Bladsye / Pages

Wednesday, January 23, 2013

T.T. Cloete - Onversadig (2010)




T.T. Cloete. Onversadig. Tafelberg, 2010. ISBN: 978-0-624-04903-6

Resensent: Joan Hambidge

In hierdie groot worp van ‘n digbundel wat Onversadig heet, word die leser bekoor met die enorme talent van die digter T.T. Cloete.

Toe hy in 1980 met Angelliera gedebuteer het, noem Opperman dit “koningskos”. En die leser word nooit versadig met Cloete se “heilige nuuskierigheid” of Idiolek nie. Die gedigte getuig van belesenheid, intelligensie en die vermoë om disparate dinge saam te snoer. Die paradoks van menswees, van die klassieke letterkunde tot nou, word onder die loep geneem. Die digter skryf oor ‘n Dakar-tydren (satiries), die sokkerwaansin en die soeke na God op ‘n aangrypende wyse. Die gedigte word gekenmerk deur ‘n tegniese beheer, flink hantering van ryme en dubbelladings in gedigte. Selfs in klein gedigte soos die vers oor Maria Callas word ‘n kunstenaarskap in ‘n paar reëls vasgelê:

maria callas

party sê ag nee wat daar is te veel metaal
in jou stem. ander sê jy is ’n nagtegaal
daar is ’n tweede kuns maria
spaar jou stem as jy die onverdraagsames verdra
(107)

Die gesprekke met ouer tekste in Afrikaans, soos “Heimwee?” wat ‘n kragtige parodie is van die bekende lied wat Mimi Coertse wonderlik vertolk en ‘n  gesprek met Toon van den Heever se Op die Hoëveld, bewys hoe eietyds, modern die digter kan dig:

Op Toon se Hoëveld
The times they are a-changin’
Bob Dylan

Op die Hoëveld, waar dit oop was, en die hemel ver daar bo,
waar kuddes waaigras gehuppel het oor die veld
kon jy die aarde ruik en aan ’n bestemming glo… (73)

Die beeldvers oor Theo Wassenaar, “Foto van Theo Wassenaar”, (79) is eweneens op die digter self van toepassing: met sy Psalmberymings en herdigtings word tekste uit die vergeetboek gehaal. Cloete het immers al Marilyn Monroe teen Dante geplaas en dit is hierdie jukstaposisies wat sy verse so dwingend en goed maak.

Die gedigte oor die liefde en dood, is besonder hartgrypend. Die digter skryf oor die geliefde vrou se dood en hiermee verander hy iets aan die tradisie van die funeraire digkuns deur die oorsaak van die dood én die pynlike agteruitgang te beskryf. Dit gaan in teen die dekorum van hierdie soort gedig wat nie die redes vermeld nie.
In “fragmente van die onvolledige gedig” (159) skryf hy:

mense beslym gedigte in die smet
van hulle alledaagse gesprekke
hulle trap daarop en loop dit stukkend
met die wonders van hulle voete
die boer ploeg dit argeloos om
hy roei dit uit as plae

‘n Soort sinisme oor die effek van die digkuns word hier verwoord, wat weer in ‘n ander gedig sy korrektief vind wanneer die digter bely dat daar niks nuuts onder die son is nie en dat tekste ‘n nuwe lewe kry in ons weergawes. Vanaf die Psalms, Salomo, nee verder terug, word die wisselvalligheid en weerloosheid van die menslike bestaan beskryf in die interdigterlike spel wat nooit ophou nie:

17 (Akhenaton: Hymn to Aton en Sint Franciscus: Canticle of the Sun)

met geringskatting van die nasies word
onmerkbaar langsaam en sag
fluisteringe van die een dag in die ander dag
millennium ná millennium uitgestort
Achnaton en Franciscus is op ’n interdigterlike plek
binne die fanakalo se poëtiese taal
skoon glansend bonasionaal
buite tydruimte…
(70)

Vir die fynproewer is daar intratekstuele verwysings binne bundel- én oeuvreverband. Die gedig oor ‘n vrou praat terug met die verruklike vers oor Marilyn Monroe gestulp in haar stilte (Angelliera).

Die temas is ryk en geskakeerd (van Rembrant tot Uitkomsgerigte onderwys, van molle tot Dakar, van kraanvoëls tot die buitenste ruimte, van Hendrik Biebouw tot ‘n bonsai). Ook die styl wissel: satiries, nostalgies, ironies, skertsend, speels, droef, parodies, gedistansieerd. Die vorme, soos ‘n mens by ‘n meester verwag, is eweneens verskillend in aanbod: van die klein kwatryn tot ‘n magtige vrye vers met metriese en ritmiese patrone netjies in beheer gehou. Die verwysings te veel om op te noem: Achilles en Priamus en Sofokles en die hele santekraam van die mitologie maak hier duidelik en by implikasie ‘n draai. Nader by ons: Van Bruggen, Wassenaar, Toon van den Heever, Van Wyk Louw en altyd: Leipoldt, ‘n digter wat regdeur hierdie oeuvre saampraat. Ek hoor in die lykdigte die verdriet van ‘n Totius, ek sien die beheer van ‘n Opperman.

Om op 86 so te kan dig: trefseker, helder, intelligent en aangrypend, verdien alle lof. Dis ‘n uitgebreide feesmaal hierdie digbundel.

Met sy debuut het hy die landskap van die Afrikaanse digkuns verander. Met sy jongste bundel, wat 196 bladsye beslaan, bewys hy opnuut sy meesterskap en sy invloed onder andere nou onlangs op Tom Gouws se bundel Ligloop (Human & Rousseau) en die gesprek met Vermeer dui verder op sy belangrike posisie.
‘n Digter met epigone en navolgers is groot.

[Hierdie resensie het vantevore in Rapport verskyn.]