Bladsye / Pages

Tuesday, February 26, 2013

Peter Swanborn & Robert Dorsman (Samest.) - 44 Gedichten voor Antjie (2012)



Peter Swanborn & Robert Dorsman (Samest.). 44 Gedichten voor Antjie. Tortuca Cahier, 2012. ISSN 1572-4956 ; 008

Resensent: Joan Hambidge

Ter viering van Antjie Krog se 60ste verjaardag verskyn hierdie bundel met 44 gedigte in Nederland by Tortuca.

Hier te lande was daar nie so ’n cadeau nie, hoewel ’n paar digters en skrywers haar wél in die pers en op die Versindaba-webruimte gelukwens.

In Afrikaans is daar onder meer die pragtige geleentheidsbundel vir Ernst van Heerden en hierdie soort versameling is altyd vir die poësieliefhebber ook jare later ’n besondere ervaring.

Wat het geword van ’n digter? En hoe sou ons nou na Van Heerden kyk?

Sulke bundels is eweneens tydsdokumente wat ’n bepaalde tydsgees opvang en ’n digterlike mode of beweging karteer.

Krog, soos Elisabeth Eybers, beklee ’n besondere posisie in die Lae Lande. Sy is geliefd onder die Nederlandse en Vlaamse digters.

Poësielesers daar is gaande oor haar gedigte en Krog werk goed in ruimtes soos by Poetry International of ander voorlesings omdat sy ’n besondere voordragkunstenaar is.

Alle digters weet: Jy moet sorg dat jy vóór Krog lees, want sy is sowel digter as vertolker.

’n Opdraggedig is al speels ’n verleentheidsvers genoem omdat min digters in staat is om onder druk vir ’n bepaalde geleentheid ’n vers te kan skep.

Tom Lanoye begryp hierdie dilemma terdeë in sy bydrae “De Krogse kersentuin” (bl. 48) wanneer hy speels die probleme rondom so ’n vers die onderwerp van die gedig maak.

En raak hy nie opgewerk nie:
O Parmantige Pausin van Kaap- & Kroonstad!
O Subtiele Dalai Lama van het Afrikaans!
O Cruella Deville van het Vrouwelijk Begeren,
het Menselijk Tekort en het Eeuwige Verlies!

En vra hy: Is skryf enigsins iets werd as dit nie ’n “bungeejump” is na die essensie van die syn nie?

(Die gebruik van Engels in Nederlandse gedigte val op, nes hier by ons.)

In hierdie gedig loof hy die digter vir haar aandeel aan sy tuiskoms in Suid-Afrika. Dan bely hy dat hy eerder na prosa sal oorgaan en besing haar as sy sangoma.

Die konvensie van hierdie soort bundel is dat jy die aangesprokene moet vereer, hoewel ek eenkeer by ’n geleentheid was waar ’n prysdigter die Vereerde opgestuur het – tot groot vermaak van die Xhosa-gehoor.

Krog se digkuns karteer die volledige ontwikkeling van vrouwees: jong meisie, student, geliefde, getroude, moeder, geskeide, ouer vrou, ouma. In die aangrypende vers van Hagar Peeters “Sylvia, Ingrid” (bl. 74) word die kondisie van die vrouedigter onder die loep geneem:

In bloemlesingen prijkt jullie ontzetting
op sterk water voor altijd, voor elk nageslacht.

Vele digters tree ook in gesprek met haar politieke persona soos Alfred Schaffer in “Heelhuids” (bl. 81) met ’n slot wat in die maag tref.

Soms is daar handgeskrewe gedigte by – wat hierdie versameling des te meer besonders maak.

Daar is bekendes en minder bekendes (vir my altans), maar gelukkig is daar ’n klein biografiese addendum.

Daar is verse van Luuk Gruwez, Ramsey Nasr, Charles Ducal, Willem Jan Otten, om enkele bydraes uit te sonder.

Intieme gesprekke soos Christine Otten se “Soulfood” (bl. 67) gee ’n besonderse blik op ’n vriendskap en word ’n opname van ’n private gesprek so in die trant van Anne Sexton.

Hierteenoor (ironies genoeg neffens hierdie vers) Nasr se meer gedistansieerde “gij die hier binnentreedt” (bl. 66):

elk huis is een droomhuis in deze stad
elke krater voortaan een ideale krater
in gaza trekt men’s nachts de wandelschoenen aan

Vir die Afrikaanse leser is die verskille en ooreenkomste tussen “ons” en “hulle” interessant. En hoe hulle hierdie belangrike digter sien.

Raj Mohan som dit dalk die beste op: dat die intieme aanklank tussen twee digters ’n verbintenis aandui (“die tyd”, bl. 62).

Jan van der Haar tree in gesprek met haar vermoë om die grens-oorskrydende en platvloerse woord poëties te maak in sy gedig “Lijfkreet” (bl. 35).

Kaleidoskopies is hierdie 44 gedigte in hul inspeel op verskillende fasette van Krog. Met Robert Dorsman in Afrikaans.

Skandelik is dit dat onse Antjie Krog nie hier te lande so vereer word nie. Ons beminde Antarktika en Lady Anne.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]