Anne Landsman. The
devil's chimney. Jonathan Ball, 1998. ISBN 1 864842 062 0.
Resensent: Joan
Hambidge
Anne Landsman het Suid-Afrika in 1981 verlaat en
haarself gevestig in New York as 'n gevestigde draaiboekskryfster. The devil's chimney is haar debuutroman
en dit word bemark met die uitspraak van die gesiene skrywer en literator en
J.M. Coetzee as wesende die eerste boek waarin daar met 'n magies-realistiese
lens na die Suid-Afrikaanse landskap gekyk word.
Die alkoholiese Connie vertel die verhaal van twee
vroue: een aan die begin en een aan die einde van die eeu. Die “back-drop”: die
magiese, getoorde Kango-grotte. Die intrige: Twee vroue se verwerking van
seksualiteit en politiek. Verlies van onskuld en 'n kind. Passie. Hartstog.
Verydeling. Die effek: twee verhaallyne wat inmekaar loop en kommentaar lewer
op die Suid-Afrikaanse landskap.
Dit is tans hoogmode om te verwys na “Writing South
Africa” en die spesifieke aard van
die Suid-Afrikaanse landskap met sy folkore, sy politiek, sy waansin en
manier-van-doen word op 'n evokatiewe manier oorgedra in hierdie roman. Die
afwisseling tussen fantasie en werklikheid, droom en realiteit word ook goed
hanteer.
Magies-realisme is 'n term wat die versoening van die
bo-natuurlike en die harde werklikheid benoem. Nou is dit egter interessant om
daarop te let dat Suid-Amerikaanse skrywers nie hierdie term aanvaar nie. Vir
hulle is die skeidslyne tussen werklikheid en fiksie arbitrêr en kontak met die
bo-werklike dimensies 'n gegewe. Gabriel García Márquez se 100 years of solitude (1967) is so 'n soort roman.
In die mate waarin The
devil's chimney dan die verskillende vlakke bymekaar uitbring, maak hiervan
'n magies-realistiese roman. Veral die beskrwying van 'n vrou se waansin na die
geboorte en diefstal van haar kind, is werklik skitterend beskryf. Rondom die
kind se identiteit word die hele intrige van politiek en bygeloof gekoppel.
Vir my is die moontlike verklaring vir die kind se
identiteit later in die roman 'n swak punt in die roman: dit sou beter gewerk
het as dit 'n oop plek in die roman gebly het; al is dit net 'n tentatiewe
verklaring wat die verteller aanbied.
Soms kos dit kophou by die leser omdat daar vinnig van
vlakke verwissel word. Maar die verskillende afdelings word met 'n soort
veertjie uitmekaar gehou.
Landsman is werklik 'n gebore storieverteller en haar
vermoë om die binnespraak van karakters getrou weer te gee, is werklik loflik.
In welke mate kan 'n mens ooit iets namens iemand anders voorstel of vertel?
word 'n basiese gegwe in hierdie roman wat ook die swart folklore van die
tokkelossie en ander bygelowe aktiveer.
Die politieke onreg aan die vorige eeu word in
jukstaposisie geplaas met die Waarheids- en Versoeningskommissie van die hede.
Insgelyks word daar baie goeie beskrywings gegee van die rykdom van die
volstruisboere aan einde van die vorige eeu en hul obsessie met die grond. Ook
die ineenstoring van die mark en die
uitwerking hiervan op mense se psiges is goed vertel.
Ook so die aanval van volstruise (waarheid of fantasie?)
op 'n man. Die beste momente in The
devil's chimney is wanneer Landsman die werklike en die fantasmagoriese só
ineenvleg dat dit die leser meesleur.
Aanvanklik was hierdie leser skepties oor die
loftuitinge en akkolades, maar halfpad-deur die roman was die siening 'n
akkoord. The devil's chimney het
bepaald 'n kreatiewe energie wat 'n mens nie kan miskyk nie.
P.S.
Daar verskyn ook 'n woordverklaring agterin: “miggie”
moet egter wees “muggie”! In 'n Afrikaanse sin mis ons die dubbele negatief. Kan Engelse uitgewers nie om vadersnaam 'n
Afrikaanse leser vra om hierdie soort foute uit te skakel nie? Ons weet
Afrikaanse woorde verleen 'n soort outensiteit aan 'n Engesle roman waarin die
Afrikaner uitgebeeld word, maar doen dit dan reg!
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]