Bladsye / Pages

Monday, January 21, 2013

Kobus van Rooyen - A South African Censor’s Tale (2012)



Kobus van Rooyen. A South African Censor’s Tale. Protea, 2012.

Resensent: Joan Hambidge

Hierdie boek is ‘n verslag van Kobus van Rooyen se lang verbintenis met die Appèlraad van die Publikasieraad vanaf 1980 – 1990. Hierna het hy voorsitter geword van die uitsaaiwese se klagtekomitee. Hy is ‘n ideale ombudsman. Nie alleen is hy ‘n vooraanstaande regsgeleerde wat eerstens die werkinge van regskomitees en dus beginsels snap nie, maar hy is die kunste goedgesind. Hier te lande is ‘n bloedige stryd gestry om vryheid van spraak en skrif en die jongste ANC-manewales veroorsaak uiteraard onrus by diegene wat weet wat ‘n gemuilbande pers kan inhou. Oom Koot Vorster, Lammie Snyman, Jannie Kruger is vandag net (vergete) name wat deur hierdie tydige en handige tydsdokument aan die vergetelheid ontruk word. Die boek word deur Protea uitgewers as outobiografie gepubliseer en bemark met ‘n inleiding deur André P. Brink wie se Kennis van die aand die eerste Afrikaanse boek was wat verban is en gelei het tot die totstandkoming van Taurus-uitgewers. Die verslag van Kobus van Rooyen word deur speelse sketse van Marinus Wiechers vergesel. Hierdie boek ontsluit die invloed van Die Bybel, die patriargie en taboes op die Afrikaner-psige. Dit is skokkend, selfs amusant om te lees hoe mense nie in staat was om buite bepaalde boksies te dink en reageer nie.

Nie alleen gee die outeur vir ons ‘n oorsig van die donker tye van die sensuurraad nie, maar hy wys ook op die wonderlike satiriese uitdagings waartoe dit aanleiding gegee het. Pieter-Dirk Uys en Robert Kirby het dikwels in hulle tekste juis die grense verder gedruk. Scope se verkope is paradoksaal deur hierdie benoude sisteem bemark. Vele anekdotes en grappe (moet name soos Nigel en Kakamas ook verbied word?) laat die leser glimlag, nes die belaglike kwessie rondom ‘n boek in Engels versus ‘n boek in Afrikaans wat twee verskillende reaksies uitlok.

Kas van den Berg het ook in ‘n rubriek uitgewys dat ‘n man ‘n vrou in Engels, maar nie in Afrikaans kon bed toe neem nie. Van Rooyen se intelligente hantering van die omstrede film The Omen en John Miles se Donderdag of Woensdag imponeer. Hy was ook in staat om die kaf van die koring te skei. Indien ‘n boek net vir ‘n koterie van lesers bedoel is, soos ‘n Breytenbach-bundel of ‘n roman van John Miles, behoort daar anders geoordeel te word. Dubbelsprake wys hy ook uit. Sodat I.L. de Villiers en Anna M. Louw nie eensgesind was met Merwe Scholtz se uitspraak oor Kennis van die aand nie. Geknoeiery van literatore kan ‘n mens tussen die lyne aflees.

D.H. Lawrence word aangehaal met sy bekende opmerking dat om aan ‘n kunswerk te sny sou wees om aan jou eie neus te sny! As jong mens het die sensuursisteem presies die teenoorgestelde uitwerking op my gehad: dit het my juis bewus gemaak van al die snitte en die verbeelding het dus presies gelet op daardie stiltes of afwesighede. Hoeveel jong mense het nie juis Kennis van die aand in koshuiskamers gelees of biblioteek toe gesnel kwansuis vir navorsingsdoeleindes ten einde ‘n verbode teks te kan lees nie! ‘n Mens raak plek-plek wel bewus van die probleme waarmee Van Rooyen opgesaal was. Dit was immers ‘n staat wat ook ‘n noodtoestand kon afkondig, ‘n magtige Broederbond gehad het en ministers wat paraat was met hulle boelie-tegnieke.

Die werklike ellendes begin egter met politieke films soos Cry freedom! Die skrywer se huis word bestook met vuur en daar is allerlei speletjies (soos vals advertensies in ‘n koerant dat sy huis in die mark is) en ander emosionele geweldpleging. Hy oorleef dit alles en imponeer telkemale wanneer hy oor omstrede onderwerpe skryf soos ‘n saak van kinderpornografie teen ‘n navorser en valse beskuldigings teen ‘n gesiene filmkritikus.

Kobus van Rooyen het waarskynlike stommerike help begryp dat daar iets soos ‘n volwasse gehoor bestaan en dat ‘n mens die knoppie van TV kan afskakel of ‘n boek kan toemaak as dit jou nie behaag nie. Hy wys ten slotte op die paradigma-verskuwing wat plaasgevind het: van nee tot ja; van wantroue tot vertroue; van fundamentalisme tot realisme en ten slotte, van despotisme tot demokrasie.

[Hierdie resensie word afgedruk met vriendelike vergunning van Fine Music Radio & die resensent.]