Koos Prinsloo. Verhale. Human & Rousseau, 2009. ISBN 978 0 7981 4940 2.
Resensent: Joan
Hambidge
I.
Om te skryf oor
die kortverhaalskrywer Koos Prinsloo wil ek my resensie kontekstualiseer en
verwys na die mini-seminaar oor sy werk.
Ek het geskryf:
Die naam Koos
Prinsloo was en is gekoppel aan omstredenheid. Koos Prinsloo was ‘n tydgenoot
in die onrustige tagtiger- en negentigerjare toe almal aan almal se kele was.
Nie alleen was dit die tyd van apartheid, noodtoestande, seksuele ontdekkings
nie, maar dit was eweneens ‘n tyd van polarisasie. Skrywers was opdrag gegee
deur die ANC se ‘cultural desk’ om oor ongeregtighede te skryf. Johann de Lange
se Nagsweet is deur ‘n beswaarde resensent teruggestuur oor die openhartige
besinning van lyflikheid.
Dit was die tyd
van Stet, die letterkundige tydskrif waar digters soos Koekie Ziervogel baljaar
het en bandeloosheid, seksueel en polities, aan die orde van die dag was.
In hierdie tyd
was daar die figuur Koos Prinsloo, wat met sy debuut Jonkmanskas (1982) opslae
gemaak het. Oor die gedurfde verhale, die vermenging van feit en fiksie. Die
kritiek op die patriargie. Hierteenoor was daar ánder kortverhaalskrywers soos
Alexander Strachan, die voormalige recce, se ‘n Wêreld sonder grense en Lettie
Viljoen (nou Ingrid Winterbach) se Klaaglied vir Koos. Of Etienne van Heerden
se My Kubaan.
By Koos Prinsloo
was daar woede, vreesloosheid, gedurfdheid, ‘n soort ‘dirty realism’ en die
verhale het al hoe feller en meedoënloos geraak. Met Die hemel help ons (1987),
Slagplaas (1992) en Weifeling (1993) was Prinsloo gevestig as kultusfiguur. Met
vele omstrede gebeure:
Die Rapport-prys
is hom ontneem omdat hy, by monde van ‘n karakter, P.W. Botha as ‘n meidenaaier uitgeskel het –
hierteen het hy geappelleer en wel uiteindelik die prys ontvang;
Johannes
Kerkorrel het homself herken en letterlik in ‘n verhaal ingeslaan;
‘n Literator,
Tom Gouws, het vir weke se vermaak gesorg toe hy ‘n foto in ‘n Prinsloo-teks
verkeerd kodeer het.
Hy het oor Vigs
op ‘n onromantiese en vreeslose wyse geskryf en familiegeheime en -opstande
uitgelap om sy leser onrustig te maak.
Waarskynlik is
die beste wyse waarop ‘n mens Prinsloo se nalatenskap kan takseer is in Johann de
Lange se Vreemde as fiksie (1996) opgeteken. Hier versoen De Lange die twee
groot gay-skrywers, naamlik die mentor (Hennie Aucamp) met die mentee (Koos
Prinsloo) op ‘n verbluffende wyse. Ook gee sy verhaal ‘n besondere blik op die
komplekse verhouding en word ‘n gedurfde eksperiment in die grense, en
grensloosheid van die postmoderne verhaal waar voetnote, werklike en fiktiewe
karakters, aanhalings uit briewe, kortverhale vermeng word om ‘n blik te gee op
vaderskap (letterkundig en andersins) om ‘n eie identiteit uit te werk.
Koos Prinsloo is
en bly ‘n gedurfde skrywer, ‘n knap stilis wat die leuens van sy samelewing met
‘n rapier aan flarde kon sny.
Ironies genoeg
lees jong lesers hom moeilik, omdat hy as tipiese eksponent van die
postmodernisme geanker was in sy tyd en sy angste. Vele van die tersydes en
voetnote – om van die skinderstories as interteks nie te praat nie – is vir die
meeste lesers vandag gewoon onbekend.
Tog is daar
verhale wat buite die kontensieuse óm bly bestaan soos “Klara se klokkies”, “In
die kake van die dood”, “Die wond”, om enkeles uit te sonder.
Hoe, wonder
hierdie leser, sou sy verhale nóú daar uitgesien het?
Of kon so ‘n
driftige skrywer net vir ‘n kortstondige
tyd bly leef? Of sou hy sterf aan sy eie ontgrensing?
Hoe ironies dat
die Pop Ster ook nie meer met ons is nie.
Al lê die berge
nog so blou.
II.
Hierna vra
FineMusicRadio vir my om ‘n resensie te lewer en ek herlees die verhale. Sekere
aspekte van sy werk kom vir my duidelik na vore:
By ‘n herlees is
dit duidelik hoe doelgerig hierdie skrywer hom oorgegee aan die skryfdaad.
Veral die grense tussen werklikheid en fiksie, die gebruik van herkenbare mense
(soos Andrea Vinassa, o.a.) val op. Nou dat die skrywer nie meer deel van die
letterkundige sisteem is nie, vind hierdie leser dat sekere tekste ‘n ander inval
opeis.
“A portrait of
the Artist” waarin Hennie Aucamp as mentor beskou word, raak ‘n ryk geskakeerde
teks oor die ellendes van skryf en dat die skrywer – met of sonder ‘n mentor –
ten slotte alleen is.
‘n Paspoortfoto
van die moeder problematiseer die grense tussen werklikheid / fiksie. In ‘n
literatuurgeskiedenis word gevra of dit eties korrek is dat die skrywer
herkenbare mense se lewens tot teks verklaar?
Daar is
verwysings na Raymond Carver se ‘dirty realism’ – voortreflik verfilm deur
Robert Altman in Short Cuts – na bekende gay-skrywers, na die pynlike ervaring
van PCP/Vigs, eksplisiete seks, plat woorde…
Teenoor die
verestetisering van die ouer skrywer, staan die weerbarstige skrywer wat niks
en niemand ontsien nie; veral nie homself nie.
Gaan koop die
boek.
Die gesigslose
uniform (deur Hentie van der Merwe) som dalk iets van die kondisie op: nou dat
die skrywer vertrek het, is die verhale sterker en gesigsloser in fiksie gebed.
Op ‘n plekke ‘n wins, op ander plekke ‘n verlies omdat die tekste van Prinsloo
sterk deur sy persoonlikheid ingegee is.
Dit is uitgegee
deur Human & Rousseau.
III.
Later vanjaar
verskyn daar ‘n studie oor die werk van Koos Prinsloo een van die belangrikste
eksponente van die postmodernisme en gayverhaal in Afrikaans. Die besonder
keurig versameling verhale met die uniform wat gesigsloos voor jou staan, roep
etlike assosiasies op: die grensverhaal waarin ‘n karakter P.W. Botha ‘beledig’
het en Prinsloo in omstredenheid gedompel het. Hy is die Rapport-prys ontneem,
maar die geldwaarde is wel later aan hom uitbetaal, omdat hy ‘n regsopinie
ingewin het.
Prinsloo was ‘n
maverick-skrywer. ‘n Vreemde mengsel van ‘n weerlose jong man wat in ‘n stadium
maskara gedra het met ‘n cowboy-borspeld op sy hemp.
Jonkmanskas
(1982), Die hemel help ons (1987), Slagplaas (1992) en Weifeling (1993). Die
eerste bundel het by Tafelberg Uitgewers verskyn, die tweede by Taurus, die
derde by Human & Rousseau en ten slotte: by Hond. Hy het dus by sowel
hoofstroom-uitgewers as by randuitgewers gepubliseer.
Die rede
hiervoor is by nabaat duidelik: Prinsloo se onverskrokke uitwys van
magsmisbruik binne die Afrikaner-élite of gewaande Afrikaner-adel het nie goed
afgegaan nie. Die aanvat van heilige koeie en tollies het eweneens dwars in die
krop gesteek en ja, die wyse waarop die homoseksuele tematiek aangepak is, het
eweneens ‘n wenkbrou laat lig. Vir die rekord: in die tagtigerjare was gay-wees
‘n gevaarliker arena as wat dit nou is. Skrywers is gekapittel oor hul
skryfwerk en ‘n dekaan aan die Universiteit van die Noorde het my aangespreek
omdat ek in die pers erken het dat ek nie alleen gay-tekste skryf nie, maar ook
gay is.
By Prinsloo is
daar vele klassieke tekste aantoonbaar wat in enige relevante bloemlesing sal
tuishoort. Vir my is die suiwer begin in “By die skryf van aantekeninge oor ‘n
reis” ook ‘n teks wat kommentaar lewer op die lewensreis.
Net so kry die
slotwoorde uit Weifeling nou ‘n ander betekenis:
“Kort voor
ligdag – in die kaal jakarandaboom voor
sy balkon raas die mossies al – en wel met die hulp van ‘n slaappil, sluimer hy
vir die eerste keer in” (p. 381).
Wanneer ‘n mens
die verhale uit die verskillende bundels nou weer saamlees, is dit ‘n ander
leser met ander wetes en insigte wat die tekste benader. ‘n Paar interessante
opmerkings vanuit die déjà lu-perspektief:
1. Jy merk onder
andere op dat Beeld-beriggie (p. 60) in “In die kake van die dood” deel vorm
van die teks en nie meer ingeplak is nie. Dit was
oorspronklik ‘n fout wat egter die pomo-aard van die teks onderstreep het.
2. Die verskillende tekste kry vandag in 2008 ‘n
ander betekenis. Die leser uit die tagtigerjare kan vele van die verwysings
snap en verdiskonteer, ofskoon jonger lesers dikwels onduidelikheid ervaar oor
wat ‘n betekenis of in-verwysing behels.
3. Prinsloo het
‘n suiwer, ongekunstelde prosa geskryf. Gaan lees “Skrot” byvoorbeeld weer.
4. Die
tydsdokument is opvallend soos in “A night at the opera” waarin ‘n spesifieke
tyd (Saterdag, 23 Maart, 1985 om 10h15) as’t ware die werklikheidsdimensie of
vraisemblance van die teks wil beklemtoon.
5. Dieselfde
geld die gebruik van foto’s van herkenbare figure of die plasing van die
ID-foto van die moeder (p. 203). Persone soos Iris en Helena wat werklik
bestaan of geleef het.
6. ‘n Behendige
hantering van die metafiksionele of selfrefleksiewe teks soos “A portrait of
the artist” en vele voetnote wat die teks in ander tekste inbed en selfs die
werklikheid tot teks verklaar.
7. Die vermoë om
taboe-onderwerpe of die onsêbare te verwoord tot die chagrin van die
geskryfdes.
8.
Strokiesprente en ander tekste wat binne verhaalverband kommentaar lewer op ‘n
uitspraak van die verteller / persona / skrywer.
9. Verskillende
tekste (strokies, dramatekste en fantasie) wat ‘n soort genre-vermenging
deurmaak om die leser uiteindelik onseker te maak oor wat die eintlike finale
punt van ‘n storie is. Ook die erkenning dat dialog gebaseer is op populistiese
tekste soos Maureen Pithey se artikel in Highveld Style (September, 1985).
Later het tekste geskuif na Stet (oh those were dem days!).
10. Die verhale
het ten spyte van die kontensieuse aard bekronings beleef (die Rapport- en De
Kat-pryse, byvoorbeeld).
IV.
Dit is
byvoorbeeld relevant om te kyk hoe skrywers binne ‘n kanon verdwyn en
terugkeer. Twee belangrike Afrikaanse prosateurs het as’t ware uit die dode
opgestaan: Etienne Leroux en Koos Prinsloo.
Die eerste verhaal het in 1980 in Tydskrif vir letterkunde verskyn.
‘n Skrywer word
weer afgestof en van die rak en uit die kas gehaal, wanneer die boodskap weer
tersaaklik word. Dit strek Human & Rousseau beslis tot eer dat hul bereid
was om hierdie belangrike en omstrede skrywer weer aan te bied in ‘n nuwe
baadjie.
Hoe sou Koos
Prinsloo nou geskryf het en teen wie sou hy nou uitgevaar het? Of het hierdie
soort tekste juis gedy, omdat die skrywer bewus was van sy einde? Hierdie vrae
vra ek na ‘n herlesing weer.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]