Bladsye / Pages

Wednesday, January 23, 2013

Breyten Breytenbach - Die beginsel van stof (2010)



Breyten Breytenbach. Die beginsel van stof. Human & Rousseau, 2010. ISBN 978 0 7981 5221 1.

Resensent: Joan Hambidge

Die beginsel van stof deur Breytenbach is ‘n ryk geskakeerde digbundel waarin die digter se talent om lewe en dood saam te stel, asof dit een saak is, na vore kom. Die taalvermoë in hierdie bundel is dan by uitnemendheid ryk en soos Henning Snyman in die binne-flap skryf: "As Afrikaans ‘n segsman in poëtiese vorm nodig gehad het om die taal se literêre en seggingsmoontlikhede opnuut te bewys, hier is dit”. En Snyman is ‘n gevoelige leser van die digkuns wat die semantiese geledinge van simbole en primordialiteit kan ontsyfer.
Breytenbach is ‘n waterskeidende digter en ‘n unieke stem: epigone en nabootsers klink gewoon laf (en flets) in pogings om hom na te boots.

Sy unieke metaforiek, sy besondere ontginning van idiome en uitdrukkings, sy inspeel op ‘n tradisie wat buite die Afrikaanse letterkunde lê, maak van hierdie bundel ‘n genoeglike ervaring. Hy is ‘n verkleurmannetjie en hierom die verskillende identiteite en maskers. Reeds die voorblad suggereer iets hiervan: dit heet “autoportrait ‘jour’”. ‘n Voël in ‘n manspak of uniform? ‘n Kraai met die alsiende, draaiende oog? Die kraai wat die oë kan uitpik? Die raaf van die dood? Die verbeelding hardloop: nom de plume? Pluim? Veertjie in die hoed? Die Woordfoël (fool) wat ons aantref as ‘n alter ego in die bundel. Hy roep homself ook Bitterblaf.

Die selfportret is egter ‘n belangrike kode vir die leser van die bundel. In “jaarbrief” 53) vind ons ‘n voorbeeld die digter se verbluffende beeldvermoë. Die bundel het te make met veroudering:

die whisky in my vaatjie het verouder
tot ‘n soet amandelsmaak. Die wyn is diep
en rooi en groet my met die vertroudheid
van gedigte wat ek vir die eerste keer lees (55)

Daar is dus ‘n terugkeer na die jonger digter en ‘n bestekopname van ‘n ryk, beleë digterskap. Die hele wêreld word as ‘n mandala ervaar (57). 
“Soos ontvleesde klinkers in ‘n stanza” (64) word daar opgemerk en die spel tussen werklikheid en digkuns loop reg deur die bundel.

Lykdigte soos “Boetman, boetie, broer” vir Chris Louw (69) en ‘n gedig vir Van Zyl Slabbert (“Clifton”, 79) ontroer. “kroos” (72) handel oor sy familie, die ontslapenes en lewendes: met die digter wat konstateer dat skryf sy job is.

“brief (oorgang)” is ‘n somber selfgesprek en die meeste verse bekoor om die ongelooflike beelde wat die digter skep. Vele van die verse is ars poëties en gedigte buig dikwels terug op die skryfproses. In veertien sonnette bewys die digter hoe eiesinnig hy met hierdie vorm kan toor.

‘n Mens vind dikwels deernis, maar ook woede – veral teen die huidige politieke misdrywe en Mbeki word by die naam genoem. In nomadismes vind ons fragmente, bykans haikoe-agtige verse, waarin die digter klein lewenswaarhede vir ons aanbied.

Daar is net een Breytenbach: weergaloos in sy besondere beeldvermoë en sy voortdurende soeke na nuwe woorde, nuwe gedigte waarin die lewe en dood saamgedig en selfs ómgekeer word. Op die agterblad word die impak en belang van die digkuns aangrypend weergegee:

Liewe gedig, bly by my.
Moet my nie nou so na aan die einde
in die steek laat nie. Ons kom al baie stories saam
oor jare en getye, deur lande en landskappe en liefdes
en geheime kamers waar galge getroon het,
van die een masker na die ander
apestreek of apostroof of begrafnis. Wie ken my beter?  

(“weglêbrief vir gedig”, 34).

In verse soos “al die gewig van woorde”(41) en “die voor-gedig” (42) tree in gesprek met ander verse waarin die skryfproses ontmasker word: die blote buitelyne van ‘n gedig is dit maar. Terseldertyd is dit in die gedig, soos Auden se dictum dubbelsinnig pleit, (“For poetry makes nothing happen”) waar die heling tog gebeur. Die skryfdaad word ook aan ekskresie gekoppel (“onthougoed”, 59). Die talle selfgesprekke is aangrypend en ‘n bewys dat die digter besig is met ‘n soort digterlike testament.

Dit is een van daardie bundels waar ‘n mens bykans uit elke gedig iets wil aanhaal om jou ekstase te verwoord. Hierdie bundel word opgedra aan die ontslape broer, Basjan wat al in ander bundels besing is en aan wyle Van Zyl Slabbert.

[Hierdie resensie het vantevore in Die Volksblad verskyn.]