Bladsye / Pages

Saturday, February 9, 2013

E. Kotze - Die wind staan oos (2007)



E. KotzeDie wind staan oosTafelberg Uitgewers, 2007. ISBN 0 624 03503.

Resensent: Joan Hambidge

Hierdie skrywer se hartland is die Weskus en haar verhale speel af teen die agtergrond van hierdie genadelose, dog boeiende agtergrond. In 1982 verskyn sy op die Afrikaanse toneel methaar bundel Halfkrone vir die nagmaal wat waarskynlik een van die suiwerste debute in Afrikaans is. Dit word tereg bekroon met die Eugène Marais-prys. Daarna verskyn Silt van die aarde (1986) en Halwe hemel (1992), asook die outobiografiese teks Slag van die breekbrander (2000).

Die gevaar van die kontreikuns is oorbekend: ‘n valse beeld word dikwels geskep waarin mense rassisme en seksisme laat gedy; die vader ‘n stil patriarg, die moeder ‘n verwonde, verbitterde vrou – met die verteller wat vanuit die hede nostalgies terugverlang na ‘n bestaan wat in wese oneerlik, pynlik en emosioneel gevaarlik was. Gewoonlik vind ons by die onbehendige skrywer ook ‘n paar idiomatiese uitdrukkings, ‘n stukkie verlore volkskultuur, en voilà: daar het jy die Overberge of Weskus of Boesmanland “verpak” met ‘n verteller wat brrrry of simpel, ouderwetse Afrikaans praat.

Hierdie slaggate vermy Kotze soos die pes. Sy skryf uit die hart uit en by die lees van die jongste bundel het hierdie leser by herhaling gedink aan die kortverhale van die Nieu-Seelandse skrywer, Katherine Mansfield wat in wese ‘n komplekse, vertrekte mens was maar in haar verhale met ‘n suiwer, nie-kompromislose blik die gegewe weergee. Dieselfde geld Kotze: sy vertel suiwer. Sy manipuleer of kies nie kant nie en sy laat die verhaal vir sig self vertel.  Kortom sy maak van die streeksvertelling iets universeels-menslik.

‘n Besonder aangrypende analise van ‘n vrou se psige is die verhaal “Vlees en bloed” waarin ‘n huwelik en ‘’n vrou se stille opstand teen ‘n swakkeling-man geanaliseer word.

Kotze gebruik die manlike simbool van jag om die rolle tussen man en vrou uit te werk. Die bitterheid oor en opstand teen dit wat van vroue verwag word, kan sy egter nie in woorde uiter nie. Ons lees haar gedagtes en uiteindelik is stilte (letterlike floute) al manier waarop sy haar ongelukkigheid kan demonstreer. Hierdie verhaal behoort gebloemlees te word en dit kan ook as ‘n belangrike voorbeeld vir ‘n soort feministiese analise dien waar die onderhorigheid van ‘n sekere geslag vroue met stille opstand gepaard gegaan het.

Die ou-wêreldse is dikwels die “back-drop” waarteen ‘n verhaal gelanseer word soos in “Maagkoors”, maar terselfdertyd word die eg-menslike na vore gebring. In die slim opneingsverhaal, “Die aartappeleters”, word armoede en vervreemding ondersoek wat van die boek iets byderwets maak, omdat identiteit tans so ‘n “buzz”-woord is in die literêre kritiek.  Die gebruik van Van Gogh se beroemde kunswerk gee aan die verhaal ‘n verdere lading en dit word as’t ware ‘n kortpad om ‘n klomp assosiasies by die leser op te roep oor armoede en die gevolge daarvan. Die moderne leefwyse word eweneens geanaliseer in die aangrypende “Aan die Waterkant” waarin die soeke na hartstog die einde van ‘n huwelik beteken. (‘n Mens sou terloops die verhale kon lees as antwoorde op die sewe doodsondes!)
(In hierdie verband is die voorblad – inderdaad onopgesmuk – ‘n bietjie verbeeldingloos vir ‘n skrywer wat so intens met sub-teks woeker. )

Talle verhale word gekenmerk deur ‘n spanning tussen die morele en immorele, soos “Lyding” wat handel oor “onwettighede en ongeregtighede” (p. 57) en die kleindorpse spanninge wat geskep word omdat mense oor te veel kennis beskik van hul ewemense. Die “klakkelose laster” soos dit genoem word. Dan word die verhaal ‘n knap analise van verval en siekte. Ek ken min verhale waarin die besonderhede rondom kanker se fisiese en psigiese aftakeling so helder beskryf word. Die leser word op ‘n subtiele wyse ingekatrol in die lyding van die karakter.

In “Verwildering” word ‘n stuk volksmitologie – naamlik mense wat sonder tande rondloop en net die valstande in die mond sit wanneer hul eet – ondersoek met ‘n ironiese wending en kommentaar op suinigheid.

Vir my persoonlik is twee van die knapste verhale die ontginning van ‘n gay-man se interaksie met ‘n eensame vrou (“Hy soen nie”) en ‘n ongelooflike analise van ‘n huwelik en swangerskappe (“Die laaste kus”). Kotze verwoord die binnespraak van die onvervulde, die ontstigte, die opstandige vrou met soveel deernis en opstand.

In die laaste verhaal dan is daar ‘n volledige ontwikkeling in die vrou se identiteit. Sy word ‘n skrywer en op ‘n subtiele wyse word die oorhand wat sy gekry het in hierdie manjifieke verhaal beskryf.  Daar is min verhale waarin die ontwikkeling van geslagsrolle so vernuftig beskryf word: hoe die vrou algaande agentskap kry en in opstand kom teen oorheersing, maar terselfdertyd binne die huwelik bly met ‘n nuwe identiteit en nuwe selfkennis. ‘n Mens sou die bundel gewoon kon aanskaf net vir hierdie twee verhale!

Op p. 73 staan daar “opge-blaasde”? Kennelik ‘n setfout.

Dit is ‘n kortverhaalbundel vir diegene wat nostalgies terugkyk, veel het aan eenvoudige waardes en verhale wat subtiel inmekaar steek. Daar is ‘n behendige hantering van binnespraak en subtiele ontwikkeling in ‘n karakter se gemoed.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]