Bladsye / Pages

Wednesday, January 23, 2013

Kerneels Breytenbach (Samest.) - Blou Maandag (2010)



Kerneels Breytenbach (Samest.) Blou Maandag. Tafelberg Uitgewers, 2010. ISBN 978 0 624 05389 7.

Resensent: Joan Hambidge

Ons onthou almal, wel diegene van my jare, die mixed grill (allegaartjie): tjops, wors, steak, eiers, tamatie. Soms met skyfies en tamatiesous. En dit is presies die indruk wat hierdie versameling van verhale, sketse, anekdotes, bespieglinge, repe, fantasieë, essays, amper-rubrieke laat.  Dit gaan alles om die blou Maandag, die blues, so onthoubaar beskryf in The Boomtown Rats se “I don’t like Mondays”.

Dit val nie te betwyfel nie dat hierdie boek vir verskillende lesers met verskillende smake saamgestel is. Daar moet bely word dat ek hierdie bloemlesing in een sitting deurgelees het en die verskillende aanslae rondom die onderwerp “blou Maandag” geniet het. Party is nou wel miskien ‘n bietjie in- en aangepas rondom die onderwerp, maar nietemin boeiende leesstof. Die plesierigste bydrae – en ander lesers sal waarskynlik ‘n ander een uitsonder, net soos wat jy hou van jou steak mediumgaar of halfgaar - is die slotbydrae van Kerneels Breytenbach:”Dis alles Anneline se skuld”, ‘n komiese quest na die wortel van alle kwaad. Nou wil ek nie die grap se slot verklap nie, maar dit is vintage-Breytenbach: selfspot, humor, subteks oor ‘n joernalis (hyself) wat moet uitvind of dit wáár is dat De Wet van Rooyen vir Anneline Kriel leer soen het op die stel van Somer. Sy beskrywing van ‘n ete aan’t huise van Tommie Meyer het my laat bulder.

“n Maniese Maandag” van Deborah Steinmair werk weer met fantasie en ‘n analise van hoe geweld insypel op mense se ervarings. Die grap hier word galgehumor. Peter van Noord ontroer weer in “Die winter van ‘98”, terwyl jy voel dat Bun Booyens ‘n roman moet skryf oor sy weermagjare. So ‘n slot wat jou tussen die oë moker, getuig van iets (“In die army was álle Maandae blou”). Dieselfde geld Van Noord: daar skuil nog iets agter hierdie vinjet.
Schalk Joubert en Ollie Viljoen is nie net musiekmakers nie, maar hulle kan boonop vertel. Joubert se analise van ‘n langafstand-verhouding is vol in die kol. Hy vergelyk dit met ‘n strandhuis wat opruiming eis en nes dit alles reg is, begin dit reën en dis tyd om te vertrek (“Skoonma se kaas”).

Hierdie soort bydraes steun vanselfsprekend rondom die bekende se persoonlike aanslag oor ‘n onderwerp. Koos Kombuis se aweregse humor en Deon Maas se verby-alle-grense-eerlike-aanslag is hier. Vir Elma Postma-aanhangers is daar ‘n bydrae en Lizz Meiring bekoor te verwagte. Yvonne Beyers verras met ‘n vars blik op die moeder-dogter-verhouding waar die kyk na ‘n video “die stilte van ‘n verlede verbreek”. Om nie te praat van Peter Veldsman se vernuftige selfspot nie!

J. Hillis Miller het op ‘n keer gepraat van “reading as eating” en dat die leser ‘n teks benader asof hy ‘n spyskaart lees. Eers die voorgereg, dan hoofgereg en uiteindelik die nagereg.

En ‘n mens mag volgens Peter Veldsman nie uitspoeg nie; maar jy mag sekerlik darem ‘n teks met ‘n tweede of derde lees ‘n mis gee. Almal kan ongelukkig nie by die naam genoem word nie en ‘n mixed grill het nie in ons kafee slaai of sterk drank saam bedien nie.
Maar daar is sterk stemme soos Martie Retief-Meiring, Toast Coetzer en Douwleen Bredenhann se verrassende bydrae. Bekendes soos Janie du Plessis en Dave Pepler gooi ook ‘n lekker draai en Philip de Vos is op sy humoristiese beste. Nes my ou gunsteling: Chutney de Ridder (Pieter Redelinghuys). ‘n Mens sou ook iets kan vra oor bekende rubriekskrywers of skrywers wat nie hierin verskyn nie?

Ek hou van sulke versamelbundels, omdat dit uiteindelik tydsdokumente word. In verskeie tekste is ‘n pap selfoon die rede vir ‘n katastrofe of ‘n e-pos stel iemand aan die kaak.
Breytenbach stel sy bydraers flink en met min woorde bekend aan die leser. In die voorwoord staan daar:”Daar’s ‘n ou gesegde wat lui ‘n mens kan nie oor jouself skinder nie”.

Daar is 35 bydraes wat uiteenlopend in aanbod is. Party bydraes sal waarskynlik nie hul man kon staan as afsonderlike stukke in byvoorbeeld ‘n tydskrif of koerant nie en dit is juis dan die interessante aspek van hierdie boek dat verskillende verhale mekaar beïnvloed en op mekaar inspeel.

Dis ‘n boek wat verskillende smake sal bevredig. ‘n Propperse allegaartjie. Partykeer is die steak weliswaar ‘n bietjie na my smaak ‘n bietjie aan die dun kant, maar die werklike goeie bydraes maak wel deeglik hiervoor op.

[Hierdie resensie het vantevore in Rapport verskyn.]