Bladsye / Pages

Monday, January 21, 2013

Dalene Müller & Sebastian Pistor - Skryf Afrikaans van A-Z (2012)



Dalene Müller & Sebastian Pistor. Skryf Afrikaans van A-Z: Die essensiële gids vir taalgebruikers. Pharos , 2012.

Resensent: Joan Hambidge

Hierdie gids is vir die joernalis, skrywer, dosent of enige ander persoon wat met taal werk (is dit die regte werkwoord?) ‘n noodsaaklike hulpmiddel. Vra maar enige dosent: mense weet nie meer wanneer om los of vas te skryf nie. Trouens nou onlangs het ‘n tweedejaarklas in ongeloof geluister na die gebruik van die begrip Plusquam perfektum. Kan ‘n mens praat van was gewees? Nee jy kan nie. Erger nog, niemand wis wat vir ‘n ding is die Plusquam perfektum nie.

Faan Pistor en wyle Dalene Müller is hier te danke vir die blou Bybel. Die herbewerkte uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls wat in 2009 verskyn het, het meegebring dat hierdie handleiding dienooreenkomstig aangepas moes word.

In die vorige voorwoord is daar verwysings na die taalslaggate waarin mense trap en die insette van J.J.J. Scholtz. Ook word die leser uitgenooi om op tekortkominge in die teks te wys. Goed so, want taal is iets wat verander of transformeer. Ons praat immers nie meer soos wat mense gepraat of geskryf het ‘n paar dekades gelede nie.

Die boek beslaan 767 bladsye met ‘n handige indeks. Daar is selfs woorde wat aanstoot gee, opgeneem en nou onlangs het ‘n model op twitter ‘n raspejoratief getwiet.
Hier kan jy lekker lees.

Vir my as skrywer is waarskynliik die handigste afdeling die lys persoonseiename. Wat maak jy met ‘n Russiese naam in Afrikaans? Aleksander Isajewitsj Solzenitsin kan jy hier tjekkereer. Of Sjostakowitsj.

Waarskynlik een van die belangrikste afdelings is dié oor kommas en kommapunte. Lande, Streke en Plekke help ook: geweet dat die inwoners van Arnhem is Amhemmers! En dat die byvoeglike naamwoord is Arnhemse. En beslis nie Bay of Pigs nie, maar Baai van Varke.

Daar is aanwysings oor hoe woorde verkeerd gebruik word: soos trauma wat dikwels met ‘n swaar hand aangewend word, terwyl benoude oomblik gepas sou wees (251). Slagysters soos toegeeflik en toeskietlik word verduidelik: toegeeflik beteken om inskiklik te wees, terwyl toeskietlik beteken jy is welwillend (248). Dosente sal byvoorbeeld kan getuig dat terselfdertyd by jong studente dikwels die r mis. Is dit omdat die woord so gehoor word? Of woorde wat nie meervoude het nie (soos tekstiel, 244).

Daar is sinvolle opmerkings oor transliterasies, algemene foute in skryfwerk en redigering, en ‘n heerlike afdeling oor Kaapse vernakulêre Afrikaans en ‘n stuk of 70 woorde word hier opgeteken. Die tyd is inderdaad ryp vir ‘n verklarende woordeboek van KVA. Byvoorbeeld mol vir wedywer; oulik maak vir jy weet wat! En die mooiste een: om te piemp, is om te verklik. Varkoor gooi beteken om af te luister. Voetjies hang beteken om op iemand anders te teer…

Skynbare beuselagtighede, daardie klein jakkalsies wat die wingerd verniel, word hier aan die stert gegryp.

Ek hou daarvan om woordeboeke en gidse te lees. Hierdie boek is soos W.A.M. Carstens se Norme vir Afrikaans en Piet du Toit en Wanda Smith-Müller se Stylboek riglyne wat ‘n mens se styl verbeter.

Dit is ‘n wonderlike gids en een wat jou daarop attent maak: jy is nooit te oud om te leer nie.

[Hierdie resensie word afgedruk met vriendelike vergunning van Fine Music Radio & die resensent.]