Bladsye / Pages

Tuesday, January 29, 2013

Ingrid Winterbach - Die benederyk (2010)


Ingrid Winterbach: Die benederykHuman & Rousseau, 2010. ISBN 978 0 7981 51474.

Resensent: Joan Hambidge

Die Algeryns gebore Franse filosofoof Hélène Cixous gebruik die term “nostalgeria” om ‘n verlange na ‘n verlore paradys en jeugdige onskuld te beskryf. By die skrywer Ingrid Winterbach / Lettie Viljoen vind ons eweneens ‘n besondere hantering van die nostalgie en ‘n soeke-na-verlore-tyd (tye), onder andere beskryf in haar Boereoorlog-romans soos Buller se plan en Niggie. In Karolina Ferreira tref die leser weer die sterk metaforiese lading aan van die vertellende instansie. In Roman Jakobson se terme het hierdie outeur se skryfwerk al hoe meer metafories gelade geraak, maar terselfdertyd ook meer plot-gedrewe. In Die boek van toeval en toeverlaat word die leser genoop om ‘n hele simbolesisteem te ontfutsel in ‘n soort faux-speurverhaal.

Die jongste roman, Die benederyk, met sy sterk onderbewustelike ladings vertel die verhaal van twee broers. Aaron en Stefaans Adendorff. Die een ‘n skilder en die ander ‘n eks-verslaafde. Onmiddellik roep die verhaal Patrick White se The solid mandala op en die sterk assosiasies met die “benederyk”. Die grimmige en burleske – á la Etienne Leroux – meld sig ook hier aan in ‘n karakter met die naam Bubbles! Ons word egter ook herinner aan Thomas Man se Josef en sy broers met die analise van familie-verwantskappe en –verbintenisse.

Saul Bellow se Herzog is eweneens ‘n tersaaklike interteks in die vermenging van die banaal-gewone en die filosofiese verwysings wat die verhaal ‘n dieper dimensie gee. Die teks stel besondere eise aan die leser se vermoë om die verskilende lae uit te wys.

Die verwysings na Goya en Beuys aktiveer ‘n kunsteoretiese dimensie wat ‘n ingebedde vraagstuk is waarmee die roman worstel. Ook dood en siekte kom aan bod: die dood van die moeder (waarvan Stefaans terugdeins) en Naomi se afsterwe. Knuvelder, die galeris, soos Aaron word geteister deur siekte. Aaron het boonop drie niere en Susan Sontag se Illness as metaphor word so geaktiveer, terwyl How we die (174) ingebed is in die roman. (Dit slaan weer terug op ‘n die bekende passasie in Karolina Ferreira.) Dit is ‘n teks van opoffering en psigiese stryd. 

‘n Sentrale vinjet is die reis wat onderneem word na die Prado, maar die sketse is nie beskikbaar nie. "Die ryk van die skadu’s" (Goya) is ‘n sterk “benederyk” in hierdie teks wat gesinkopeer word met ‘n familie-romanse (in Freud se terme). Die verlore seun; die broer Benjamin; die moeder se verhouding met die “filosoof” Reinecke; Josua se verhouding met sý vader; trouens die hele komplekse landskap van die familieboom word hier uitgewerk en selfs Bybelse toespelings kan gevind word in die verhoudinge tussen ouers en kinders. Gefnuiktheid, teleurstelling, onvervuldheid – dit is die gevoel wat by die leser gelaat word by die lees van hierdie komplekse roman. 

In Stefaans, een van Winterbach se sterkste karakters nog, word die fyn waarneming van die verlede gefokus. Hy is die fokalisator en “getuie” wat in fynste besonderhede kan onthou. Die roman is metafories gelade geskryf met herhalings van motiewe. Die leser word ‘n argeoloog. Veral Freud se siening van die onbewuste word geaktiveer en sy sieninge van die latente en gemanifesteerde aard van drome. Stefaans se worsteling met sy demone ontsluit ‘n kragtige stuk vertelling.

Met elke lees ontdek jy ‘n ander laag: moderne romans, psigoanalise, kunsteorie, familieverbintenisse, sieninge oor die dood . Thomas Mann se Joseph and his brothers is ‘n sentrale interteks (223), ‘n roman wat Stefaans volgens Aaron toegeëien het om sy verhouding met die moeder te probeer begryp en sy posisie binne die familie. Die besondere sketsing van hierdie ambivalente verhouding en sy implisiete insestueuse implikasies, kon in die hande van ‘n mindere skrywer ónoortuigend gewees het. Trouens, die roman het my teruggeneem na Totem and taboo en Freud se Dora-saak. Thomas Mann ontgin mitologie en sentraal in hierdie roman is die beskrywing van die onderwêreld. Joseph / Osarsef / Osiris word deur Stefaans gedra. Winterbach op haar beurt betrek weer moderne mitologie (van Bubbles Schroeder, die Katzenjammer kids, Kierkegaard, ensomeer) om ‘n tafereel te skep van die komplekse invloed wat ouers op kinders het, selfs ná hul dood. Faulkner se Absalom, Absalom! is weer ‘n belangrike interteks via Stefaans om die verhouding tussen Reinecke en sy seun te begryp. 

Aaron se worsteling om ‘n kunsuitstalling versus Stefaans se terugkeer uit die hel van verslawing en waansin is die twee pole waarom die roman gekomponeer is. Via Dante, Milton, Blake en uiters briljante interpretasies van sjamanistiese ervarings word die siening van self en selfloos(heid) geteken. Die beskrywing van die Australiër se worsteling met self (en niks) op bladsye 269 – 270 is vintage-Winterbach. Die romanskrywer se poëtiese aanslag is opvallend wanneer Stefaans aan die woord is. Die orde en chaos word verteenwoordig deur die twee broers en die ryk, geskakeerde verwysingsraanmwerk sal vir die speurende en argeologiese leser vele skatte inbring. Soos die verwysings na skilders en beeldende kunstenaars: Goya, Beuys, Schnabel en Rieff se teorie van “deathworks”. Louise Bourgeois se siening van kuns as wraak is eweneens tersaaklik, nes die Bybelse verwysings na Rut, Saul, Josef, Lasarus en Jesus. Zen en sjamanistiese wyshede word eweneens aangetref. Faulkner, Bellow, McCormac laat ook van hul hoor en verder terug: Melville se Moby Dick as ‘n klassieke “quest”-roman. En verder terug: Inanna se reis na die hel. Die vroulike skrywer as ‘n Inanna wat afdaal na die hel om haar kreatiewe antwoord te gee op skryf/familieskap, is nog ‘n leesmoontlikheid. En rites wat deur die Vrymesselaars en AA-ontmoetings vergestalt word, waaier weer terug na ou rituele en inisiasies. 

Ingrid Winterbach is ‘n vóórtreflike skrywer en haar laaste twee romans het sterk storielyne, maar sy fokus steeds op tersaaklike intertekste wat haar romans uiters pakkend maak. Die slot voeg alles goed saam met Harris se lot (ek wil nie meer verklap nie) waar die motiewe van dood/kuns en waansin bymekaarkom.

In ‘n letterkunde waar werklik goeie romans skaars is, moet hierdie teks uitgesonder word as ‘n hoogtepunt. Vir hierdie leser is dit tot op datum Winterbach se grootste prestasie as romanskrywer. Vir die speurende leser is dit ‘n lonende en verrykende ervaring.’n Groot skrywer verander jou siening oor die lewe en jou psigiese landskap.Dit presteer hierdie boek. 

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]