Bladsye / Pages

Wednesday, January 23, 2013

Welma Odendaal - Vreemdeling: ‘n keur uit die kortverhale (2010)



Welma Odendaal. Vreemdeling: ‘n keur uit die kortverhale. Human & Rousseau,  2010. ISBN 978 0 7981 5257 0.

Resensent: Joan Hambidge

Welma Odendaal beklee ‘n uitsonderlike posisie binne die Afrikaanse kortkuns. Sy het op 23 jarige ouderdom gedebuteer met Getuie vir die naaktes. Haar lewe is deur haar skryfwerk gekompliseer: die SAUK het haar afgedank, die tweede bundel Keerkring is verbied en dit as die dae van Donga (waarvan sy redakteur was) en paranoïa. En in geval julle vergeet het: ‘n telefoonoproep kon die SAUK stilmaak, ‘n prys ophef óf mense se lewens versuur wat “andersdenkend” was. Dit het ingesluit van alternatiewe politieke oortuigings tot gay-wees. Dit was die dae (diep sug) van Frits Gaum wat in Die Kerkbode mense betig het vanuit ‘n dawerende hoogte. O sit dit af, sit dit af.

Vir my is daar sekere verhale wat ek nooit sal vergeet nie: soos “Mamy Blue” (uit Getuie vir die naaktes), “Baker” (uit Keerkring), “My pa” (uit Verlate plekke) en “Goodwood” (uit Landskap met diere). As ‘n jong student was haar eerste bundel saam met Piet Haasbroek se Roofvis voorgeskrewe werke en die enorme impak van hierdie skryfwerk kan nooit ongedaan gemaak word nie. Welma Odendaal word waarskynlik, ten onregte, eerder onthou as omstrede skrywer as goeie skrywer. En omstredenheid kan dikwels ‘n skrywer se reputasie skeeftrek.

En wanneer verhale jou geraak het as jong leser, is jy altyd versigtig om dit weer te lees. Juis omdat jy vrees dat jy as ouer, sinieser, meer ontwikkelde leser teleurgestel sal word, lees ‘n mens swaar aan so ‘n boek. Dus het ek begin met die “golden oldies” en die dubbele leesposisie ingeneem van toe en nou.

“Mamy Blue” bly ‘n fantastiese verhaal oor die seksuele inisiasie van ‘n meisie wat dink sy dans met ‘n man, maar dan ontdek dat dit ‘n vrou is. Die skok (selfs vir ‘n deurwinterde leser soos die uwe), bly steeds poëties en kragtig in aanbod. Daardie uitreik na die “warm vlees van die nag” en die refrein van die liedjie Mamy Blue bly steeds kragtig, al sou dit vir ‘n jonger geslag en meer blasé-lesers moeilik wees om te begryp hoe dinge in die sewentigerjare was.

“Baker” weer vang die energie op van die struggle-jare en die onsekerhede van die oorgang van ‘n wit na ‘n swart regime.  “My pa” is eweneens steeds ‘n verhaal wat ‘n mens met onthutsing lees. Al die ingeboude implikasies in hierdie teks spoel uit op ‘n slot wat ‘n mens aan die keel gryp. Die vader, om verskeie redes, weer sy eie dood af. Dit word so subtiel vertel dat ‘n mens met elke herlees nog ‘n betekenis raak-boor. “Goodwood”, nog ‘n gunsteling-verhaal, is weer ‘n hartgrypende verhaal oor mense se lewens en buite-sisteem-ervarings.

Op die agterblad word Petra Muller (sic!) aangehaal wat verwys na die verhale soos volg:”it sings like a telegraph pole in the veld”.

Welma Odendaal slaag die toets van die geslaagde kortverhaal: al is die temas retro, en al het die gegewe verander, moet die verhaal steeds die leser bly aanspreek. En die egte kortverhaalskrywer is ook iets van ‘n digter. In “Baker” word ‘n oempa-orkes se “vuurwarm blaasritme” beskryf (77) en “My pa” ruik na “nat gras en speserye” (95).

En die digterlike aanslag kry sy reg. Steeds reg. Vele kortverhaalskrywers waaroor die ramshorings nou geblaas word, kan gerus by hierdie vrou gaan kyk hoe daar ekonomies met woorde gewerk word en ‘n verhaal lank na die lees nog in die gemoed bly draal.

En dit noem ‘n mens die vermoë om met sub-teks te werk. Trefseker is die inleiding tot die verhaal wat ‘n mens dadelik uitnooi om verder te lees.

Die slot van die klassieke verhaal “Die wit chevvie” wys hoe ekonomies en beeldend sy beskryf. Sy maak van haar leser ‘n vertroueling, asof sy met jou praat wanneer sy beskryf: daar links van die jakaranda en daar ver, sodat jy medepligtige word. Hierdie verhaal werk met ‘n netwerk van spanninge: sibbe-stryd en seksuele identiteit wat alles by implikasie vertel word. Die leser lig ook met ‘n duimnael die kap van die wit Chevvie om meer te wete te kom.

Soos Jeanne Goosen verwoord Welma Odendaal die lot van die werkersklas, in hul eenvoud en eerlikheid, en in hierdie opsig is “Noot vir Noot” (uit Landskap met diere) eksemplaries van haar besondere blik. Sy sien nie neer op hulle nie, nee sy teken hulle vasgevang in hul lewenslot.

Vir die navorser is daar ‘n nawoord: “In enkele gevalle het ek selfs oorgeskryf”, bely die outeur wat net elke 14 jaar publiseer, aldus die inleiding wat tereg opmerk dat suggestie haar forte is.

‘n Lekker stuk navorsing vir ‘n nagraadse student wat tekste wil vergelyk.

[Hierdie resensie het vantevore in Die Burger verskyn.]