Bladsye / Pages

Friday, March 8, 2013

Adam Thirwell - Politics (2003)



Adam Thirwell. Politics. A Novel. Jonathan Cape, 2003. ISBN 0-224-07104-1.

Resensent: Joan Hambidge

Stel jou dit voor: ‘n roman met die titel Politics wat nie oor die politieke handel nie, maar eerder oor die lewe en meer spesifiek, die verhoudingslewe. En dis wat hierdie heerlike en briljante roman ondersoek. Dit skeer die gek met die konvensies en verwagtinge wat ons koester oor die liefde.

Drie karakters (‘n man en twee vrou) se liefdesverbintenis word ondersoek deur ‘n skrywer wat hom die hele tyd aanmeld en soos ‘n negentiende-eeuse ouktoriale verteller wat ons herinner aan sy maaksels en hul filosofie. Tussendeur word die verhaal gelaai met verwysings uit ander romanskrywers soos Stendhal en die Markies de Sade. Mao se seksuele praktyke word die aan die kaak gestel en die liefde met ‘n hoofletter L word gedekonstrueer.

Moshe, ‘n akteur se liefdesverbintenis met Nana word gekompliseer deur Anjali. Hul ménage à trois word die basis van ‘n filosofiese en romanteoretiese ondersoek. Hoekom lees ons? En hoe word ons siening van die lewe en die liefde verander of aangetas deur die tekste wat ons gelees het? Anjali se ervaring van Bollywood-films verklaar haar verlange na haar eks-geliefde. Nana, op haar beurt se ervarings word verduidelik deur dit wat haar vader vir haar geleer en voorgelees het. Moshe (half-Joods) is ‘n akteur. Die verteller hou baie van hom en sy motiewe word met baie simpatie vertel.

Dit is ‘n roman wat duidelik in gesprek tree met die konvensies van die romankuns (die skrywer het aan Oxford studeer) en op ‘n superbe wyse word die verskillende diskoerse van ons tyd ondersoek. Ook hoe ons lees en wat ons verwag in ‘n roman word geparodieer. Tog nie op ‘n akademiese of droë manier nie. Die argumente word integraal deel van die storie en die leser lag oor die burleske proses wat hy meemaak. 

Umberto Eco se stelling oor die roman is hier by implikasie ‘n uitgangspunt: as ek liefde verklaar doen ek dit teen die agtergrond van ‘n Barbara Cartland-roman en daarom is dit anders.  Mandelstam se verhouding met sy gedienstige vrou is ook ‘n interteks en die verteller skeer die gek met toevallige ontmoetings wat later deur geliefdes as voorafbestem gesien word. Boonop is Oscar Wilde bedoeld aanwesig. Indien jy die konvensies van die gemeenskap oortree, kan dit jou suur bekom.

Die Surrealiste word betrek waar hulle elkeen moet verslag lewer oor edie seksuele praktyke. Fantasie en werklikheid word vernuftig afgewissel. ‘n Groot seksuele taboe, te wete masturbasie, word ontluister. Boonop is daar momente waar die geliefdes voor die realiteit van seksueel-oordraagbare siektes te staan kom, wat humoristies dog grillig vertel word.

Een van die skouspelagtigste momente in die roman is wanneer Moshe die Koningin Moeder ontmoet. Omdat hy nie die etiket onder die knie het nie, verbrou hy liederlik en boonop hy ‘n fantasie oor haar uitbou wat so verregaande en wonderlik is dat die leser brul. ‘n Kort stukkie: “He guessed at her enticements beneath her artfully draped chiffon. Her legs, he admitted, were odd. Her shins were thick with ulcers. They looked like plastic. She had the legs of an unusual Barbie doll. And her arms were cracked and bruised” (p. 25) Ook dryf hy die spot met die verikonisering van die koningshuis en hoe dit op sigself al ‘n diskoers wat epiese afmetings aanneem, geword het.

Die private oomblikke van beroemdes word ontluister: Stalin se foongesprekke, Hitler se voorliefde vir sadomasochisme, Mao se onhigiëne en Milan Kundera se belydenis dat sy asiel in ‘n vreemde land hom letterlik grys gemaak het. Hoe beskik ons oor al die private inligting? Iewers is die ‘private’ al opgeteken of vertekstualiseer.  Katherine Hepburn se dictum word ondersoek: skryf oor my, maar moet asseblief nie die waarheid praat nie.

Om te skryf dat dit ‘n belangrike roman is, sal ‘n onderstelling wees. Die skrywer het al die Granta-lys gehaal as ‘n belowende jong skrywer, gebore in 1978! Hy is werklik uitstaande en die roman het ek in een sitting geniet. Julian Barnes van Flaubert’s Parrot-faam het beslis kompetisie.  Dit is ‘n moderne Dangerous liaisons sonder sy noodlottige einde. ‘n Behendiger Hallucinating Foucault.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]