Hennie Aucamp. Vlamsalmander. Protea Boekehuis, 2008. ISBN 978 1 86919
246 4.
Resensent: Joan
Hambidge
Op dieselfde tyd
wat Hennie Aucamp se digbundel Vlamsalmander by Protea Boekehuis verskyn, publiseer J.C.
Steyn ‘n soort outobiografiese-cum-historiese teks, Sonkyker, ‘n Vrystaatse
salmander. Dit is dan ook metafoor vir die alleenstaander, die eenspaaier en by
Aucamp staan die vlamsalmander vir die poëtiese woord en besinning oor die
kuns.
In hierdie Aucamp-bundel met ‘n foto van ‘n boom wat soos ‘n salmander
lyk deur Mark van Coller, word verskeie tipies Aucamp-temas onder die loep
geneem. (Dis glo ‘n witgatwortelboom en pas in by die digter se reeks kwatryne
oor bome.) Die leser is altyd bewus van die kunstenaar / skrywer se blik op die
werklikheid, soos onder andere, interpretasies by skilderye van Rembrandt,
kommentaar by sewe litografieë van Picasso, ‘n gedig oor / vir Ingrid Jonker.’n
Sub-titel by ‘n skildery van Lucas Cranach, staan onderaan ‘n gedig. Dit tipeer
dan ‘n soort stylsoort, ‘n kommentaar op die kuns, die nagebootste wêreld, die
simulacrum.
Uiteraard is
hierdie soort portret-vers terselfdertyd ‘n dubbelspraak, of kan as sodanig
getipeer word: die digter lewer kommentaar op Piet Mondrian of Irma Stern en op
‘n implisiete wyse slaan dit terug op die skrywer se siening van die liefde.
Die drieluik oor Stern is knap.
In die Kongo en
elders
Sy het fel, verbete,
laat Romanties,
haar primitiewe
self gaan soek
en stel in
weelderige prosa
haar binnereis
ten boek.
By die gedig oor
Mondrian vind ons die woord “tinteldronk” wanneer die kunstenaar sy kuns soos
jazz op seildoek uitstal. Aucamp is ‘n vormvaste digter. Dit weet ons uit sy
beoefening van die Shakesperiaanse sonnet in Dryfhout (Tafelberg, 2006), die verskeidenheid kwatryne wat hy skryf, sy hantering van die haikoe. Sy gedigte erken
die belang van metriese patrone en ons vind dan die haikoes hier wat by Strijdom
van der Merwe se uitstalling gebruik is en kwatryne by die wyn.
So klink ‘n
lekker wyn-kwatryn:
Ars poetica
Trap die korrels
in die vat
dat dop en sap
baldadig spat:
Van liewerlee
word vroeë pyn
verdig tot
onbetrokke pyn.
In vele van die
gedigte is daar dan ‘n besinning oor die verhouding tussen kuns en ek /
persona. Moet die digter wegskryf van die self of kan die self-bemoeienis
eweneens tot kuns lei? In hierdie opsig is die Rembrandt-gedigte openbarend
juis omdat hierdie skilder hom besig gehou het met hierdie komplekse
problematiek.
Die aangrypende
“Rembrandt-selfportret, 1669” vra dan die belangrike vraag oor hoe die ek lyk
wat deur ondervinding verslyt is?
In “Beurtrym”,
‘n distigon, kan ‘n mens ‘n antwoord lees op Eybers se “Wespark”. Hier lees
ons:
‘n Man het aan
sy hart beswyk
terwyl hy
worstel met sy steak.
‘n Ander ou
sterf op die troon:
Sy drukwerk is
fataal beloon.
En nog ‘n man
dood op die jop:
Sy kom en gaan
was sonder stop.
(…)
Die gedigte het
soms ‘n boodskap, ‘n moraal, soos “Die neefs” of in die genoemde “Beurtrym”
waarin daar ‘n wysheid oor die mens se lot uitgewys word. Die digter dig met
“stipte aandag”, vormvas en die leser is deeglik bewus van ‘n fyn
woordkunstenaar.
Die gesprekke is
daar, soos “Herfs” wat inspeel op Van Wyk Louw se “Vroegherfs”:
Dié dae is reeds
heilig
en vra om geen
gebed -
Aucamp se
bekende ondersoek van die seksuele is hier te vind (ja, die lul en ballas) en
sy aktivering van ou woorde soos “nurks”.”portiek”, o.a.
Die portretverse
oor Marjorie Wallace, Battiss, Piet Mondrian, Rembrandt, Irma Stern, Picasso,
Rodin, e.a. gee ‘n duidelike bemoeiens met die kuns weer.
Persoonlik is
Aucamp vir my op sy beste wanneer hy ‘n puntdig, haikoe of kwatryn skryf. Hy
het ‘n besondere gawe om met ‘n klein kwashaal ‘n besondere gedig te lewer.
In die langer
vers, soos in “Prototipe”, vind ‘n mens ‘n amper-retoriese segging met ‘n
uitroep en al. Dalk bedoelde parodie, maar dit oortuig nie heeltemal nie.
In “Porno
lounge” wil die digter klaarblyklik soos in sy kabaret-tekste opstuur en
sosiale kommentaar lewer:
O mens, ná
sinsverrukking
wag altyd weer
die niet:
Klank- en
beeldorgieë
kan slegs
verposing bied.
Dieselfde geld
“Liefde in vier bedrywe” en “Drie verse oor die liefde” met sy moraliserende
slot:
Naskrif
Wag tot jy jou
jare kry
voor jy
liefdesverse lees
en pleeg, want
laggende ontdek jy
l’amour was net ‘n skim gewees.
Uit die gevormde
kuns is daar beslis kuns te maak: dit bewys “Cyril redivivus”, “Ja, das Meer
ist blau, so blau” bewys.
Ek is absoluut
van mening dat die korter vers Aucamp se métier is en dat die langer vers soms
oorwoeker word deur die moralistiese toon of deur metriese patroon wat dreunerig
opslaan.
Daar is eweneens
kabarettekste opgeneem soos “Die wederkoms: variasies op temas in Raka” wat met
die vorige Prins Raka dans.
‘n Moet vir die
Aucamp-liefhebber.
Aucamp het
belangrike werk gelewer as beoefenaar van die kortkuns, dramaturg,
dagboekskrywer, bloemleser en as skrywer van kabarettekste. As digter moet sy
bydrae nie ontken word nie. Hierdie bundel, soos Dryfhout (Tafelberg, 2006), is
vir die mentor van jong digterstudente van onskatbare waarde, omdat die digter
Aucamp vorme verruklik beoefen.
Soos byvoorbeeld
die Shakespeariaanse sonnet. Of die distigon.
Miskein het die
Afrikaanse letterkunde nog nie genoegsaam aandag gegee aan sy digkuns nie,
omdat ons dikwels genre-bevange is en skepties is oor ‘n skrywer wat van een
genre na ‘n ander beweeg.
Die roemer, die wyn, die karaf
(by ‘n sewentiende eeuse stillewe)
Uit watter stofbedekte bottel
is dié karaf gevul?
Karaf staan buikig langs ‘n skottel:
sy oesjaar ewiglik verhul.
Dié gedig uit
Dryfhout is ‘n klein juweel.
Uit die gevormde
kuns is daar inderdaad kuns te maak!
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Tydskrif vir letterkunde geplaas.]