Bladsye / Pages

Wednesday, January 23, 2013

Harold Bloom (Ed.) - Till I end my song: A gathering of Last Poems (2010)



Harold Bloom (Ed.). Till I end my song: A gathering of Last Poems. Harper, 2010. ISBN 9780061923050

Resensent: Joan Hambidge

Die agterblad praat van die literêre reus. En dit is Harold Bloom bepaald met al sy studies oor Yeats en Wallace Stevens, sy verbluffende werke oor die Kabbala en sy allerbelangrike tekste oor hoe digters ruimtes vind vir hulself in The anxiety of influence (1973) en A map of misreading (1975), prosesse gekoppel aan primordialiteit, die Gnostiek en psigoanalise. Hy het die konsep “revisionism” en “misreading” gemunt binne hierdie leesaksie. Omstrede is hy ook oor sy keuses, wat sterk esteties bepaal is in veral The Western Canon (1994). Idiosinkraties ja, maar belese en hartstogtelik oor lees.

Till I end my song – A gathering of last poems is ‘n gerf van gedigte wat digters aan die einde van hul lewens geskryf het. Bloom op 79 is bewus van sy eie naderende dood en dit is ‘n versameling wat versoek om saam met Camille Paglia, sy student, se Break, blow, burn (Pantheon, 2005) gelees te word. (Sexual personae is onder sy mentorskap voltooi.)

Hierdie boek word gerig deur estetiese maastawwe en is uiteraard ‘n persoonlike keuse, gerig deur die samesteller, ‘n kundige en sensitiewe leser van die digkuns, se soeke na troos in die ouderdom. Dit word vergesel deur min of klein kanttekeninge. Onder andere lees ‘n mens by sy keuse van Robert Lowell hoe hy die digter herontdek het nadat hy hom verloor het tydens Lowell se oordrewe belydende fase. En dit is hierdie erkenning dat ‘n kritikus kan teruggaan op sy woord of oordeel, wat die bloemlesing fassinerend maak. By Wallace Stevens bely hy hoe hy bevriend geraak het met sy dogter Holly en hoe hy haar ná haar dood as ‘n belangrike vriendin, steeds bly mis. Hy stel die kuns van Stevens gelyk aan Walt Whitman en Emily Dickinson, ‘n stelling waarmee hierdie leser volledig akkoord gaan.

Daar is drie soorte laaste gedigte: letterlik die laaste; ander was bedoel as die laaste, maar dan het die digter steeds bly dig en ten slotte gedigte wat gelees kan word as dit wat in die verbeelding as ‘n einde beskou was deur die digter.

Hy haal Montaigne aan die groot essayis wat geskryf het dat ons nie tyd moet verkwis op die dood nie. Wanneer die tyd aanbreek, sal ons weet hoe om dit goed genoeg te hanteer.

Tipies Bloom word daar gekonstateer dat daar geen metode is nie, net jouself. Dis jy wat lees en jou oopstel vir verskillende digters en digsoorte, vir die klanke en stiltes van die gedig.

Dit is duidelik dat die ouderdom erkennings, herkennings en boetedoenings insluit. Hy is byvoorbeeld genadig teenoor Eliot as digter, ‘n figuur wat hy in sy literatuurkritiek nie altyd na waarde geskat het nie en Eliot word hier goed verteenwoordig met “Little Gidding”. Daar is nog skop in die oubaas, want hy beweer dat Eliot gesien kan word as die beroemdste en mees invloedryke digter van die 20e eeu, maar dat hy as literêre kritikus oor die perd getel is. Bloom se tweeluik, The anxiety of influence en A map of misreading, reken in wese af met Eliot se sieninge oor die digterskap.

Frost, Lowell, Elizabeth Bishop, Anthony Hecht, Randall Jarrell, verder terug, Dylan Thomas, Delmore Schwartz is hier.  Vir langer uitgebreide en “close reading” van gedigte word die leser verwys na Paglia se Break, blow, burn, maar vir ‘n byeenbring van laaste gedigte van groot digters word hierdie boek met absolute entoesiasme aanbeveel. Dit is nog net in hardeband beskikbaar en kos R200 vir 100 gedigte.

Hierdie gedig van Lowell is die soort briljante gedig wat ‘n mens hier vind:

Epilogue
Robert Lowell

Those blessèd structures, plot and rhyme –
why are they no help to me now
I want to make
something imagined, not recalled?
I hear the noise of my own voice:
The painter's vision is not a lens,
it trembles to caress the light.
But sometimes everything I write
with the threadbare art of my eye
seems a snapshot,
lurid, rapid, garish, grouped,
heightened from life,
yet paralyzed by fact.
All's misalliance.
Yet why not say what happened?
Pray for the grace of accuracy
Vermeer gave to the sun's illumination
stealing like the tide across a map
to his girl solid with yearning.
We are poor passing facts,
warned by that to give
each figure in the photograph
his living name.

En dit titel? Ja ek sien ook die dood met sy sekel…

[Hierdie resensie het vantevore in Die Burger verskyn.]