Bladsye / Pages

Thursday, February 7, 2013

Izak de Vries - Byna Liefde (2008)



Izak de Vries. Byna LiefdeTafelberg Uitgewers, 2008. ISBN 978 0 624 04684 4.

Resensent: Joan Hambidge

Byna liefde, die tweede bundel van die kortverhaalskrywer Izak de Vries ondersoek die liefde in al sy (haar?) vorme. Is die liefdesverhaal net die domein van die vroueskrywer? Of kan mans ook liefdesverhale skryf? Teoretici soos Umberto Eco het immers al oor die struktuur van die liefdesverhaal geskryf – en belangrike opmerkings gemaak dat wanneer ons liefde verklaar dan is dit teen die agtergrond van ‘n Cartland-roman. En een van die belangrikste teoretiese tekste oor die liefde is Roland Barthes se A lover's discourse. Dié Franse teoretikus wys op liefhê as ‘n semiotiese tekensisteem wat jou oorweldig: die Geliefde word jou hele universum waarin elke teken jou herinner aan hom / haar.

Byna liefde is geskryf deur ‘n man oor die problematiek van liefhê. In die openingsverhaal “Die engelman” is daar ‘n verwysing na Eco (‘n besliste kode hier) en die verhale dekonstrueer die geykte liefdesverhaal op verskillende wyses. Onder andere deur die verhale dikwels metafiksioneel te maak (soos in “Haar verlange”) sodat ‘n spanning ontstaan tussen skrywer en skryfwerk. Bekende temas van die liefdesverhaal soos die ongehude moeder en ander kodes van Tryna du Toit se Groen koring word in nuwe gedaantes hier aangebied.

Ons het almal menings oor en ervarings van die liefde.

Selfs ‘n afwys van die liefde, is ‘n erkenning van die mag daarvan. Byna liefde neem standpunt in teen die populistiese siening van vir-altyd-en-altyd. Wat gebeur agter die skerms? Of: die verliefde paar moet werk met sweet en moegheid, al sien ander hul aan as ‘n wittebroodpaartjie.

“Die sagkant van ‘n vrou” is ‘n seminale verhaal in hierdie bundel waarin verskillende kulture teenoor mekaar geplaas word. Dieselfde geld “Diepblou”. In die verhale word die leser dikwels gekonfronteer met ‘n weerlose man wat huil of emosioneel voel wanneer omstandighede hom dwing om sy vrou te verneuk. Hier is dus geen Me Tarzan – You Jane-aanslag nie, maar ‘n besondere verwikkelde blik op die man as ‘n gevoelige persoon wat uitgelewer is aan gender-verwagtings waaraan hy nie altyd kan voldoen nie.

Die skrywer ontgin die moontlikhede van die kort-kortverhaal en dit word besonder behendig gedoen in die verhaal “Los kruit” met sy dubbelsinnige titel. Die hele bundel bevat eksplisiete verwysings na manlike en vroulike seksorgane en die skrywende instansie maak telkemale ‘n punt daarvan om daarop te wys dat manlike tepels (byvoorbeeld) ook as ‘n erogene sone gesien moet word. Of hoe die manlike geslagsorgaan daar uitsien tydens die seksuele spel. Dit is duidelik dat die De Vries hier in gesprek tree met buitelandse ‘chick lit’ waarin ons dikwels verneem hoe dinge gesteld is met die vroulike geslagsorgane. 

Pornografies is dit egter nie. Dit is net ‘n eerlike verkenning van presies wat gebeur in die sogenaamde liefdespel. In “‘n Poelpetaterpastei” word die metafiskionele dimensies van die skryfaksie ondersoek na aanleiding van ‘n liefdespel en die leser word uitgenooi om soos in ‘n Koos Prinsloo-verhaal die werklikheidsdimensie te betree, of dit as ‘n blote poets af te maak. Dis ‘n vernuftige verhaal juis omdat verskillende dimensies oormekaar geskuif word en die werklikhede én verswygings (fiksionaliserings) aan bod kom. 

“Once threw a party” woeker met Elvis en gayseksualiteit. Leuens, bedrog, falsifikasies teen die mite dat Elvis dalk nog lewe word knap ondersoek. In die verhaal “Transgressie” bekyk die skrywer die skryfproses en die grensoorskrydende aard daarvan. ‘n Karakter uit ‘n vorige verhaal word as ‘n moontlike karakter gesien wat hierdie verhaal dan as werklik wil aanbied. Maar dis nie net ‘n verhaal nie. Dis ‘n verhaal waarin daar nagedink word oor ‘n film en die problematisering van werklikheid en fiksie, bekend aan die postmodernisme, word hier ondersoek.

Geslagsverandering – natuurlik met ‘n verwysing na Pedro Almodóvar – vra vrae oor wat begeerte behels.  

Byna liefde is ‘n manlike antwoord op Rachelle Greeff se Die rugkant van die bruid.

Verskeie van die verhale het alreeds elders verskyn, soos onder andere in Die mooiste liefde is verby (1999), wat destyds verpulp is weens ‘n plagiaataanklag teen ‘n verhaal in die bundel. Verhale saamgesnoer in ‘n bundel kry egter ‘n nuwe betekenis in ‘n bundel wat maskuliniteite op gedurfde en sensitiewe maniere ondersoek. Dis uiteindelik ‘n boek oor begeerte in al sy gedaantes en selfs internet-‘dating’ en die liefde as ‘n konstruksie word betrek. (En ‘n man getroud met ‘n lesbiese vrou op soek na Ware Liefde. Of is dit begeerte?)

Daar is kragwoorde, maar dit pas in die mond van die karakter of spreker.

In die slotverhaal tree karakters uit verskillende verhale saam op in ‘n ‘after-party’ om die manipulasie rondom skryfwerk te beklemtoon.

Dit is ‘n versameling kortverhale waarin etlike verhale lank na die lees in jou gemoed nawerk. By ‘n handvol sou ‘n mens selfs briljant kon skryf.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]