Bladsye / Pages

Wednesday, February 27, 2013

Jaco Botha - Miskruier (2005)



Jaco Botha. Miskruier. Human & Rousseau, 2005. ISBN 07981 4581 1.

Resensent: Joan Hambidge

Jaco Botha is nes Michel Houellebecq. Hulle vertel verhale oor die donker kant van ‘n samelewing wat gereguleer word deur politiek-korrektheid.  Hulle vertel vir jou wat jy weet en vrees op ‘n dwingende manier sodat jy die boek nie wil toemaak nie, maar soms moet toemaak, omdat dit te erg raak. Miskruier neem jou in ‘n futuristiese ruimte in met die ironiese titel “‘n spookstorie”. En dit is ‘n spookstorie, want die roman met al sy analises van ‘n Suid-Afrika, in 2009 onder militaristiese bewind, spóók in jou gedagtes na die lees daarvan.

 Ek moes na sowat elke vyftig bladsye die boek neersit en eers nadink. Tob. Wonder oor die verhouding tussen fiksie en werklikheid en die vaart van die hoofkarakter, Braam Fourie se afdaal in ‘n Kafkaeske hel van dwelms, lokvalle, verraad, geweld, moord en uiteindelike tronkstraf.(Daar is ook verwyings na die ander Fourie in ons geskiedenis: Jopie!) Sy sober gesinslewe (onder andere sy liefde vir sy klein dogtertjie) word geplaas teenoor ‘n donker lewe in ‘n land waar niemand meer omgee nie en mense aan Vigs sterf. En hoe ironies klink alles nie juis nou op met die moord op Brett Kebble nie! ‘n Toekomsroman soos Orwell se 1984 word altyd geplaas in die realiteit, ‘n ‘n presens met ‘n vingerwysing na wat die konsekwensies van ‘n diktatuur of ideologie kan inhou.

Hierdie leser wil onmiddellik haar kaarte op die tafel plaas: die verhouding tussen tekswerklikheid en die werklikheid daarbuite is altyd kompleks en om van hierdie uitsprake, gemaak deur karakters, op Botha se rekening te plaas, sou onregverdig wees. Salman Rushdie en Michel Houellebecq het beide al die prys moes betaal vir die implikasies van hul uitsprake. Dit is egter ‘n komplekser spel tussen fiksie en werklikheid en die eerste eis moet altyd wees: oortuig dit as verhaal?

Op ‘n eerste vlak gaan lesers gru vir die gebruik van die p- en k-woord. Ontspan. Dit word alles geplaas by monde  in en van karakters wat beheer verloor het oor hul lewens in ‘n samelewing waar alles so snel gebeur dat daar geen geleentheid meer bestaan vir nadink of tob nie. Vigs word hier ook as metafoor gebruik in ‘n Johannesburg waar begraafplase so vol geraak het dat mense gedwing word om lyke te veras. En nie meer tyd het om te rou of treur nie.

Ons leef in die tyd van onmiddellikheid. Eerder die Tirannie van Onmiddellikheid en die gevare hieraan verbonde soos Paul Virilio al uitgewys het. En dit is hierdie roman se grootste bydrae. Om die filosofie en belewenis van te veel, te hier, te dadelik, op te vang in ‘n vertelling wat kwansuis met die toekoms te make het. “Things fall apart...”

Botha gaan waarskynlik teëstand en polemiek ontlok. Dit sou mense eerder baat om te kyk na die komplekse spanninge in die teks en weer Roland Barthes se “vraisemblance” te betrek. Of om Vestdijk se teorie van die “glancende kiemcel” te onthou.

Die verteller is die miskruier wat ontsnap. Hy is die een wat nie van die onwelriekende mis van sy waarnemings kan wegkom nie.

Is dit wat ons beleef het dalk net ‘n dwelmvaart? Is dit hoe ons die verhaal ook na interpreteer of is die hoofkarakter/fokalisator al so afgebreek dat hy sy naam en identiteit verloor het? Of is hy in die hel? ‘n Slim truuk wat die vertelling oop en méérduidig maak.

Op bladsy 100 vind die leser immers die duidelikste kode dat alles in hierdie vertelling gaan om “displacement” en die moderne mens se onvermoë om psigies te kan reageer op al die blitsige veranderinge om hom: tegnologie, politiek, ideologie. Ons lees: "Ja. Hy reken dat die lewe so vinnig versnel het dat evolusie nie meer kan tred hou daarmee nie. Ons kry nie kans om die verandering van plek, politieke bestel, tegnologie, whatever, te verteer nie en daarom voel ons onteien en buite beheer – Brandon het gepraat van ‘displaced’”.

Jaco Botha se vermoë om beeldend te skryf (daar is niks boekagtig aan sy seks- of geweldtonele nie) is eweneens lofwaardig. Ligaamlikheid, viscerale reaksie, vomering en wat nog gebeur voor jou. Jy kan alles ruik en voel.

Dit is ‘n puik roman wat ‘n saamlees opeis met Atomised  en Der Prozess.

Botha het in 1997 gedebuteer met In drie riviere en Sweisbril (2000) as kortverhaalskrywer en Die rooi rom@n (1999) was ‘n aanlyn-eksperiment met Etienne van Heerden. Dit is, wat my betref, ‘n roman wat werklik ‘n waterskeiding binne ons prosa aankondig en dit is, soos Henning Snyman skryf, ‘n uitdagende en baanbrekende roman. Onthutsend is die roman, omdat dit ‘n ervaring weergee van ‘n jong mens se sinisme, maar terselfdertyd dwing sy braafheid om daarmee in gesprek te tree, bewondering en respek af.

Naskrif:

Maak u sitplekgordel vas wanneer u hierdie roman lees!

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]