Bladsye / Pages

Monday, January 21, 2013

Hans du Plessis - Die pad na Skuilhoek (2012)



Hans du Plessis. Die pad na Skuilhoek. Lapa Uitgewers, 2012. ISBN 978 0 7993 5161 3.

Resensent: Joan Hambidge

Die pad na Skuilhoek van Hans du Plessis word op die agterblad tipeer as fyn liefdesvertelling, spannende pioniersverhaal én wordingsroman oor ontluikende seksualiteit. Die boek word deur Petra Müller en Jeanette Ferreira aangeprys.

Ferreira is die skrywer van die Die son kom aan die seekant op (2008) waarin sy Trichardt se dagboek (1836) as basis vir haar roman gebruik.

Die vlotgeskrewe roman van Hans du Plessis aktiveer die Van Jaarsveld-geskiedenishandboeke uit my jeug en ‘n mens sal uiteraard kon vra: waarom is daar nou so ‘n belangstelling in die Voortrekker-geskiedenis? Is dit nostalgie of is dit ‘n poging om te verstaan wat nou om ons aan die gebeur is?

Ferreira se insigryke en inspirerende roman oor Trichardt se Kladboek het die basis gelê vir ander populistiese romans wat op ‘n hoogs leesbare wyse hierdie gegewe aanpak en vir die leser oopmaak. As jong kind wat skoolgegaan het in die sewentigerjare, is die Voortrekkers se gegewe geromantiseer en die dramatiese tonele by Vegkop en Bloedrivier bly vandag nog smeul in die onbewuste.

Die pad na Skuilhoek word bemark as ‘n roman vir jong volwassenes. Die vraag is of jong lesers met hierdie outydse gegewe sou identifiseer? Dit is dalk eerder bedoel vir diegene soos ek wat blootgestel was aan daardie geskiedenis op skool en nou ‘n gederomantiseerde weergawe daarvan wil lees.

Die leser word bekend gestel aan rassespanning en geweld. Name soos Meester, Bybeltjie en Vryheid representeer ‘n bepaalde tydvak waar begrippe soos staning eweneens ‘n gelade betekenis het. Swart mense is nasies of “die volk” (205). Hier is daar dus ‘n waarheidsgetroue weergawe van hoe wittes ander mense gesien het.

Die seksuele word subtiel verbeeld met die volgende beeldspraak:”Voor hulle knetter hulle vuur” (217). Daar word verwys na “ou seun” en “oom Hendrik Potgieter” wat eweneens die tydvak raak opsom.

Daar is ‘n handige outeursnota vir die speurende leser en ‘n indrukwekkende bibliografie. Die verteller (fokalisator) se taalgebruik val presies in die karakters se monde, behalwe eenkeer word die begrip “krities” gebruik wat binne die konteks te geleerd klink.

Die roman gebruik die gegewe van die Matabeles wat in die nag van 23 Augustus 1836 ‘n staning Voortrekkers uitgewis het. Net twee jongmense (Lourens en Petronel) en hul vriend, Vryheid oorleef en hulle is die hoofkarakters in die verhaal.

Die prosa is gestroop en sonder fieterjasies. Dit beslaan 240 bladsye. Dit is keurig versorg en sonder enige taalfoute wat vele romans tans ontsier.


Liefhebbers van historiese romans sal hierdie roman besonder boeiend vind. Die roman is soos ‘n diorama.

[Hierdie resensie het voorheen in Beeld verskyn en word afgedruk met vriendelike vergunning van die resensent.]