Bladsye / Pages

Monday, February 4, 2013

Alice Munro - Too much happiness (2009)



Alice Munro. Too much happinessRandom House, 2009. ISBN 978 0 701 183059.

Resensent:  Joan Hambidge


Beste Alice Munro

Geluk met die Man Booker Internasionale prys wat jy ontvang het vir jou werk. ‘n Bekende uitgewer het op ‘n keer die uitspraak gemaak dat dit onsinnig is om boeke te resenseer wat nie deur buitelandse skrywers verstaan kan word nie. Hy het waarskynlik vergeet dat Afrikaanse lesers wél ingelig wil word oor buitelandse publikasies en dat Engelse skrywers al resensies in vertaling gelees het. Die mag van die internet! Jou werk ontlok lof by jou landgenoot, Margaret Atwood en selfs Jonathan Franzen is gaande oor jou jongste teks, Too much happiness. Jy is ‘n belangrike skrywer en op ‘n kort besoek deur Kanada het ek iets ervaar van die landskap wat jy so dwingend en helder beskryf. Dis waarom ek reis: sodat ‘n mens die land of gemeenskap wat beskryf word, kan knoop aan ‘n baken, hoewel die verbeeldingswêreld van die skrywer uiteindelik die deurslag gee aan ‘n geslaagde of goeie teks. As jy skryf oor die wind in Toronto, weet ek presies wat jy bedoel. Dieselfde geld natuurlik jou beskrywing van Vancouver of hoe mense op taalmisverstande reageer.  Ek lees jy woon in Ontario, naby Lake Huron.

Ek hou van jou kortverhale. Hulle is nie verliteratuurd of vol foefies nie. Jy skryf oor die menslike kondisie op ‘n unieke en aangrypende wyse. Jy kan  by uitstek die dubbelspel tussen mense vasvang soos in “Free radicals” waar ‘n ou vrou gekonfronteer word met ‘n moordenaar; of in “Face” waar die wreedhede van kinders intens beskryf word en die een kind as’t ware die ander een se ellende oorneem deur self-mutilasie. En die pyn van die man in “Wood” is outentiek. 

In jou titelverhaal verwys jy na die mag van fantasie in wiskunde via Sophia Kovaleski.
Jou karakterisering en vermoë om die spreekwoordelike “mense van papier” lewendig te maak, is opvallend. ‘n Mens kan die vet Rus hier sien. En jy klim onder die vel in van ‘n werklike figuur, sowel romanskrywer as wiskundige.  Jy bely hoe jy toevallig op haar lewensverhaal afgekom het toe jy na ander inligting gesoek het! Hierdie stukkie sinkronisiteit – dalk toeval? – bewys weer dat ‘n verhaal op die regte tyd na ‘n skrywer toe kom. Jy beskryf immers die verhouding tussen die twee mense met soveel insig. Dis net ‘n vroueskrywer wat daarop sal wys dat ‘n vet man in die bed ligvoets sal wees, nie waar nie?
Ek skryf hierdie brief net nadat bekend geword het dat ‘n onbekende skrywer bekroon is met die Nobelprys vir letterkunde. Wat maak jy hiervan?

En ja! Jou manier waarop jy kommentaar lewer namens ‘n karakter wat gekonfronteer word met domheid het my laat glimlag: Her ignorance woke a pleasure that melted on his tongue, like a lick of toffee.''

Glo jy regtig dat letterkunde die lewe beter maak soos sommige van jou karakters glo? Of dat romans vir vrouelesers bedoel is?

Jy laat ‘n karakter Heine lees om iets beter te begryp. Op ‘n ander plek vertroos ‘n verdrietige gedig.

Jy maak ook ‘n opmerking oor die waarde van die kortverhaal, ‘n genre wat vele lesers dikwels as minderwaardig beskou, terwyl groot skrywers juis in hierdie kortkuns al by uitnemendheid groot werk gelewer het. Jou kortverhale, soos die genoemde slotverhaal, is eintlik meer as kortverhale. Dit is amper novelles.

Ek het jou die eerste keer in die New Yorker ontdek waar jy beskou word as die Kanadese Tsjekof. Nogal ‘n kompliment: want dit is immers hy wat die bewussynstroom-tegniek begin het en atmosfeer kon skep in sy verhale.

Dit presteer jy ook. In “Deep-holes” analiseer jy spanninge in ‘n gesin en die afbraak van ‘n persoonlikheid. Wanneer hierdie seun toevallig deur sy suster op TV raakgesien word en die moeder weer vir Kent ontmoet, lewer subtiele kommentaar op hoe mense dikwels iets anders wil wees as wat die ouers van hul verwag. Jy laat aan die leser oor om te besluit: was hierdie optrede aanvaarbaar? En so sny jy op jou leser se eie familiegeskiedenis en – herinneringe in.

Daar is immers al tien uitgebreide studies oor jou gedoen én ‘n kritikus het van jou geskryf dat jy soos ‘n goeie adres is; niemand wonder meer oor jou nie.

Jy werk puik met die geheim, of dit wat die vertelling veral in vrouefiksie voortstu. ‘n Mens kan nie help om te wonder wáárom die kamerbediende nie met mense wil praat nie!

Groete,

Joan Hambidge


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]