Bladsye / Pages

Saturday, February 9, 2013

Jerzy Koch - Outsider onder de Zijnen (2007)



Jerzy Koch. Outsider onder de Zijnen: Vormen van Zenofanie in de Afrikaanse roman. Wydawnictwo Uniwersytetu Wroclawskieg, 2007. ISBN 83 229 2250 7.

Resensent: Joan Hambidge


Jerzy Koch is ‘n bekende Poolse literatuurwetenskaplike wat hom al geruime tyd onderskei het as ‘n besonderse kenner van die Afrikaanse letterkunde. Verbonde aan die Universiteit van Wroclaw en Poznan het hy ook al geweldig baie gedoen vir die verbintenis tussen Afrikaans en Pole en ‘n digter soos Fanie Olivier het dan ook in sy departement waardevolle werk gedoen. Koch is ook bekend as vertaler wat bekroon is met die gesogte Nijhoffprys (1995) en is tans navorsingsgenoot aan die UOVS.

Sy studie Outsider onder de Zijnen karteer die belangrike aspek van ‘n verbintenis met die buiteland en die blik van buite. Die venster op Europa het deur die jare oopgegaan, toegegaan en is tans weer oop vir Afrikaanse skrywers – maar let wel, net vir sekere geroepenes.

In ons probematiek, meen Koch is die spanning tussen ons/hulle, hier/daar, binne/buite sterk aanwesig. En so is dit dan ook in een van die oeroue spanninge in die romankuns, naamlik die opposisie tussen stad en platteland.

Dit is nie binne die orde van ‘n resensie moontlik om op al die kwessies te wys wat hier aangeraak word nie. Dus net ‘n paar tersydes by dit wat my interesseer. Ek dink een van die hoogtepunte is die beskouings rondom Sy kom met die sekelmaan wat hy tereg lees as ‘n boek wat gekanoniseerd gebly het ten spyte van die feit dat dit nie aan die latere ideologiese eise voldoen het nie. En, meen Koch in navolging van Mieke Bal, dat daar geen feministiese metode van kritiek bestaan nie; alleen die vraagstelling kan hoogstens feministies wees.

Hy beklemtoon die aspek van outo-terapie in hierdie roman en die fyn konstruksie van die ‘n metarefleksiewe teks wat die leser in een sentrale brief kan vind.

Benewens vir hierdie skitterende analise van ‘n roman wat die toets van die tyd deurstaan het, imponeer die skrywer se kennis van die geskiedenis van die literatuurkritiek: Dekker, Schoonees, Malherbe, Antonissen, Kannemeyer, en andere word histories korrek geplaas. In hierdie opsig is H.P. van Coller se siening dat die skrywer nie werklik ‘n “outsider” is nie, maar die circuits, periferale diskoerse  en buite-literêre kwessies ken. Wel moet daar verskil word van sy siening dat Koch hoflik en nie polemies verskil nie. ‘n Polemiek hoef nie ón-hoflik te wees nie.

Elke resensie/bespreking verraai immers ‘n bepaalde literatuursiening, -smaak wat eweneens binne ‘n bepaalde tydsgees geplaas kan word.

‘n Mens kan toe-oog ‘n resensie uit die tagtigerjare o.a. aanhoor en die politieke onrus van hierdie tydperk optel.

Ander tekste wat o.a. onder die loep geneem word, is Na die geliefde land van Karel Schoeman, Die son struikel van Dolf van Niekerk en Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins
.
Laasgenoemde teks is uiteraard ‘n goeie toetsgeval vir enige kritikus weens al die “woordstorms” rondom die boek.

Hy gebruik o.a. vertelinstansie teenoor kykinstansie (fokalisator) om die komplekse ideologie van die teks vir die leser oop te maak. En waarom ‘n boek “moreel” moet wees, verraai eweneens ‘n sekere historiese bewussyn binne die letterkunde tydens die publikasie en die resepsie van kundige literatore èn Jan en Alleman. Leroux se komplekse skryfstyl en die optrede van die meturgeman sou ‘n interessante vergelyking met die resepsie rondom Nabokof se Lolita kon uitlok.

Wanneer hy oor Na die geliefde land skryf – veral met die relevante opmerkings van J.M. Coetzee en Ampie Coetzee – wys hy tereg daarop dat die belangrikste romansiers in Afrikaans hul hand gewaag het aan die sogenaamde plaasroman! Etienne van Heerden het ontken dat Toorberg dit is – ja, sou ‘n mens kon opmerk: die roman is ‘n plaasroman, maar veel meer. Dit is ook ‘n boek oor marginalisering. Oor “othering”. ‘n Mens is deurgaans bewus van Koch se enorme belesenheid en vergete essays en artikels word uitgehaal en afgestof om ‘’n belangrike punt te illustreer.

Elize Botha se prosakronieke is uiters belangrike prosa-essays, en ja, laat dit nou maar eenmaal hard en duidelik geskryf word: daar is min stiliste soos Botha wat jou op ‘n reis deur ‘n belangrike boek neem en al verskil jy van haar oordeel, bly jy bewus van haar kundigheid en ingeligtheid.

Na die geliefde land, in navolging van McHale, is historiese fantasie, apokriewe geskiedenis of pseudo-profesie en P.A. du Toit het dit uitgewys vir ons.

Om te woeker met die bekende retoriese strategie van Jerzy Koch: die Afrikaanse letterkunde is te belangrik dat dit net in die hande van Afrikaanse literatore en lesers gelaat kan word.

Kundigheid en enorme navorsing is die oorwegende indruk wat hierdie boek maak. Dit hoort op die rak van elke Afrikaanse dosent en literator. Papier is geduldig en uitsprake gemaak deur literatore van toentertyd en nou word opgediep. Selfs besprekings waarvan ‘n mens al vergeet het soos Marlene van Niekerk se satiriese reaksie op ‘n intreerede.

Bierdajiew se siening van die ‘sobornost’ word raak beskryf met verwysing na Carry van Bruggen en Colin Wilson, natuurlik.

Van Bruggen se programma kan die leser van nut wees.

Ek ken min moderne literatuurtekste waarin kanonisering, gender en grenre so behendig saamgesnoer en geteoretiseer word. Die toespassings is fyn.Dit is ‘n belangrike verwysingsboek wat neffens Perspektief & Profiel op jou rak moet staan.

Die studie is boonop in ‘n toeganklike taal geskryf.

Bestel van marketing@wuwr.com.pl

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]