Arja Salafranca. The thin line. Modjadji
Books, 2010. ISBN 9781920397081.
Resensent: Joan
Hambidge
Arja
Salafranca het reeds gedigte gepubliseer (A life stripped of Illusions en The
fire in which we burn). Saam met Alan Finlay het sy ‘n bloemlesing saamgestel,
glass jars among trees. Sy het al tweekeer die Sanlam-toekenning verwerf en is
tans verbonde aan The Sunday Independent.
The thin
line is ‘n versameling kortverhale wat ‘n mens eenvoudig nie kan neersit nie.
Die
subtiele verbintenisse tussen mense word ondersoek soos vrouens wat saam
koffiedrink, maar mekaar sonder woorde kritiseer, of, met giftige uitinge
aanval; eks-geliefdes wat saamreis en in ‘n vreemde landskap ontdek die
verhouding werk nie meer nie, en sal nooit weer werk nie; ‘n “verhouding”
tussen twee mense wat liefdeloos is en tog uitloop op ‘n desperate seksuele
verkenning; ‘n vrou wat haar manlike geliefde se eks-meisie seksueel begeer,
najaag en ‘n slot wat uitloop op ellende; ‘n ondersoek na vetsug met ‘n jong
meisie wat haarself letterlik doodeet as die sub-teks…
Daar is
verhale oor die spanning tussen kulture: Joods versus Goyim en ‘n verhouding
wat rondom hierdie verskille uitgespeel word. Daar is vrese oor moord en
doodslag en die wete dat geweld alles tussen mense bepaal.
Dit is dan
een van daardie boeke wat jy optel en letterlik nie kan neersit nie.
Die
skrywer vertel jou geweldig baie van die menslike kondisie, van eensaamheid én
die desperate soeke na vervulling in verhoudings, oor “body loneliness”, oor
hoe die gemeenskap dikteer hoe ons moet liefhê en lyk.
Verskille
tussen genders word ook sterk uitgebou. “At the table of the short story” lewer
diepgaande verslag van hoe vroue verskil van mans met betrekking tot eet en
liggaamlikheid. Dit is die soort verhaal wat Julia Kristeva se belangrikste
teorieë oor die verhouding tussen die moeder en kind uitwys. In ‘n eweneens
knap verhaal, “Ten minutes to hate”, word die impak van geweld op private
verhoudings beskryf. En die sterk slot bewys dat Salafranca weet dat ‘n goeie
kortverhaal op ‘n knalslot uitloop.
Daar is
lewenwyshede, van mense wat ontmoet na jare en die verteller besef dat die
vriendskapsontmoeting na jare in wese ‘n bestekopname is en dat bande nooit
weer opgetel kan word nie (“Friends”); dit word eerder ‘n soektog na iets
onbepaalds…
In “Ten
minutes to hate” word ‘n verhouding onder spanning geplaas met ‘n aanval in ‘n
teater. Dit word ‘n wrang kommentaar op hoe die politieke dimensie die private
beïnvloed en karteer.
Indien
iemand eendag hierdie teks sou optel, sou al die sosiale kodes, privaat én
sosiaal, in hierdie aangrypende en goed geskrewe verhale afgelees kan word.
Die
ideale leser is waarskynlik vrouelesers wat vasgevang is in die subtiele
voorskrifte van vrouetydskrifte, maar tog krities daarop reageer.
Vir my was
die groot bonus dat daar ‘n sterk bewussyn is van die struktuur van die
kortverhaal en ‘n implisiete reaksie op die tradisie van die kortverhaal.
In
“Solly Bernstein’s story” ondersoek sy ‘n verhouding wat teen die aard van ‘n
karakter ingaan en hom broos en weerloos laat. ‘n Klein kragtoer. “Desire
without borders”, ‘n selfrefleksiewe verhaal, getuig van soveel intelligensie
oor die skryfproses wat ons sopas in die bundel meegemaak het.
The thin
line aktiveer die broosheid van verbintenisse en hoe alles binne ‘n oogwenk kan
verander. Dit verwys dan ook na liminaliteite, na grense.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]