Gert Vlok Nel. om beaufort-wes se beautiful woorde te
verlaat. Queillerie Uitgewers, 1999. ISBN 0 7958 00053.
Resensent: Joan Hambidge
Die tweede bundel het in die Afrikaanse letterkunde al
mitiese status bereik. Hieraan word jou ware poëtiese talent getoets en jou
debuutsondes skerp aangespreek. Met sy debuut om te lewe is onnatuurlik het
die digter tereg die Ingrid Jonker-prys verower wat die verwagting na die
tweede bundel groter maak.
Die kritiek het die gemaklike aanslag geloof, die
speelse aanslag wat maak asof daar nie intertekste en verwysings is nie; maar
met 'n dieper kyk is onder meer Van Wyk Louw daar. Die digter is 'n knap
formalis wat gedigte in 'n gemaklike praattrant aanbied. Die gebruik van die “i”
in plaas van 'n is ook 'n embleem van hierdie digterskap. Daar is iets van 'n
e.e. cummings-aanslag. Ook gebruik beide digters kleinletters en word gedigte
met 'n tweede, derde lees 'n verrassing vol verwysings.
Toe word die digter showman
en hy begin op die verhoog te tokkel met 'n ghitaar. Hy word gewild en die
metafore word op die verhoog uitgestal en uitgesing.
Die tweede bundel is as 'n mens dit poëties beoordeel 'n
enorme teleurstelling. Dit wil kennelik 'n songbook
wees, maar van poësie is hier bittermin sprake. Die gevaar van die speel
vir die verhoog het die poëtiese ruimte bedreig. Nel ontwrig sy eie diskoers en
die gedigte word uitgepraat en uitgesing en niks van die vroeëre
hou-in-die-maag is meer aanwesig nie. om
beaufort-wes se beautiful woorde te verlaat bevat woorde, foto's en songs.
En iets soos die volgende (p. 49) sal my beswaar illustreer:
jy was nie daar nie maar in die
warm overpriced flat vind ek jou
by die bay window met jou
hande buitentoe
catching the rain ek het jou gesien uithardloop sê jy
& smile
bring jy goeie nuus
vir my het hulle uiteindelik my lyk gekry? doen my 'n
guns &
balsem my in
TIMOTEI SJAMPOE
Oh, the poetry lies in shampoo, no longer in the pity!
Maar as 'n mens dit net as blote songbook beoordeel, sal dit sekerlik vir die aanhangers gewild
wees. Die foto's? Pragtig. Vir die tweede poësiebundel sal die kritiek nog moet
wag. En waarskynlik nog lank.
Dit is natuurlik die reg van die digter om te kies om
kultusfiguur te word. Dit was dan ook so met Pavarotti, Domingo en Careras.
Maar die kuns gedoog nie altyd hierdie dwaasheid nie.
Hierdie resensie is juis geskryf deur 'n leser wat so
diep onder die indruk van sy gevoelige talent was en die hoop uitspreek dat
daar 'n mooi bundel sal kom.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]