Bladsye / Pages

Thursday, January 31, 2013

Henrietta Rose-Innes - Homing. Umuzi (2010)



Henrietta Rose-Innes. HomingUmuzi, 2010. ISBN 978 1 4152 0134 3.

Resensent: Joan Hambidge

Henrietta Rose-Innes het al die Caine Prize vir skryfwerk in Afrika en PEN-toekenning ontvang. Sy het ‘n spesiale plek ingeneem binne die Suid-Afrikaanse letterkunde en haar romans Shark’s Egg en The rock alphabet het ‘n goeie ontvangs geniet. Op die voorblad van Homing is daar ‘n stad en voëls wat vlieg. ‘n Toespeling dalk op die eendjies teen die muur in ‘n burgerlike huis wat in hierdie verhale op sy kop gekeer word. Rose-Innes wys dikwels op die bars in die muur. Haar vertellers of fokalisators fokus dan op dit wat agter die fasade skuilhou. Oor die undertow (103) of waters waarin ‘n karakter swem en getransformeer word deur ‘n aanraking (62).

Rose-Innes is ‘n gevoelige waarnemer en haar verhale gee dikwels ‘n nuwe perspektief op ‘n alledaagse werklikheid. ‘n Jong skrywer versoek dat ‘n gevestigde skrywer na haar manuskrip kyk, maar sy word ontnugter met sy lewe agter die skerms. Die leser word reeds van die begin af op haar tone gehou wanneer die verteller aankondig dat wanneer ‘n verhaal begin met ‘n hoë gebou, gaan dit val. Hier is die val dan nie ‘n letterlike een nie, maar eerder die ontnugtering (of vernugtering) wat sy deurmaak wanneer sy op vlug slaan met haar manuskrip onder die arm. Sy het helaas ‘n blik gekry op die geweld in sy lewe. Sub-teks is eweneens ‘n tegniek wat sy behendig hanteer in die vertelling “Tremble”: ‘n jeugervaring in ‘n swembad word later tydens ‘n naweek weg geaktiveer. Gebeur die aanraking werklik of beweeg die vrou terug in die jeugervaring? Die leser word telkens gedwing om terug te gaan en klein aanwysings weer te volg.

In ‘n verhaal soos “Forensic” kry ‘n mens die volle impak van die skryfster se talent om binne die kort omvang van die verhaal die wending in iemand se gemoed te beskryf. Met ‘n slot waarin die verandering die karakter se gemoed konkreet voorgestel word. 

Kortverhale, ten beste, werk dikwels soos gedigte waarin die dénouement met ‘n beeld weergegee moet word. Hier is dit die losmaak van ‘n lint om die nek wat die onstemmende ervaring, wat sowel deur die karakter as die leser meegemaak is, ‘n vergestalting van die verandering in die gemoedslewe. In “Burning buildings” word die onderliggende geweld en kompetisie tussen twee kunstenaars uitgespeel deur ‘n miniatuur-kasteel te verbrand. Een wat boonop met vuurhoutjies gebou is! Die resente sokkerwaansin word in ‘n verhaal “Star” ondersoek. Dit word uiteindelik veel meer as ‘n verhaal oor sokker en ‘n ou vrou, ene Mevrou Engelbrecht, se naïewe reaksie daarop. Dit word ‘n verhaal oor al die vreemdelinge wat ons tans in hierdie stad huisves en ‘n boeiende ondersoek na swendelary. In ‘n verhaal soos “The good daughter” illustreer die skryfster hoe goed sy met die donker dieptes van ‘n karakter kan identifiseer en ‘n geloofwaardige verhaal kan skep wat met elke lees aan implikasie wen.

Wat ‘n kopieskrywer dink in “Promenade”, kan op hierdie tekste van toepassing gemaak word: I notice things in great detail” (156). En of dit nou ‘n vrou is wat tydelik in ‘n hotel skuilhou of ‘n winkeldief, telkens klim die outeur onder die vel van die karakter in. Jy beleef alles vanuit daardie perspektief en met oortuigende beskrywings van die emosionele landskap van die fokalisator. Die waarheidsgetrouheid waarmee die stad en sy mense beskryf word, maak die verhale hoogs leesbaar. Met elke herlees wen die verhale aan dieper betekenisse. Dikwels is dit karakters vasgevang in ‘n oorgangsproses of transformasie; in liminaliteit soos die gonswoord dit in die literatuurteorie dit beskryf. Net een kritiese vraag: Is die stereotipiese opmerking oor die Afrikaner-familie in die verhaal “Poison” dan relevant?, wonder ‘n mens. Of is dit met opset gedoen? Juis by ‘n skrywer soos Rose-Innes wat wegskram van die maklike invalshoek, het hierdie leser so ‘n beskrywing steurend gevind.

Die erkenningslys agterin gee vir die leser ‘n aanduiding hoe wyd sy al gepubliseer het en die styl van die verhale word tereg op die agterblad as “sparse, sparkling” beskryf. Die meeste van die verhale is so sterk dat ‘n mens nie dadelik kan oorbeweeg na ‘n nuwe verhaal nie. Jy moet eers asemskep én nadink. Henrietta Rose-Innes het haar kleim afgesteek op Kaapstad en sy skryf helder en beeldend oor hierdie stad soos Ivan Vladislavic oor Johannesburg doen.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]