblik van die Indiër op ‘n geslote Britse gemeenskap. Tydens sy Oxford-verblyf probeer hy selfmoord pleeg ná ‘n senu-ineenstorting. Sy kommentaar ná hierdie insident was dat die gasmeter gelukkig leeg was...

Hy begin sy loopbaan as BBC-omroeper en met onverdrote ywer gee hy hom oor aan fiksie. A House for Mr Biswas (1969) word beskou as sy belangrikste roman.

Vikram Seth

Vikram Seth is in Kalkutta gebore in 1952. Hy studeer onder andere aan Oxford en Sjinese poësie aan Nanjing Universiteit. Hy is ‘n gerekende digter wat o.a. Mappings (1980) en From Heaven Lake (1983) insluit.  Die roman wat hom egter internasionaal bekend gemaak het, is A Suitable Boy wat in 1993 The Connect Award verower het, maar tot almal se verbasing verloor het teen Paddy Clarke Ha Ha Ha; trouens, die roman het nie eens die kortlys gehaal nie.

A Suitable Boy was oorspronklik 2 000 bladsye lank en is later verkort tot 1 349 bladsye en weeg 1.5 kg. Dit is ‘n roman wat groot voorskotte gekry het as ‘n mens al die gerugte rondom die boek kan glo.

Die storie van A Suitable Boy word in die vyftigerjare gesitueer in die fiktiewe Brahmpoer. Vier families se lewens kom aan bod in ‘n roman wat op ‘n sensitiewe wyse die bloedband tussen mense weergee: die Kapoors, Mehras, Chatterjis en die Khans. Die roman ondersoek die spanninge tussen die Moeslim- en Hindoe-geloof met Mevrou Rupa Mehra, ‘n weduwee, se soektog na ‘n gepaste eggenoot vir haar dogter, Lata. Sy het egter haar oog op ‘n Moeslim-man en haar moeder se siening van wat gepas en onvanpas is, bots met háár sieninge. Dit is ‘n meesleurende roman wat die leser boei en die roman het ‘n musikale struktuur. Die oeroue stryd tussen liefde en familieverwagtinge, ‘n moderne Romeo en Juliet bykans, word outentiek weergegee. Die verhaal aktiveer onbewustelik die stryd tussen gelowe wat gelei het tot die dood van Gandhi.

Salman Rushdie

Salman Rushdie laat vele mense se nekhare rys. En dis nie net die Ajatolla Khomeni wat nie van hom hou nie en ‘n fatwah op hom geplaas het nie, maar menige skrywer en kritikus vind Rushdie vermetel. Sy rusie met Naipaul het nie juis bygedra tot sy gewildheid nie. Verder het hy een jaar ‘n stoel omgeskop toe hy op ‘n keer nie die Booker ontvang het nie.

Maar Rushdie is Rushdie. ‘n Voortreflike raconteur wat ‘n vermoë het om feit en fiksie inmekaar te weef wat dikwels ‘n mens se asem wegslaan. Sy essays, terloops is ook van uitstaande gehalte: Imaginary Homelands (1991) en Step across this line (2003). Sy Midnight’s children het tereg die Booker in 1981 verower en die Booker of Bookers in 1992. The Satanic verses (1988) bly ‘n monumentale stuk vertelling wat op 14 Februarie 1989 die grieselige doodsverklaring van die Ajatolla uitgelok het.

In hierdie fantasmagoriese verhaal, wat stukke uit die Koran bysleep, word die leser op ‘n reis geneem waarin engele optree en die onmoontlike plaasvind. Terselfdertyd lewer die boek skérp kommentaar op die Indiese leefwêreld, korrupsie en magsbeheptheid. Die titel verwys na William Muir se term van vorige uitgawes van die Koran. Weens Rushdie se negatiewe opmerkings oor Islam, het die roman ‘n furore veroorsaak binne die Moslem-gemeenskap en die boek is letterlik in Yorkshire verbrand en selfs in Suid-Afrika verbied. Rushdie se pogings om in ‘n essay te verduidelik dat hy disrespekvol was teen Islam nie, het egter niks aan sy lot verander nie.

Rushdie het opgemerk: Hierdie roman handel nie oor Islam nie. Dit is ‘n boek oor migrasie, metamorfose, die verdeelde self, liefde, dood, Londen en Bombaai” (The Satanic Verses - Wikipedia, the free encyclopedia).

Naas Gabriel García Márquez word Rushdie as een van die grootste beoefenaars van die magies-realisme beskou. Rushdie is ‘n boorling van Bombaai en het aan Cambridge studeer.

Die vraag wat die voornemende reisiger interesseer is: het ‘n stad soos Bombaai of Kalkutta ‘n invloed gehad op die psige van ‘n outeur?

Sou Naipaul byvoorbeeld anders geskryf het as hy nie in Trinidad groot geword het nie?

Hieroor kan ‘n mens net spekuleer, maar ek was nog altyd van mening dat ‘n stad se psige ‘n invloed het op die psige van die outeur. En waarskynlik dat hierdie groot skrywers tydelik hul land en kultuur verlaat en in Engeland studeer het.

Bronne:

Petri Liukkonen. 2008. Sir V(idiadhar) S(urajprasad) Naipaul (1932-). (Geraadpleeg 18 Maart 2013).
Amit V. Raghavan. 1999. “Vikram Seth”. Postcolonial Studies @ Emory. (Geraadpleeg 18 Maart 2013).
Indian English literature - Wikipedia, the free encyclopedia. Wikipedia. (Geraadpleeg 18 Maart 2013).
The Satanic Verses - Wikipedia, the free encyclopedia. Wikipedia. (Geraadpleeg 18 Maart 2013).


V. Kos

In Chitra Banerjee Divakaruni se bundel kortverhale Arranged Marriage word die leser van ‘n handige glossarium voorsien. “Ayah” vir oppasser; “girgiti” vir ‘n gekko; “jadu” vir die magiese...

En danksy etes in Bukhara, die voortreflike Noord-Indiese restaurant in Kaapstad, is die leser al bekend met vele van die kosgeregte wat in hierdie bundel beskryf word.
Reis en Eet.

Hoeveel tydskrifte en boeke spesialiseer nie tans op die kulinêre en die peregrinasie nie?  Is ons dalk “morsdood van die honger, om Kerneels Breytenbach, ‘n voortreflike kosskrywer aan te haal en moeg van die voorspelbare lewe in die stad?
Maar wys mý die kos wat jy eet of berei en ek vertel jou presies wie jy is. Ek wil nie nou in kosskrywers se slaai krap nie of idees raakhap nie, maar dit is dikwels die punt van kosrubrieke.

Hoé kry jy die presiese resep van een land na ‘n ander? Dikwels waar daar van die oorspronklike so min  begryp as ‘n kat van saffraan.

Skoenmaker hou jou by jou lees en kosmaker by jou (bekende) kospot.

Tog ten spyte van vele kosrubrieke en restaurantgidse, word besoeke aan restaurante ‘n troetel-apie ervaring. Spreek jy kritiek uit, word jy as onaangenaam ervaar; erger nog, ‘n volgende keer sal jy les opsê.

In Indiese reisgidse kry jy dikwels kos by tempels en wat bedoel die Lonely Planet se Noord-Indiese reisgids met die volgende gelade sin? Ek vertaal vrylik:”Daar is nie baie plekke Gorakphur wat op reisigers ingestel is nie.” En dan:”...so you could do worse than try the small outdoor eateries near the train station”.

Maar kom ons vertel eerder die verhaal van Boeddha...

Op ‘n laaste reis na Shravasti en Ragir met die wete dat hy na die ander dimensie sou reis, vertrek hy na Kushinagar.

Hier eet hy ‘n maal van gekontamineerde vleis. Volgens folklore eet al die Boeddhas ‘n maal met vleis net voordat die aardse verblyf verlaat word.

Hy sterf in Kushinagar: die aarde skud, sterre verskiet en ‘n vuurbol het glo uit die hemel na die aarde gekom.

Na sy verassing, is sy tande en beendere as relieke bewaar en verskillende stede het glo mense gestuur om van die oorblyfsels te vind.

Vandag egter kan die relieke in verskeie stupas regoor Asië gevind word...

Waarom word daar hier vermeld dat die Boeddha verrotte vleis geëet het?

Of is hierdie stukkie folklore ‘n waarskuwing oor presies wat met jou kan gebeur as jy “verkeerde” kos eet? Dat jy metafories in stukke sal breek?

‘n  Stupa of dagoba is ‘n religieuse monument ontwerp in hemisfeer waarin die relieke van die Boeddha bewaar word. 

Almal waarsku die voornemende reisiger om versigtig te eet hier en Immodiums in te pak.

En voor my reis, beproef ek die Jewel of India in die Waterfront.

‘n Seekos-kerrie en lam korma beloof iets van ‘n reis wat ‘n mens ook rondom kos kan beproef!

Ek glo nie aan versigtig reis nie; ook nie aan versigtig eet nie. Anders moet jy maar liefs tuis bly.


Bronne:

Chitra Banerje Divakaruni. 1997. Arranged Marriage. Black Swan, Londen.
Lonely Planet. 2001. North India. Londen.


VI. Karma & Gandhi

‘n Reis na Indië beteken onder meer om met Oosterse denkwyses gekonfronteer te word. Daar word vertel dat die grote psigoanalis Carl Gustav Jung die eerste keer flou geval het op ‘n reis na Indië en moes terugkeer. Hy het hierna dikwels geskryf oor die feit dat ‘n mens gereed moet wees vir die geweldige energie wat uit hierdie wêreld opspruit.

Waarom dan na Indië?

Onder andere om sekere denkwyses te ondersoek soos:

Karma. Soefisme of Moeslim mistisisme versus Tantriese Boeddhisme, oftewel Tibetaanse Boeddhisme waarin die seksuele ‘n rol speel. Die Upanishads daarenteen bevat esoteriese leerstellinge...

Maar die woord karma is ‘n Hindoe-Boeddhistiese begrip waarin dit wat jy in vorige lewe gedoen het, ‘n effek op jou huidige lot het.

Selfs al glo ‘n mens nie in reïnkarnasie nie, het jou denke en dade (positief/negatief) ‘n impak op jou lewe.

Westerlinge sluk swaar aan die beginsel van méér as een lewe. Transformasie, wedergeboorte en ander dergelike terme is egter deel van die Westerse diskoers. ‘n Mens groei in jou lewe en soos ‘n boom jaarringe wys, het elke menslike lewe sekere
“groeipunte”. Dikwels kan ‘n mens nie identifiseer met jou vorige ek of self nie.

Indië is eweneens die wêreld van Gandhi. Die ongelooflike film Gandhi met Ben Kingsley in die hoofrol, is vervaardig deur sir Richard Attenboroogh in 1982. Hy het my ‘n klapsoen gegee voor die Jameson Hall, by die UK toe hy ‘n gasspreker was by ‘n gradeplegtigheid. En waarom?

Omdat ek die lof besing het van hierdie grootse meesterwerk, ‘n film wat imponeer met ‘n sy epiese gang oor die lewe van Mohandas K. Gandhi, ‘n regsgeleerde wat geglo het in passiewe weerstand. ‘n Paradoks, dus.

Die film is tereg bekroon met 8 Oscars (toe die prys nog iets beteken het) en vertel die verhaal met ‘n panoramiese blik. John Gielgud, Edward Fox, Candice Bergen en Martin Sheen is eweneens aanwesig in die lang meesterstuk van 188 minute en miljuisende Indiërs.

Gandhi het met onverdrote ywer probeer om die diskriminasie van die Britte uit te wys en die Indiërs te bevry van hierdie juk van onderdrukking.

Die openingstoneel met 300 000 Indiërs aktiveer die konflik wat in Indië bestaan het, naamlik die verskille tussen die Hindoes en Moeslems, ‘n onderwerp van Vikhram Seth se A Suitable Boy. Gandhi word dan gefusilleer deur ‘n Hindoe wat gevoel het dat hy die Moeslims eerder ter wille was.

Gandhi se besoek aan Suid-Afrika en sy kritiek teen apartheid word eweneens kortliks in die film betrek.

Wat is die betekenis van so ‘n mens? Gandhi is die simbool vir vrede. Dat vrede moontlik is in ‘n wêreld van opstand en nyd.

Om non-opstand, non-destruksie is volgens Gandhi die mens se grootste wapen. Dit is uiteindelik magtiger as werklike wapens wat die mens tot sy eie destruksie ontwerp het.

Gandhi is gebore in 1869 van Hindoe-ouers in Gujarat, Wes-Indië. Sy ouers het hom na Londen gestuur om in die regte te studeer. Hy het ook in Suid-Afrika teen ongeregtigheid geagiteer en hier het hy die begrip van satyagraha ontwikkel, te wete: ‘n passiewe weerstand teen onwaarhede en vervalsing van menseregte.

In 1915 verlaat hy en sy familie Suid-Afrika. Hy het ‘n geweldige impak gehad op die bevrydingstryd alhier wat hy hy verder voer in Indië.

Hy kom in opstand teen die Brise oorheersing en die stryd tussen Moeslims en Hindoes. Laasgenoemde twis het tot gevolg gehad dat daar ‘n Hindoe-Indië en Moeslim-Pakistan ontstaan het.

In Januarie 1948, op ‘n weerlose ouderdom van 79, is hy vermoor toe hy in tuin in Nieu-Delhi sy aandgebede wou doen.

Sekere moderne teoloë is van mening dat daar al hoe meer ‘n groter versoening tussen Oosterse en Westerse denke gaan plaasvind.

In my jongste bundel, Vuurwiel, wat ek nou skryf, staan die volgende vers:

Karmawiel

Vanoggend droom ek van die Jesus-
kind in die Lotusblom. Op ouderdom ses
in 'n kinderensiklopedie sien ek
'n wesentjie in 'n ertjiepeul. Is dit gek

om Jesus en Boeddha saam te snoer?
Hoe kom dit dat jong kinders lank voor
begrip reeds 'n roepende stem hoor
en deur ou wyshede word ontroer?

Op 'n treinreis van Voorsienigheid
terug na my rusplek in Tydelikheid
sit ek neffens 'n rabbi sonder baard;
hy vertel my hoe elkeen na sy aard

die goddelike in die lotusblom sien
of mag glo aan Christus se bloed;
solank ons net weet: uit hierdie gloed
van Boeddha, Jesus, wie ookal verdien

ons die wete ek is verbind aan jou
in denke, dade en gevoel. Soos jy
geheg is aan my in denke, dade en berou:
'n draaiende karmawiel vir jou, vir my.


Bronne:

Gandhi”. Film/Classic. (Geraadpleeg 18 Maart 2013).


VII. Wie was die Boeddha?

In Bernardo Bertolucci se The little Buddha (1993) word die kyker bewus gemaak van ‘n ander Boeddhistiese konsep, naamlik dat die Boeddha geïnkarneer kan word in verskillende mense...

Maar eers: wie was Boeddha?

Boeddha se vader was Suddhodana, koningin van die Sakhyas en sy moeder was maja. Hy is gebore in 560 V.C. en het glo gesterf op ouderdom tagtig, dus 480 V.C. Hy is gebore in Lumbini, naby Kapilavastu teen die berg Palap in die Himalajas. Toe die jonge Boeddha-kind gebore moes word, was daar tekens gegee in die hemelruim. Blomme het begin bloei en reën het buite seisoen op die aarde neergestuif.

Boeddha se moeder het gesterf sewe dae na sy geboorte en hy is deur sy tante groot gemaak.

Dan, in die moderne tyd soek Lama Norbu na die reïnkarnasie van sy ontslape leermeester, Lama Dorje. Hy vind hom terug as Jesse Conrad in Seattle (Bridget Fonda is die kind se ma), Raju in Katmandu en ‘n Indiese meisietjie behorende tot ‘n ryk Indiese kaste. Wie is die werklike inkarnasie?

Die film fokus op die kinders se stryd onder mekaar en hul nydigheid. Elkeen wil die Boeddha wees.

Keanu Reeves vertol die rol van die jonge Siddharta in Bertolucci se rolprent, wie se verhaal in jukstaposisie geplaas word met die jonger Boeddhas.

Die Boeddha staan vir wysheid.

Sheldon Kopp is die skrywer van die populistiese teks, If you meet the Buddha on the road kill him! Die skrywer sien die lewe as ‘n reis waarin geen finale antwoorde vir die mens gegee word nie. Klassieke tekste binne die letterkunde word geneem om die transformasie-proses te verduidelik.

Die Hasidiese pelgrim, een van Kopp se reisigers, is gekweld oor sy pyn en Zaddik vertel hom die verhaal van die Huilende Boom. In Kopp se eie woorde: “On the Day of Judgment, each person will be allowed to hang all of his unhappiness on a branch of the great Tree of Sorrows. After each person has found a limb from which his own miseries may dangle, they may all walk slowly around the tree. Each is to search for a set of sufferings that he would prefer to those he has hung on the tree. In the end, each man freely chooses to reclaim his own personal set of sorrows rather than those of another. Each man leaves the tree wiser than when he came” (11).

En dit is ‘n netjiese opsomming ook van die Boeddhisme; niks meer, niks minder nie.
Ondertussen begin ek met my soektog na die Boeddha in verwerkings en vertalings.


Bronne:

Sheldon Kopp. 1972. If you Meet the Buddha on the Road, Kill him! Sheldon Press, London.
Zen Bhikkhuni. 2000. "Observe Silence". Buddhism Today. (Geraadpleeg 18 Maart 2013).


VIII. Oor gewoontes, kodes en waarskuwings

Gyatri Chakravorty Spivak

Gyatri Chakravorty Spivak is ‘n voorste Indiese teoretikus wat briljante essays skryf oor “subaltern” en Westerse intellektuele se aannames oor die Indiese wêreld. Sy is dikwels erg krities op Westerse feministe wat volgens haar hul idees van wat reg/verkeerd is oordra op die (volgens hulle) onderdrukte derdewêreld persoon.

Ian Almond in sy essay “Dissolving ‘Indianness’: How Europeans read Indian Fiction” (raakgelees op http://www.blackwell-synergy.com) meen dat Westerlinge na Indiese letterkunde kom en ons idees van hoe boeke werk op hul tekste projekteer.

Alles goed en wel om so te intellektualiseer oor ‘n reis na Indië, maar die volgende keiharde feite staar ‘n mens in die oë. En dit is wat nou tel.

Jy moet ge-inokuleer wees. Ge-wat?

Ge-inspuiting. Ge-on-geelkoors. Ge-on-memingitis. Ge-on-hepatitis-A, ensomeer, om saam te praat met Ernst van Heerden se gedig “Operasie”.

En dis nie sommer op enige plek op aarde wat jy bespuit kan word nie.

O nee.

Jy moet ‘n afspraak maak by ‘n “Travel Clinic” wat jou dan mooi verduidelik wat alles kan gebeur as jy nie hierdie inspuitings tien dae voor die tyd neem nie en sommer ‘n handvol malaria-pille op die koop toe voorskryf.

R1 000 later stap jy weg nadat hy jou waarsku dat jy òf by die lughawe weggewys kan word òf net dan en daar bespuit kan word deur ‘n Indiese dokter wat reeds veertig pasiënte voor jou met dieselfde naald bedien het.

Nee, dink ek.

Jare gelede reis ek deur Suid-Amerika en my dokter meen dat ek liefs nie malaria-tablette moet neem nie. Hy weet toe te vertel dat dit beter is om hierdie siekte te behandel indien jy siek word. So tref ‘n uitslag my terug by die huis en ek dag: malaria....

Net om te verneem dat dit ‘n gewone boere-vlooiplaag was.

In die brosjure van “The Imaginative Traveller” word jy ‘n paar moets en moenies geleer.

Soos dat wanneer jy reis tydens Ramadan sensitief moet wees vir die vastendes van die aardbol.
*  Moenie eet of drink in die openbaar nie;
*  Moenie rook op die markplein nie. Soek maar altyd ‘n stil plekkie uit;
*  Jou kleredrag moet konserwatief wees;
*  Vermy toenadering met die geliefde, soos handjies vashou of soen;
* En wees voorbereid op die afwesigheid of beperktheid van alkohol in sekere streke.

Die maand van Ramadan gedenk die tyd toe toe Allah die Koran na die profeet Mohammed gestuur het.

Tussen sonsopkoms en sonsondergang moet almal hul dan van lyflike plesiere weerhou en soveel van die Koran lees as wat moontlik is. Dit is ook ‘n tydperk van vas. Groot klem word gelê op kontak tussen mense en dikwels is daar feesvieringe in die aand wanneer familie en vriende mekaar ontmoet. Die rook van die shisha (waterpyp) en tradisionele danse is kenmerkend van hierdie tyd.

Die eerste maal van die dag heet El Fetar (letterlik om die vas te eindig).

En waarom word daar gevas?

Om tot spirituele helderheid te kom en om geduld aan te leer. Terselfdertyd is dit ‘n manier om empatie en kompassie met arm mense te leer. Dit is ‘n tyd waarin die belangrikheid van die gemeenskap beklemtoon word.

Al die verdere kodes en waarskuwings kan die voornemende reisiger op die internet vind. Soos lugsiekte op die gewraakte “Delhi belly” of “Ramses Revenge” wat menige reis al verhel het. Moenie dus die water drink. Selfs ‘n bietjie water op ‘n tandeborsel kan jou hitsig maak.

Verlore bagasie, diefstal van jou paspoort, malaria, ‘n taxibestuurder wat jou beduiwel is van die ander onaangenaamhede. En daar sal ‘n “tipping kitty” wees waarin almal in die groep daagliks ‘n bydrae maak om die wolf van die deur te hou.

Daar word ook die volgende duidelike aanwsying gegee vir voornemende reisigers op my toer wat heet van “Buddha to Bollywood”: as jou gedrag hulle nie aanstaan nie, kan jy afgegooi word.

My reis begin in Katamandu, dan beweeg ons na Varanasi en doen ‘n Ganges bootreis. Deur na Delhi, Agra (waar die Taj Mahal staan), Jaipoer, Pushkar (“Oh, push the magic button”!), Jodhpoer, Udaipoer en uiteindelik Moembaai.

My reisgenoot is Sari Marais (in die volksmond: Maarlê).


Bronne:

The Imaginative Traveller brosjure 2005.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]