Salman
Rushdie. Luka and the fire of life. Jonathan
Cape, 2010. ISBN 978
0 224 09021 6.
Resensent:
Joan Hambidge
Salman
Rushdie sal waarskynlik altyd onthou word om die fatwa wat sy lewe in ‘n hel
verander het en vir sy oneindige ego. By ‘n Booker-prys-toekenningsaand jare
gelede was hy op die kortlys. Toe hy nie die prys wen nie, het hy sy stoel
agteruit geskop en die saal brommend verlaat.
Maar
daar is ‘n verdere komplikasie: ‘n skrywer van sy statuur, wat enorm belangrike
werke gelewer het soos Midnight’s children, die omstrede The Satanic verses, en
natuurlik The ground beneath her feet, sal altyd gemeet word aan sy beste.
Immers het Midnight’s children die Booker of Booker’s verower: die beste roman
vir die eerste vyfentwintig jaar. Sy jongste teks Luka and the fire of life
word opgehemel deur resensente en die Guardian noem hom sommer “ons” allerbeste
romanskrywer. Nie dat hy in Brittanje werklik meeding teen die grotes nie – die
groot romanskrywers vertoef in die VSA: Roth, De Lillo, McCormac, Auster, en
verder terug, Bellow…
Maar dit
‘n tersyde. Skrywers soos Rushdie bly goed selfs met kleiner tekste soos Luka
and the fire of life. Dit is die verhaal van Luka, ‘n linkshandige kind, wat
agtien jaar na sy ouer broer, gebore word. Sy vader is ‘n storieverteller en
die jonge Luka het ‘n ryke verbeelding waarin hy telkens ander wêrelde voorstel
en beleef. Hy het twee diere, ‘n beer wat Dog heet en ‘n hond, ‘n Labrador, met
die naam Bear. Die Beer is ‘n wonderlike danser wat kan polka en wals en rhumba
en so voort. Op ‘n dag besoek ‘n sirkus die dorp. Hierdie sirkus bekend vir hulle
“Famous Incredible Fire Illusion” verniel hulle diere en hiervan hou Luka net
mooi niks nie. Hy vervloek die sirkusbaas met die woorde dat hy hoop die diere
sal nie langer na hom luister nie en dat die tent sal afbrand. Dit gebeur dan
presies net so en die dorpinwoners dink dan dat Luka oor magiese kragte beskik.
Die
sirkusbaas neem egter wraak op Luka se vader wat in ‘n diepe slaap verval en
dan moet Luka deur middel van ‘n avontuur sy vader red. Op hierdie reis ontdek
hy karakters uit sy vader se verhale
Luka se
verbeelde bestaan aktiveer op verskillende vlakke die mag van stories en hoe
ons deur middel van verhale ontkom van die ellendes van ‘n alledaagse en
bedreigende bestaan.
Rushdie
kan skryf. Hy is ‘n imposante meester van die vertelling wat in die werklikheid
begin en dan in die fantasmagoriese dimensie letterlik begin dans. Sy
taalgebruik is soepel en helder.
Die
roman is geskryf vir sy tweede seun se twaalfde verjaarsdag, terwyl die
voorganger Haroun and the sea of stories ‘n geskenk was vir sy oudste seun. Die
roman speel kennelik in op jong kinders se liefdes vir playstation en die skep
van verskillende identiteite.
Miskien
het Salman Rushdie met hierdie verhaal, op ‘n tweede vlak, finaal ‘n antwoord
gegee op die persoonlike ellende wat hy moes deurmaak: deur verhale, soos in
die Duisend-en-een-Nagte, kan jy die dood afweer en terselfdertyd die vuur van
die lewe beheer. Die roman vra eweneens vir ‘n saamlees met Alice in
Wonderland.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]